Tuesday, 14 July 2009

Kaperkoeëls mis 2 babas net-net

Mev. Adri Saaiman en haar ma, mev. Elsa Pieterse, met die tweeling, Megan (links) en Christian. Foto: Sonja van Buul

Jul 14 2009 08:34:23:583AM - (SA)

Sonja van Buul

Vanderbijlpark. – ’n Kaperkoeël het gister tydens ’n wilde jaagtog en skietery deur ’n vier maande oue baba se karstoeltjie getrek en haar met millimeters gemis, terwyl ’n koeël ook deur haar tweelingboetie se stoeltjie en blou kombersie is.

Dié koeël het deur die leë voorste passasiersitplek getrek, van die paneelbord weggeskram en hul ouma skrams teen die linkerskouer getref waar sy haar liggaam as skild probeer gebruik het om die babas te beskerm.

Intussen het hul ma agter die stuur gejaag vir al wat sy werd is.

“Jy hoor die skote, maar ek het nie ’n idee gehad waar die koeëls heen is nie,” het mev. Adri Saaiman (23) van Vanderbijlpark gister oor hul dramatiese ontkoming gesê.

Sy en haar ma, mev. Elsa Pieterse (52) van Mooiwater, was om 10:15 van dié kleinhoewe-gemeenskap met die tweeling, Megan en Christian, op pad dokter toe in Vanderbijlpark. Pieterse was op die agtersitplek tussen die twee karstoeltjies, wat met die babas daarin vasgemaak na agter gekeer was.

By ’n stopstraat het ’n man met ’n R5-geweer na hulle toe geloop. “Ons was by die Mullerstuine-kruising op die Olga Kirschpad tussen Vanderbijlpark en Potchefstroom toe ek hom skielik opmerk. Hy het my motor se linkervoorband pap geskiet toe hy sien ek is van plan om weg te trek,” het Saaiman gesê.

Die jong ma het verby ’n ouerige, maroenkleurige Hyundai- of Nissan-sedan gery wat haar wou voorkeer en in haar wit Toyota Fortuner weggejaag.

Volgens Saaiman het sy ’n voorsprong opgebou terwyl hul aanvaller by minstens vier ander mans in dié motor geklim het, maar hulle was vinnig weer op haar spoor.

“Die motorkapers het van die stopstraat sowat 2,5 km ver agter ons aangejaag en heeltyd geskiet.”

Volgens Saaiman het sy met pap band en al “gery om voor te bly”.

“Hulle moes net nie langs my kom nie.”

Intussen het Pieterse haar kleinkinders met haar liggaam bedek. “Adri het net geskreeu: ‘Hulle hou nie op skiet nie!’ ” het sy gesê.

Die man met die R5-geweer het glo tydens die jaagtog by die motorvenster uitgehang om op hulle te skiet.

Volgens Saaiman het die bestuurder van dié motor in die ry ook met ’n handwapen op hulle losgebrand. Hy het glo selfs ’n rukkie lank met ’n oop motordeur gery en geskiet.

“Die mans het hul agtervolging gestaak toe mev. Saaiman vinnig by ’n padstalletjie van die pad afgetrek en hulp gesoek het,” het insp. Kinnie Steyn, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die vermeende motorkapers het so 200 m voor die padstalletjie op ’n grondpad na Bophelong afgedraai en gevlug.”

Altesame vier koeëls het die Fortuner getref. Pieterse het net ’n skaafmerk teen haar skouer opgedoen van die koeël wat haar skrams getref het.

“Dit is ’n bestiering van Bo. As jy na die koeëlgate kyk . . . dis millimeters,” het mnr. Gert Saaiman (31), die tweeling se pa, gister gesê.

Steyn het mense met inligting oor die voorval gevra om insp. Jakes Jacobs by 0 082 319 9653 te bel.

“Die verdagtes is gewapen en moet as gevaarlik beskou word,” het sy gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2538484,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.