Thursday, 6 August 2009

‘Slaap, slaap’ sê mans - en toe skiet hulle

Aug 04 2009 09:19:41:520PM - (SA)

Jeanne-Marié Versluis

Haar vier kinders mis hul pa en ’n groot deel van hul lewens het ná die moord op hom verander, maar sy bly in Suid-Afrika.

Dit is haar land dié, het ’n hartseer mev. Ursula Picton-Turbervill gister in die hooggeregshof in Pretoria getuig in die verhoor van die twee vermeende moordenaars van haar man, Fred.

Mnre. Petro Markel (27) en Christovao Fresco Ndima (20), albei Mosambiekers, het gister skuld ontken.

Mnr. Picton-Turbervill (46), wat van Walliese afkoms was, is op 5 Januarie verlede jaar in die gesin se huis in Ariesstraat, Waterkloofrif, in die kop geskiet.

Mev. Picton-Turbervill, ’n Suid-Afrikaner, het getuig die gesin het ná aandete televisie gekyk. Hul kinders is Samantha (toe 10), Bryony (toe 9), Natasha (toe 7) en Gregory (toe 3).

Hul labrador het in die kombuis geblaf en haar man het aangeneem die hond wil uitgaan.

Hul Yorkshire-terriër, wat ook geblaf het, het haar man uit die huis gevolg. Die labrador is agterna.

Picton-Turbervill het getuig omdat die labrador se hare regop gestaan het, het sy haar man gewaarsku om versigtig te wees, want dit het gelyk of die hond vir iets bang is.

Sy en die kinders het gevolg.

Toe haar man laer af in die tuin was, het sy ’n mens aan die onderpunt van die tuin sien aankom. Haar man het geskree: “Hardloop!”

“Ek het die kinders gegryp en terug die huis ingehardloop,” het sy getuig.

By die eetkamertafel het Ndima ’n selfoon uit haar hand geklap en ’n vuurwapen teen haar kop gedruk. Hy het vir haar gesê: “Slaap.”

Sy het op die vloer gaan lê en die kinders aangesê om dieselfde te doen.

Markel, wat ook gewapen was, het haar man die huis ingebring en hom op die vloer laat lê.

“Albei (die beskuldigdes) het gesê: ‘Slaap, slaap.’ ”

Markel het ’n lessenaar deurgesoek terwyl Ndima die vuurwapen op die gesin gerig het.

Ndima het haar man toe geskop en op hom getrap. Terwyl hy die wapen met een hand vasgehou het, het hy haar man se sakke met die ander hand deurgesoek.

Markel het toe om die tafel gestap. Ndima het teen die muur teruggestaan en Markel het haar man in die kop geskiet. Haar oudste twee kinders het dit sien gebeur.

Ndima het na bewering toe die wapen teen haar kop gedruk en gesê: “Geld, geld, geld!”, terwyl Markel sy vuurwapen op die kinders gerig het.

Sy is na die aantrekkamer om goed te soek sodat die beskuldigdes hiermee kon padgee.

Ndima het haar gevolg en ’n kamera uit ’n kas gevat. Sy het haar juwele?kissie in die badkamer, waarvan die inhoud sowat R20 000 werd was, aan Ndima gegee. Sy moes weer by die kinders op die vloer gaan lê en die beskuldigdes het verdwyn.

Toe die ambulans opdaag, het haar man nog geleef.

Mev. Picton-Turbervill het getuig sy het Markel op een uitkenningsparade uitgeken en Ndima op ’n ander. Sy het Markel onder meer aan sy “snaakse oor” en Ndima aan sy “groot, ronde oë” en ’n letsel op die wang uitgeken.

Ná haar man se dood moes hulle weens geldelike redes verhuis. Daar was gelukkig lewensversekeringspolisse wat uitbetaal is, het sy getuig.

Die verhoor duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2545084,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.