Saturday, 15 August 2009

3 skuldig nadat dwaalkoeël meisie eis

Aug 15 2009 02:16:05:763AM - (SA)

Daniëlla du Plooy

Die drie mans wat verhoor is weens die moord op die 12-jarige Emily Williams, is gister in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind.

’n Dwaalkoeël het Emily in Februarie verlede jaar tydens ’n skietery tussen rowers en veiligheidswagte in Fairland, Johannesburg, in die kop getref.

David Busakwe (29), Innocent Skotseni (29) en Shadrack Showe (34) het vroeër skuld ontken op die aanklagte en aangevoer hulle was nie dié dag naby die moordtoneel nie.

Hulle is aangekla van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en is gister skuldig bevind op al dié klagte.

Mnr. Andrew Sanders, eienaar van die huis wat die oggend van Emily se dood beroof is, het vroeër getuig hy en sy dogter, Alison (nou 13), Emily se vriendin, is die oggend buite hul motorhuis deur die mans oorval.

Die rowers het hulle met ’n vuurwapen aangehou, vasgebind en die huis geplunder.

Sanders se ma, me. Mavis Bourgeous, en huiswerker, me. Dina Maletso, is ook later vasgebind.

“Daarna het hulle die slaapkamerdeur van buite gesluit en ’n paar minute later het ons die skote gehoor,” het Sanders getuig.

“Ná sowat 15 minute het my vrou by die venster kom kyk of ons oukei is.

“Sy het gesê Emily is in die motor doodgeskiet . . . ”

Mev. Williams het met Emily, haar sussie, Sophie (10), en twee medeleerlinge by Sanders se huis stilgehou, onbewus van die drama wat hom daarbinne afspeel.

Toe sy onraad vermoed, het sy die Sanders-gesin se veiligheidsmaatskappy ontbied.

Kort daarna het die skietery tussen hulle en die rowers uitgebreek en Emily is noodlottig gewond.

Die Williams-gesin het einde verlede jaar na Brittanje verhuis en nie die hofverrigtinge bygewoon nie.

Die mans word Maandag gevonnis.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2548033,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.