Thursday, 6 August 2009

Aanvaller skiet vrou waar sy op grond lê

Aug 03 2009 09:50:53:190PM - (SA)

Martiens van Bart

Vyf gewapende rowers het ’n ma van drie jong meisies Vrydagaand in haar huis in Midrand aangeval en geskiet waar sy plat op die grond gelê het.

Die koeël het dwarsdeur me. Gillian Lindsell (42), ’n dosent aan die Damelin-kollege, se lyf getrek, in die kombuisvloer vasgeslaan, terug deur haar maag getrek en toe weer by haar rug uitgekom.

Volgens me. Tracey Brits, ’n vriendin, het een van die aanvallers haar in die rug geskiet waar sy weerloos op haar maag gelê het. Die rowers het haar en haar huiswerker vroeër met vuurwapens gedwing om op die kombuisvloer te lê.

“Sy het juis doodstil gelê om hulle nie kwaad te maak nie,” het Brits gesê.

’n Stuk van die koeël het in haar ingewande afgebreek en vasgesteek. Sy het heelwat bloed verloor voordat sy in die Charlotte Maxeke-staatshospitaal (voorheen die Johannesburgse Algemene Hospitaal) gestabiliseer kon word.

Sy is per helikopter na dié hospitaal geneem en is tans in ’n bedenklike, maar bestendige toestand. Haar organe was aanvanklik so erg verrinneweer dat die wonde nie toegewerk kon word nie.

Die aanvallers het ’n vriendin, wat ook in die huis was, in haar kamer aangeval. Sy is nie beseer nie. Een van die aanvallers het glo gesê: “Jou vriendin is geskiet.”

Die huiswerker is ook ongedeerd. Die vroue is van hul besittings, waaronder juweliersware, geld en selfone, beroof.

Lindsell se gewese man het hul drie dogters kort voor die voorval kom oplaai. Hy was skaars weg toe die aanvallers die huis binnegestorm en die vroue aangeval het, het Brits gesê. Lindsell se pa, mnr. Doug Campbell (72), het gesê dis aaklig om “net nóg ’n statistiek te word”.

“Wat gebeur het is vreeslik en het nie net Gillian se lewe nie, maar ook dié van haar hele gesin verwoes.

“Sy is ’n enkelma en het nie ’n mediese fonds nie. Boonop sukkel die dogters vreeslik om te probeer verstaan wat gebeur het.” Volgens Campbell het dokters gister aan hom gesê dit sal minstens agt weke neem voordat Lindsell ontslaan kan word.

“Gelukkig het die koeël nie haar ruggraat getref nie. Sy het ernstige inwendige beserings. Haar longe en hart is darem nie beskadig nie, maar haar maag en niere wel. Was dit nie vir paramedici se flink optrede nie, het my dogter nie vandag meer gelewe nie.”

Konst. Neria Malefetse, polisiewoordvoerder, het gister gesê sy is nie bewus van die voorval nie en het onderneem om ondersoek in te stel.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2544839,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.