Wednesday, 22 July 2009

‘Wil julle vandag sterf?’

Jul 19 2009 08:13:28:923PM - (SA)

Hilda Fourie

‘Is jy nóú gelukkig?”

Dít was die woorde van ’n rower nadat hy eergisteraand ’n dokter van Evander in Mpumalanga geskiet het.

Dr. Neville Mills (63) het uit sy kamer gehardloop gekom nadat sy vrou, me. Ria Mills (61), geskreeu het toe ’n rower gedreig het om hul verlamde seun, dr. Cival Mills (34), te skiet.

Cival, wat aan inkluissindroom ly, kon niks doen toe twee rowers eergisteraand omstreeks 23:00 in hul sitkamer, waar hy en sy ma op hul skootrekenaars gewerk het, ingestorm het nie.

Hy is bykans agt jaar gelede verlam toe sy motor ’n paar honderd meter van die Shongwe-hospitaal naby Malalane in die Laeveld waar hy gewerk het, teen ’n boom gebots het.

Sedertdien is hy vasgevang in ’n liggaam waarvan hy net sy oë en sy linkerhand se duim en wysvinger kan beweeg.

Cival het bekendheid verwerf nadat hy sowat twee jaar gelede as die wenner van Mpumalanga se Fundza for Fun (Lees is Pret) se skrywers-kompetisie vir sy boek, This too will pass, aangewys is.

Dit het hom vier jaar lank geneem om dié boek met sy linkerduim op ’n skootrekenaar te skryf.

Hy het ook ’n rekenaarmuis ontwerp wat hom in staat gestel het om met sy een vinger net so vinnig te tik soos voordat hy verlam is.

Mev. Madie Dittrich (27), ’n prokureur van Pretoria, vertel die rowers se eerste woorde aan haar ma en broer was: “Wil julle vandag doodgaan?”

Volgens Dittrich het haar ma vir die rowers gesê om alles te vat.

Hulle het Cival se selfoon, wat hy om sy nek dra, afgeruk en ’n vuurwapen teen sy kop gedruk.

“Hulle het vir my ma gesê hulle gaan hom (Cival) skiet,” het Dittrich gesê.

“My ma het geskree. My pa, wat op sy bed gelê het, het opgespring en na die sitkamer gehardloop.

“Toe die rowers hom sien, het hulle hom geskiet.

“Hulle het toe vir my ma gevra of sy nou gelukkig is.”

Terwyl Neville op die vloer gelê en bloei het, het die rowers mev. Mills en haar seun se fone en skootrekenaars geneem en rustig by die skuifdeur waardeur hulle ingekom het, uitgegaan.

Volgens Dittrich het haar broer probeer om die rowers met sy rolstoel te stamp, maar sy ma het hom gekeer.

Neville is per ambulans na die Unitas-hospitaal in Centurion gejaag waar sy nier tydens ’n ses uur lange operasie verwyder is. Sy maag, wat deur die koeël getref is, moes ook herstel word.

Hy sterk tans in die hoësorgeenheid aan. Dittrich het gesê dit gaan onder omstandighede goed met haar ma en broer, maar albei is nog erg getraumatiseer.

Supt. Abie Khoabane, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Die verdagtes is steeds op vrye voete.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2540163,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.