Thursday, 6 August 2009

Leerlinge verslae ná geliefde juffrou se dood

Aug 02 2009 10:10:48:573PM - (SA)

Amanda Roestoff

“Juffrou, hoekom het hulle haar doodgemaak? Kon hulle haar nie net weggestamp het of vasgemaak het nie?”

Dis wat verslae leerlinge van die Lanternskool in Roodepoort van me. Lucy Briel wou weet ná die gru-moord Woensdag op me. Marinda O’Dell, ’n arbeidsterapeut van die skool.

Personeel by dié skool vir leerlinge met spesiale leerbehoeftes het volgens Briel, sielkundige en hoof van die terapeutespan daar, Donderdag hul “hande vol gehad” om die nodige traumabehandeling aan leerlinge te gee.

“Oproepe van simpatie het ingestroom en leerlinge wat die skool reeds jare gelede verlaat het, het huilend navraag gedoen oor hierdie spesiale mens wat só wreed van ons weggeskeur is,” het Briel by navraag per e-pos aan Beeld gesê.

O’Dell is Woensdag verskeie kere met ’n mes in haar huis in Noordheuwel, Krugersdorp, gesteek voor haar keel afgesny is.

Mnre. Mphaphantshi Stanley Mabulana (27) en Phetole Cedrick Lebea (28) is dieselfde dag in verband met die moord aangekeer en moet weer Vrydag in die hof verskyn.

O’Dell was sedert 1995 aan die skool verbonde. Sy het ook aan die hoof van die snoepwinkel gestaan en die skoolbussie bestuur.

“Haar busleerlinge het verdwaas in my kantoor gesit en huil,” het Briel gesê. “Emosies van verslaentheid en smart het mekaar afgewissel.”

Volgens haar sal die skool O’Dell as ’n deeglike, toegewyde mens onthou wat altyd ander se behoeftes bo haar eie gestel het.

“Sy was ’n harde werker, immer op soek na nuwe maniere om ons leerlinge met hul leerwerk te help.

“Dit verg terapeute met ’n roepingsbewustheid om hierdie uitdagende taak te verrig, mense soos Marinda, en hulle is baie skaars.

“Sy’t elkeen goed geken en haar altyd oor kinders in nood ontferm.

“Sy was baie gewild en geliefd oral waar sy gegaan het. Haar borrelende laggie en lewensvreugde was aansteeklik.

“Haar sorgsaamheid is egter dit waarvoor ons haar die meeste sal onthou.

“Net soos sy mal was oor haar man en kinders, was elke ander mens met wie se pad hare gekruis het, vir haar kosbaar en het sy na haar medemens uitgereik,” het Briel gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2544515,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.