Sunday, 26 July 2009

Man getref maande ná moord op ouers

Jul 23 2009 08:15:55:850PM - (SA)

Hilda Fourie

Minder as vier maande nadat sy ouers vermoor is, is mnr. Wim van den Bosch eergisteraand deur ’n misdadiger in die bors geskiet en ’n plaaswerker doodgeskiet.

Van den Bosch se ouers, Johan (63) en Cobi (60), is op Goeie Vrydag op hul kleinhoewe in Mooiplaats, in die ooste van Pretoria, vermoor. Van den Bosch sr. is by sy melkstal oorval en met ’n swaar voorwerp oor die kop geslaan.

Sy vrou is in hul huis oorval en met ’n skerp voorwerp in die bolyf gesteek.

Van den Bosch jr. en nog inwoners van Mooiplaats het eergisteraand ’n vergadering met die polisie op ’n kleinhoewe in dié gebied gehad toe hulle skote gehoor het.

Een van die mans het ’n buurman wat twee kleinhoewes verder bly, gebel om te hoor of alles by hom reg is. Die buurman het gesê hy is nie tuis nie, maar sal sy werker bel om te hoor of alles reg is.

Hy het oomblikke later teruggebel en gesê hy kry die werker nie in die hande nie.

Almal by die vergadering is toe na die kleinhoewe sowat 300 m daarvandaan.

“Ek en ’n ander ou is aan die een kant om die huis, terwyl die res aan die ander kant om is,” het Van den Bosch gesê.

“Toe ons halfpad om is, het ek iemand gesien wat ’n flits op ’n buitegebou skyn. Ons was sowat 15 m van hom af en het aangeneem dis die plaaswerker.

“Hy het gesê daar is iemand binnekant (die buitegebou). Toe hy dít sê, het hy ’n skiethouding ingeneem.

“Ek het my lyf gedraai, want dit was donker. Ek kon nie net skiet nie. Toe klap ’n skoot.”

Van den Bosch is regs in die bors getref en na die Wilgers-hospitaal geneem.

Hy is gister ontslaan.

Supt. Gavin The-Kisho, stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor, het gesê die werker is dood in ’n pomphuisie aangetref. Hy is deur die lies geskiet.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2541422,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.