Saturday, 11 July 2009

Tragiese einde aan uitstappie na Harties

Jul 06 2009 08:23:54:577PM - (SA)

Linda de Beer

’n Bende rowers het ’n eiendomsagent eergister in die vroeë oggendure koelbloedig by die Hartbeespoort-rusoord met ’n jaggeweer in die rug geskiet.

Mnr. Chris Lubbe (46), eiendomsagent van Boksburg aan die Oos-Rand, is in die hoofslagaar getref nadat die koeël deur een van sy longe is.

’n Doktersvriend het gespook om sy lewe te red, maar hy het hom binne vier minute op die toneel doodgebloei.

Die rowers het ’n motorruit stukkend geslaan en gehamer aan ’n venster van die woonwa wat Lubbe met mnr. Frikkie Cloete, sy lewensmaat van die afgelope 22 jaar, gedeel het.

Lubbe het waarskynlik uitgegaan om te sien wat aangaan.

Mnr. Francois du Preez, een van sy vriende wat die naweek saam gekampeer het, het gister vertel hy het net ’n “geweldige blink lig” gesien toe Lubbe geskiet is.

Hy het Lubbe vroeër buite hoor skreeu en het die deur oopgemaak van die woonwa waarin hy geslaap het.

“Chris het halfpad in die woonwa gelê. Ons vermoed hy het teruggehardloop toe hy sien die man is gewapen.

“Die dokter het hom probeer stabiliseer, maar daar was niks wat hy kon doen nie,” het Du Preez gesê.

Die rowers het vroeër ook ’n gesin by ’n ander staanplek in hul woonwa oorval en van juwele, bankkaarte, klere, kontant en selfone beroof, het insp. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Die man en vrou van die gesin is albei met klippe in die gesig gegooi.

Volgens Tselanyane was drie rowers betrokke. Hulle was met ’n jaggeweer en messe gewapen. Dié rowers is waarskynlik deel van ’n bende wat die laaste tyd ’n skrikbewind in die omgewing voer.

’n Jong man is later eergisteroggend by ’n kuierplek langs die Silkaatsnek-pad blykbaar met dieselfde jaggeweer geskiet.

Verskeie motorruite is glo ook by dié kuierplek stukkend geslaan.

Die bende het Donderdag ook by ’n ander rusoord toegeslaan.

Mnr. Carel Fourie, bestuurder van die Hartbeespoort-rusoord, het gesê die woonwapark lê aan die voet van ’n berg wat baie bebos is.

Die oord, wat wes van die Hartbeespoortdam op die pad na Brits geleë is, het veiligheidswagte en waghonde, maar “ons sal 100 wagte moet kry as ons al die moontlike inkomplekke wil toemaak”.

Fourie het gesê grondeienaars van die omgewing het gister met die polisie vergader oor die ondersoek na dié en ander voorvalle in die omgewing.

Du Preez het gesê Lubbe was lief vir die natuur, kampeer en visvang. Hy was een van die topeiendomsagente by Achiever Properties in Boksburg.

Lubbe was aktief betrokke by die Reformerende Kerk in Johannesburg, waar hy tesourier van die kerkraad was.

Cloete, balju van Boksburg, was eergisteraand ná sy lewensmaat se dood in die kerk, want “Chris sou dit só wou hê”.

’n Gedenkdiens vir Lubbe word Donderdag om 14:00 by die Sunward Park NG gemeente in Boksburg gehou.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2536388,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.