Thursday, 6 August 2009

Met loopraam loop sy op en af nadat man vermoor is

Aug 05 2009 09:03:20:827PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Bejaarde vrou wat net met ’n loopraam oor die weg kan kom, het ure lank tussen haar huis en dié van die bure geloop om hulp te kry nadat haar man in ’n aanval dood is.

Twee jong mans het mnr. Julius Kettle (83) Vrydag omstreeks 11:00 oorval.

Hy het vermoedelik versmoor weens ’n lap wat hulle in sy mond gedruk het of is aan ’n hartaanval dood.

Kettle het in sy kwekery op sy kleinhoewe by Byenespoort buite Cullinan gewerk toe hy aangeval is.

Die kleinhoewe is sowat 4 km van waar mnr. Piet van den Berg (64) verlede maand in sy huis doodgeskiet is. Nadat Van den Berg geskiet is, het die misdadigers die huis met hom daarbinne aan die brand gesteek.

Mnr. Julius Kettle jr. (40) het gesê die misdadigers het sy pa se hande en voete met draad vasgebind en ’n lap in sy mond gesit. ’n Lykskouing het getoon dat sy pa ook ’n hartaanval gehad het.

“Ek is net dankbaar teenoor God my pa is nie aangerand nie en dat my ma nie seergemaak is nie.”

Volgens Kettle jr. het die misdadigers ná sy pa se dood by die huis ingegaan en sy ma, Marie (80), gekry waar sy in die sitkamer gesit en lees het.

Mev. Kettle is volgens haar seun ’n “semi-invalide” en kan net met ’n loopraam loop.

Die mans het haar in die sitkamer gelos, koeldrank in die kombuis gedrink en die huis geplunder.

“In ’n stadium het my ma gehoor dit word stil. Sy het probeer om weg te kom, maar die mans het haar gesien,” het Kettle jr. gesê.

“Hulle het haar op die vloer neergesit en haar hande met selfoonherlaaierdrade vasgemaak.

“In ’n stadium het sy gehoor hoe iets by die kombuis ingesleep word. My ma het vir nogal ’n lang ruk daar gelê voordat sy probeer opstaan het. Dit het haar ’n uur geneem om op te staan.

“Sy het toe kombuis toe geloop en my pa op die vloer gesien lê. Hy was reeds dood.”

Volgens Kettle jr. het sy ma toe haar loopraam geneem en die sowat 120 m na die bure se heining geloop. Dit het haar sowat ’n uur geneem.

Die bure was nie tuis nie.

Vir die res van die middag het mev. Kettle op en af in die pad tussen haar huis en die bure se heining geloop.

Teen omstreeks 17:00 het die bure by die huis gekom en is die polisie na die toneel ontbied.

Mnr. Johannes Jaftha, polisiewoordvoerder, het gesê die mans het met die egpaar se selfone, van hul huisware en ’n vuurwapen gevlug.

Kettle sr. is gisteroggend in Krugersdorp begrawe.

Buiten vir sy vrou en seun laat hy ook sy dogters, Maud (54) en Lynn (45), nege kleinkinders en ses agterkleinkinders agter.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2545464,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.