Saturday, 11 July 2009

Rowers slaan bejaarde man dood

Jul 10 2009 08:32:47:490PM - (SA)

Fanie van Rooyen

’n Bejaarde man van Wonderboom-Suid in Pretoria is vermoedelik met ’n stuk yster doodgeslaan nadat hy gewapende rowers betrap het terwyl hulle by ’n meenthuis ingebreek het.

“Ons het gedink ons bly in ’n besonder veilige buurt, maar kyk nou. Dit is so wreed en onnodig, dis vir my baie erg,” het mev. Ilize Maree (47), dogter van mnr. Louis Prinsloo (80), gister gesê.

Prinsloo se lyk is eergisteraand omstreeks 18:30 deur inwoners van die Valentine-kompleks op die gras in ’n tuin voor een van die meenthuise gevind.

“Die eenheid waar hy gekry is, behoort aan mense wat tans oorsee is,” het Maree gesê.

“Dit is naby my ouers se meenthuis en my pa het vir dié mense ’n ogie oor hul meenthuis gehou.

“Hy het elke aand gaan kyk of als daar nog reg is.”

Prinsloo het vermoedelik op twee gewapende rowers afgekom wat besig was om by die eenheid in te breek.

“Die polisie sê een van die rowers het hom met ’n stuk yster doodgeslaan, maar hulle is baie vaag en ons weet nie regtig wat gebeur het nie,” het Maree gesê. Die rowers het vermoedelik hierna gevlug.

“My ma het ná ’n rukkie gewonder waar my pa is. Sy wou uitgaan om hom te gaan soek, maar is deur bure en ander inwoners van die kompleks voorgekeer.

“Hulle het reeds geweet wat gebeur het en het vir haar gesê sy moet eerder nie soontoe gaan nie omdat dit ‘nie mooi is nie’.”

Maree, wat ook in Wonderboom-Suid woon, het kort ná die moord by haar ouers se woning opgedaag.

“My een suster is in die Kaap en my ander suster is in Kanada, so ek was die enigste een wat my ma kon gaan bystaan,” het sy gesê.

“Dit is vir haar baie swaar en sy sukkel om dit te verwerk.”

Albei Maree se susters is op pad na Pretoria om te help met die begrafnisreëlings.

Konst. Portia Maleka, polisiewoordvoerder van dié streek, het gister gesê sy kon niemand van die Sinoville-polisiekantoor opspoor wat die voorval kon bevestig nie.

Die polisiewoordvoerder van die Sinoville-polisiekantoor kon ook nie vir kommentaar bereik word nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2537768,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.