Sunday, 30 August 2009

Boere beveilig self en sterftes daal

22/08/2009 21:48 - (SA)

Willem Pelser, Nelspruit

Landelike gemeenskappe én landbou-organisasies wend hulle toenemend tot selfbeveiliging nadat die kommando’s ontbind is – en dit werp vrugte af.

Die hoeveelheid plaasaanvalle is tot dusver vanjaar laer as vorige jare en al hoe meer boere oorleef dié misdade.

Mnr. Henry Geldenhuys, veiligheidshoof van die TLU, skryf dit toe aan opleiding in selfverdediging, die verskerping van algemene paraatheid en skietopleiding. Die TLU is betrokke by dié opleiding.

In die jongste voorval waar boere en plaaswerkers se optrede deurslaggewend was, is drie plaasaanvallers verlede week aangekeer wat me. Katrina Fourie (84) op ’n plaas by Soutpan naby Brandfort in die Vrystaat aangeval het.

Mnr. Lourie Bosman, DA-woordvoerder oor landbou en voormalige president van Agri SA, sê boere se inisiatiewe is gedwonge optrede omdat ’n vakuum ontstaan het waar kommando’s die afgelope jare ontbind is.

“Die staat se veiligheidstelsels was ontoereikend toe die kommando’s ontbind is en dit het die verantwoordelikheid op gemeenskappe geplaas om hulself te beveilig.”

Hy wys ook daarop dat Agri SA die Agri Securitas-trustfonds gestig het om landelike beveiliging te help finansier.

Volgens die jongste beskikbare polisiestatistieke is 32 boere, hul gesinslede en plaaswerkers in die eerste drie maande van vanjaar in 184 plaasaanvalle landwyd vermoor. As dié tendens voortduur, sal daar vanjaar minder as 750 plaasaanvalle wees teenoor die gemiddeld van sowat 1 000 aanvalle per jaar in 2001 en 2002.

In 2001, toe plaasaanvalle op ’n hoogtepunt was, is 147 boere in 1 011 voorvalle vermoor.

Mnr. André Botha, Agri SA se veiligheidshoof, sê “daar is gebiede waar misdaad gestyg het nadat die kommando’s ontbind is, maar daar is ook gebiede, soos Heidelberg, waar misdaad met 90% gedaal het nadat oudkommandolede as reserviste met die polisie begin saamwerk het”.

Oorsprong:Rapport
http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2549731,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.