Sunday, 30 August 2009

Wakker bure op hoewes laat die misdaadgety terugtrek

Insp. Renier Beukes (links), voorsitter van 'n tak van die Cullinan-gemeenskapspolisiëringsforum, en mnr. Piet van Dyk, 'n sakeman-boer van die gemeenskap in die Jakkalsdans-gebied by Cullinan. Foto: Cornél van Heerden

22/08/2009 21:48 - (SA)

Marenet Jordaan, Pretoria

Goeie buurmanskap.

Dít is wat die verskil gemaak het in die beveiliging van die gemeenskap in die Boschkop-hoewegebied, oos van Pretoria.

“Elke gesin aanvaar verantwoordelikheid vir sy eie én die gemeenskap se veiligheid,” sê mnr. CD van Reenen, een van die hoewe-eienaars.

Daar was sowat vier jaar gelede “intense woede” onder die inwoners weens die verskriklike misdaad, sê dr. Breytie Breytenbach, ’n afgetrede hoewe-eienaar.

Uit dié nood is ’n gemeenskapsbeveiligingsaksie gebore wat nou meer as 300 gesinne sterk is.

“Ons het weer ’n gemeenskap geword wat mekaar ken en mekaar se telefoonnommers het,” sê Van Reenen.

Kommunikasie speel ’n belangrike rol. Die meeste mense het tweerigtingradio’s wat saans getoets word.

Die radio’s word gebruik om inligting oor verdagte mense of voertuie uit te ruil en alarm te maak oor misdaadvoorvalle.

’n Veiligheidsmaatskappy, Conserv, help deur misdaadinligting wat gemeenskapslede aanmeld ook per SMS van ’n sentrale beheerkamer te stuur.

Gemeenskapslede patrolleer die gebied so doeltreffend moontlik.

“Ons hoofdoel is om lewens te red, nie om skelms te vang nie,” sê Van Reenen.

Mnr. Kokkie Kruger sê talle mense het nie noodwendig eens vuurwapens nie, maar sal nog-tans uitgaan as ’n buurman in nood is.

Breytenbach sê hulle voel nou bemagtig en nie meer soos slagoffers nie. Hulle ervaar beslis ’n daling in misdaad in hul gebied. Dit is bevestig deur sers. Marinda Stoltz, polisiewoordvoerder van die Boschkop-polisiestasie.

“My vrou sê sy het onveiliger gevoel in die stad,” sê Van Reenen. “As sy nou op die radio klim, is daar ’n horde buurmanne wat kom help.”

Ook in die Jakkalsdans-distrik, naby Cullinan, het die boere saamgespan om hulself te beveilig. Volgens kol. Paul van Rensburg, voorsitter van Agri-Cullinan, sukkel hulle veral met brandstigting en kabeldiefstal in dié omgewing.

Sowat 150 gesinne is deel van die gemeenskapsnetwerk. Hulle is per radio met mekaar in verbinding en maak beurte om die gebied te patrolleer.

Daar is ook ’n gemeenskapspolisiërings-forum-wagkamer in die omgewing wat 24 uur per dag beman word.

Volgens insp. Renier Beukes, voorsitter van die plaaslike tak van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), word die gemeenskapspatrollies afgewissel na gelang van wat in die omgewing aan die gang is.

“Toe ons ’n probleem gehad het met inbrake in Leeukloof het ons die GPF-voertuie dáár ingestoot.”

Dié patrollies gaan eerder oor identifisering, sê Beukes.

Daarom gaan die meeste mense ongewapen op patrollie en skakel die polisie as hulle iemand of iets verdags opmerk.

Van die gemeenskapslede het ook basiese mediese opleiding om bystand te verleen op ’n ongeluks- of misdaadtoneel. Sommige is ook as reserviste opgelei.

As misdaad wel gepleeg word, is lede opgelei om die toneel af te sper om te keer dat bewysstukke verlore gaan.

Beukes sê die GPF was byvoorbeeld eerste daar om Dinsdag die pad toe te maak ná ’n mislukte transito-rooftog op die Molotopad.

Mnr. Johannes Jaftha, woordvoerder van die Cullinan-polisiestasie, sê die gemeenskap se betrokkenheid het beslis gehelp om misdaad te verminder.

Die polisie moedig plaaseienaars ook aan om hul plaaswerkers te betrek by die beveiligingsaksies. “Hulle is 90% van die tyd op die hoewes en kan inligting gee oor verdagte voertuie en mense,” sê Jaftha.

Oorsprong:Rapport
http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2549732,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.