Saturday, 15 August 2009

Ek het stellig geen keuse buiten emigrasie nie



Deur Anton Barnard.

Die ware mag in Suid-Afrika, die kommuniste en die vakbonde, staan op die punt om die Suid-Afrikaanse IT-industrie te vernietig. Byna soos die ANC daarin geslaag het om Eskom binne slegs 14 jaar op sy knieë te dwing. Dit is ook moontlik dat ander bedrywe wat professionele dienste op ‘n tyd-en-koste grondslag verkoop, onder andere die oudit- en regsprofessies, hierdeur geraak sal word.

Cosatu en sy trawante binne die ANC-bewind wil die praktyk bekend as ”outsourcing” onwettig maak. “Outsourcing” bestaan vir ‘n baie goeie rede: Min maatskappye of organisasies kan die luukse bekostig om duur IT-kundigheid permanent in diens te hou, bloot om korttermynprojekte te implementeer nie. Sulke organisasies sal dan tipies sulke kundigheid huur by maatskappye wat spesialispersoneel kan verskaf op ‘n korttermyn en kontrakgrondslag.

Hierdie maatskappye staan bekend as arbeidsmakelaars. Daar is arbeidsmakelaars in ander bedrywe ook. Die konstruksiebedryf is een voorbeeld.

Cosatu hou egter glad nie van die gedagte van arbeidsmakelaars nie, vir die mees siniese rede denkbaar: Cosatu se ledetal, diegene met permanente betrekkings, is besig om te krimp. Arbeidsmakelaars sorg dat baie potensiële Cosatu-lede eerder vir arbeidsmakelaars gaan werk. Met groot ironie is diegene wat vir arbeidsmakelaars werk, se lone dikwels hoër as permanente werknemers s’n.

Die uiteinde van die beplande wetgewing kan slegs een gevolg hê vir die IT-bedryf: organisasies sal gedwing word om hul projekte aan buitelandse maatskappye te gee, tipies dié in Indië. Sodoende sal die ganse plaaslike IT-bedryf in duie stort: selfs groot maatskappye soos Business Connection sal hul deure moet sluit of hul operasies drasties moet afskaal.

Tienduisende IT-kundiges sal dus op straat sit. Ek sal een van diegene wees wat regstreeks hierdeur geraak word. Watter ander keuse het mense soos ek, buiten om vir ons ‘n pos oorsee te gaan soek?

Kennelik is bostaande nie ‘n nadeel in die oë van Cosatu nie – hulle sal geen traan stort oor nóg ‘n paar tienduisende blanke gesinne wat die pad vat na Perth of Londen nie. Dit is inteendeel waarskynlik juis ’n bedekte doelwit van die voorgestelde wetgewing: die versnelde gedwonge emigrasie van blankes.

Soos die meeste van die optredes van die onwelriekende en onheilige alliansie van die kommuniste, vakbonde en die ANC-bewind, is dié egter ‘n uiters kortsigtige en inderdaad ‘n fundamenteel onnosele stap. Ek onderhou dmv my belastinggeld tientalle swartes in die vorm van kindertoelaes, ongeskiktheidstoelaes, behuising, opvoeding en gesondheidssorg.

Word Suid-Afrikaanse organisasies egter gedwing om hul IT-projekte in Moembaai te laat implementeer, en moet ek noodwendig my brood elders gaan verdien, gaan my belastingbydraes verlore. Tata en Wipro se winste styg bes moontlik in Indië as ‘n gevolg, maar dis nie tot voordeel van die miljoene hulpbehoewendes in Suid-Afrika nie.

Gegewe optredes soos hierdie een, is ek ek bevrees dat die IT- en ander professionele dienstesektor slegs een deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie se kaartehuis is wat op die punt staan om ineen te tuimel. Gaan ons in die toekoms ‘n Suid-Afrika sien wat teruggeval het na ‘n pre-koloniale, pre-beskaafde toestand, met miljoene in uiterste ellende, en slegs die myne as eilandjies van produksie in ‘n see van anargie?

Oorsprong:SAmizdat Blog
http://antonbarnard.praag.co.za/
http://antonbarnard.praag.co.za/?p=42

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.