Wednesday, 22 July 2009

Koeël by 1 heup in, by ander heup uit

Jul 20 2009 09:05:47:023PM - (SA)

Fanie van Rooyen

‘Gee ons die sleutels en die remote!”

Dit is wat ’n lid van die gemeenskapspolisiërings?forum (GPF) van Pierre van Ryneveld in Centurion eergisteraand voor sy huis gehoor het voordat hy in die heup geskiet is.

“Hulle het hom nie eens kans gegee om te maak soos hulle sê nie, hulle het hom net eenvoudig geskiet en toe sy sakke deurgesoek,” het mev. Ronel Botha (47) gistermiddag by die Unitas-hospitaal in Lyttelton gesê terwyl haar man, mnr. Jan Botha (51), geopereer is. Droë bloed moes gister uit mnr. Botha se bobeen gesny word nadat die koeël by sy een heup in en by sy ander heup uit is.

“Ons is net bly hy leef,” het mev. Botha gesê. “Gelukkig het die koeël sy organe gemis en net sagte weefsel beskadig.”

Mnr. Botha is van die maatskappy GeoVision SA.

Hy was volgens sy vrou omstreeks 18:15 eergister besig om die gesin se motors te skuif toe hy deur twee gewapende rowers, wat vermoedelik oor die muur gespring en in die tuin weggekruip het, oorval is.

“Hy het pas sy Subaru geskuif en uit die motor geklim om my motor te skuif toe hy hoor hoe iemand agter hom gil vir die sleutels,” het mev. Botha vertel.

“Hy het omgedraai en in twee gewapende mans vasgekyk. Die volgende oomblik het een van hulle hom eenvoudig geskiet.”

Die rowers het mnr. Botha se sakke deurgesoek, sy selfoon en sy vrou en seun se motorsleutels gevat en sy horlosie van sy arm afgehaal. “Daarna het hulle die hek van sy spoor afgetel, in my seun se grys Opel Corsa gespring en weggejaag,” het sy gesê.

Mev. Botha, wat besig was om aandete te maak, het uitgehardloop toe sy ’n harde slag hoor.

“Ek het gedink hy het die kar gestamp, maar toe ek buite kom het ek gesien hoe Jan op die grond lê en hoe twee mans hom deursoek,” het sy gesê.

“Ek het hard gegil en een van hulle het omgekyk en sy pistool op my gerig.

“Ek het by die huis ingehardloop, die voordeur gesluit, my 17-jarige seun, Ruan, gegryp en in die badkamer gaan wegkruip.”

Mnr. Botha het ná die tyd aan haar gesê een van die rowers het aanvanklik agter haar aangehardloop toe sy die huis in gevlug het.

“Ons het die GPF per handradio ontbied en binne vyf minute was omtrent ses motors by ons huis.”

GPF-lede het die Corsa, wat ’n toestel in het wat die enjin laat uitsny as dit nie gedeaktiveer word nie, sowat vyf blokke van die Botha-gesin se huis gekry.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2540456,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.