Sunday, 2 August 2009

Afrikaner middelklas moet betrokke en paraat word



Afrikaner perspektief: Geskryf deur Dirk Uys

Noudat ons ’n vrou aan die hoof van ons Reserwebank gaan kry wat haar ervaring opgedoen het in haar bannelingouers se toebroodjiewinkel in Londen, kan mens met reg wonder wat van Suid-Afrika se ekonomie gaan word.

(Foto: Weerbaarheidsopleiding deur die Kommandokorps)

Die globale resessie, asook die effek van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, is besig om sy tol onder die blanke middelklas bevolking van Suid-Afrika te eis.

Diegene wat nog ’n werk het, hoop en bid daagliks dat hulle nie afgelê gaan word of vir ’n sogenaamde swart diamant sal moet plek maak nie. Wee die blanke wat hom tans sonder werk bevind! In vele staatsdiensdepartemente word poste eerder vakant gehou as om ’n gewraakte wit vel aan te stel. Maatskappye val oor hulle voete om te bewys dat hulle regstellende aksie in die werkplek toepas. Hierdie klimaat is gevolglik uiters ongunstig vir blanke werksoekers. Net in die afgelope week alleen was daar weer ’n geteem oor die pas van bemagtiging in die regsmilieu en die Gautengse Krieketraad, om maar twee lukrake, uiteenlopende gevalle te noem. Transformasie moet eenvoudig oral, ongeag die resultate, opgedwing word.

Menige huishouding swig onder die druk. Nagenoeg 76% van besteebare inkomste word nou al in Suid-Afrika deur skuld opgeneem.

Die blanke Suid-Afrikaners sukkel toenemend om te oorleef. Te midde van hierdie vyandige omgewing, spandeer die swart diamante asof hulle toekoms daarvan afhang. Enkele dae gelede het Nhlanhla Nene, adjunkminister van finansies, die volgende gevleuelde woorde kwytgeraak toe hy verwys het na redes vir die daling in die spaarkoers in die land en die swart middelklas uitgesonder het “weens dié groep se hoë geneigdheid tot skuld-gefinansierde besteding aan duursame goedere om hul ‘bate-tekort’ uit te wis”.

Die blanke word op munisipale vlak sowel as nasionale vlak as die bestendige, geduldige melkkoei gesien wat direk en indirek vir alles en nog wat gemelk word.

Volgens ’n sielkundige-vriend van my neem depressie onder middelklas blankes toe. Daar is gevoelens van frustrasie, onvergenoegdheid, ontmagtiging en ook angs, omdat hulle nie behoorlik vir hulle gesinne kan voorsien nie. Binne so ’n konteks is die huidige blanke apatie seker te verstaan, want wanneer mens in ’n oorlewingstryd gewikkel is, is jy geneigd om van die groter prentjie te vergeet.

Mans is te bang om tot enige vorm van aksie oor te gaan, want die idee van tronkstraf binne ons MIV-besmette selle is genoeg om vrees by enigeen in te boesem. Instinktief probeer baie blankes om ’n lae profiel te handhaaf, in die hoop dat een of ander vreeslike lot hulle gespaar sal word.

Dit is egter van die uiterste belang dat ons ideologies koers hou en die gebeure om ons rasioneel en kalm ontleed. Dit het, meer as ooit, nodig geword vir Afrikaners om basiese solidariteit met hulle bure, vriende en medekollegas te betoon. Want môre-oormôre is jy ook net nog ’n slagoffer van swart arrogansie. Daar is omtrent 2.5 miljoen Afrikaners in die land oor. Ons durf nie meer nee sê om saans buurtpatrollie te ry omdat ons eerder warm voor die DeLonghi wil sit en na een of ander Amerikaanse TV-prul kyk nie. Of ons oë toemaak as ’n mede-blanke sy werk verloor of ’n slagoffer van misdaad word.

“An injury to one is an injury to all,” moes ons telkemale tydens die struggle-jare hoor. Dit was nog nooit so waar soos nou nie. Gaan neem skietklasse, lees en analiseer nuusgebeure, sorg dat jy in alle opsigte paraat is en dat jy daar is vir jou mede-Afrikaner. Anders kan ons van oorlewing op hierdie brutale vasteland vergeet.

Oorsprong: Perspektief Blog
http://perspektiefblog.blogspot.com/
http://perspektiefblog.blogspot.com/2009/07/afrikaner-middelklas-moet-betrokke-en.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.