Tuesday, 1 September 2009

Alles stil en onrustig op De Wildt

29/08/2009 13:32 - (SA)

Chris Louw

Dis halfagt in die aand in ons huis op Silkaatsnek net buite Pretoria.

Op TV is ’n stuk of tien polisiemotors op pad na ’n huis in Dallas waar ’n geestelik versteurde Amerikaner dreig om selfmoord te pleeg.

Die manne van Dallas se Special Weapons and Tactics- (SWAT) eenheid is toegerus met ’n ambulans en ’n mobiele kantoor waaruit onderhandelinge met die aspirant-selfmoordenaar gevoer word. Dinge lyk goed en dit lyk of hulle dalk net die man se lewe kan red.

Op my nuwe burgerbandradio wat in die agtergrond aan is, is daar ook stemme.

’n Veiligheidswag van Royal Security is pas geskiet, skuins duskant Kallie Knoetze se plaas. Versterkings word gesoek.

“Versigtig, die man is gewapen!”

’n Telefoonkabel is vroeër die dag reeds geknip. Dis hier waar die wag deur ’n kabeldief geskiet is.

“Ek staan hier by die gewonde man,” berig ’n mansstem. “Delta Beheer, kan julle ’n ambulans laat kom? Dit lyk na ’n skouer- en armwond.”

Ek skakel die televisie af.

Amerikaanse realiteitstelevisie het irrelevant geraak. Wat skeel dit my as ’n versteurde Amerikaner op ’n ander kontinent sy lewe met ’n rewolwer wil beëindig terwyl ’n elite polisie-eenheid met die modernste toerusting hom van sy planne laat probeer afsien?

Vlak buite my plaashek is ’n veel gevaarliker stryd teen misdaad aan die gang: ’n Klein groepie ervare, toegewyde mense met die minimum toerusting staan mekaar by terwyl die polisie iewers op die agtergrond is.

Dis tien dae sedert ons die burgerbandradio aangeskaf en aangesluit het by die De Wildt Helpmekaar Maatskappy.

In die 14 jaar wat ons hier in die klein Bosveld aan die voet van die Magalies woon, was ons wel bewus van misdaad, maar dit was meestal gerugte en klein beriggies in die plaaslike koerantjie: “Iewers” het rowers met ’n .303 op “iemand” in sy kombuis geskiet. Elders is ’n “jong man” agterop ’n bakkie ontvoer nadat hy inbrekers in sy ouerhuis betrap het …

Alles ver genoeg en naamloos genoeg sodat ons nie té bekommerd hoef te wees nie. Intussen plant ons meer inheemse bome en geniet die Bosveldse rustigheid.

Om onsself te sus sluit ons wel aan by die veiligheidsmaatskappy ADT en ek skaf ’n harde sirene aan, met paniekknoppies vir die drie huurhuise op ons grond.

Kort daarna bel my nuwe huurders in een van dié huise my om twee-uur in die oggend. Die vrou se stem is merkwaardig kalm: “Hier was twee mans in ons sitkamer.”

Ek is deur die slaap en snap nie onmiddellik nie. “Wanneer?”

“So pas. Ons het geluide gehoor en Frik het gaan kyk.”

Ek skakel die sirene aan. Die lawaai sny deur die stil nag. Ek bel ADT, my vrou Johanita bel die polisie.

Brits se polisie daag eerste op, dan Mmakau s’n, onder wie se jurisdiksie ons eintlik val. Die konstabel ken nie die omgewing nie.

’n Uur en agt minute later hou ADT se motor in ’n stofwolk voor die huis stil.

Dis twee jong mannetjies, sê Frik. Hulle het ’n venster oopgedwing en die huis- en motorsleutels van ’n hakie teen die muur afgelig, saam met die paniekknoppie. Eers die wasgoed van die draad af gesteel, toe die voordeur en veiligheidshek oopgesluit. Hulle was besig om die televisiestel te ontkoppel toe Frik wakker word, op hulle afkom, en hulle voet in die wind slaan.

Gelukkig was daar nie ’n skietery nie. Niemand is dood en niemand beseer nie.


‘Ons kan nie verder op ’n eiland lewe nie,” sê ek en Johanita vir mekaar. “Dis tyd dat ons betrokke raak by ons gemeenskap.” (Kort tevore het ek nog gesê ek wil nie by die plaaswag aansluit nie, omdat ek nie wil deel wees van iets wat net wit en swart verder polariseer nie.)

Ek skaf dus ’n tweerigting radio aan, noodsaaklik om kontak met die bure te behou as deel van die bestaande veiligheidsnetwerk.

En vir die eerste keer hoor ons: Die man op wie op 25 Junie met ’n .303 in sy kombuis geskiet is, is Flip Joubert – ons naaste buurman. Sy huis is 200 m van ons s’n af. Die jong man wat ontvoer is – en in die nag met pynlike gevolge van die bakkie afgespring het – woon op die kleinhoewe net anderkant Flip.

Ons het dit nie geweet nie. En toe ons eie sirene die nag afgaan, het nie ’n enkele van ons bure gereageer nie.

Ons is almal deel van die reënboognasie, en ons woon onbekommerd in ons eie illusies, sê ek vir Johanita:

“Ons het nie meer ’n keuse nie. Dis ’n onverklaarde, lae-skaalse oorlog. Ons moet kant kies.”

Toe die radio uiteindelik stil word, gaan ons slaap. Drie-uur die volgende oggend kraak die radio weer.

Royal Security berig dat nege mans die De Wildt-pad oorgesteek het op die plek waar die telefoonkabels die vorige dag geknip is, en baie naby aan waar hulle kollega ’n rukkie tevore geskiet is.

Dis kabeldiewe.

In die stilte van die nag lê ons in die bed en luister hoe die hoordrama ontvou.

Kalm stemme wat opdragte gee. Jy, ry na die Hoekie toe. Wag daar op versterkings. Jy, gaan kry ’n hond by die hondeskool. Hulle is in die spruitjie af, rigting Ga-Rankuwa.

En altyd die waarskuwing: “Versigtig, manne. Een van hulle is gewapen.”

“Dié ouens was duidelik almal in die bosoorlog,” sê ek vir Johanita. “Dis ’n militêre operasie. Hulle weet presies wat hulle doen.”

Die bosoorlog was in 1989 gedane sake. Twintig jaar later is daardie oorlog nou in die bosse hier om ons, ’n skrale 25 km van die liggies van Pretoria se Kerkplein af.

Terwyl die kabeldiewe gevolg word, kom nog berigte op die radio deur. Daar is pas ingebreek by Werner Schreuder se pompkamer; sy boorgatkabels is gesteel.

En later: Daar was ’n inbraak by Trevor Louw se pakkamer. ’n Elektriese pomp is gesteel. En nog: Daar is ingebreek by die De Wildt-jagluiperdsentrum se gastehuis. Drank en ’n rekenaar is gesteel. Hulle het ook ingebreek by ’n motor.

Johan Marais berig dat daar verdagtes op sy perseel rondloop.

Bertie Hotzhausen sê hulle het ook sy boorgatkabels gesteel.

Twee verdagtes word op Ockie Oosthuyzen se kleinhoewe opgemerk. Lyndrade is geknip en ’n garagedeur oopgebreek. “Gelukkig” word niks vermis nie.

Deur dit alles duur die hakkejag-operasie na die nege kabeldiewe onverpoosd voort.

“Versigtig dat julle nie vir Mike-hulle met die hond met die diewe verwar nie. Hulle volg die spore in ’n noordelike rigting in die spruit. Moenie skiet nie.”

Intussen laat weet Thinus Schoeman dat telefoonkabels by sy perseel gesny is. Die kabels lê nog daar.

Daar is ook berigte dat diewe by dr. Jannie Hugo se huis probeer inbreek het. Die alarm het afgegaan. Die gesin het gehoor hoe ’n werker in sy kamer skree nadat rowers probeer het om sy kamerdeur af te breek.

Dan is die radio skielik stil. Dis halfvyf die oggend. Ons sal maar tot ligdag moet wag wanneer ons almal per radio verslag doen om te hoor dat elkeen veilig is.

Veilig ná nóg ’n nag op De Wildt.

Darem nie heeltemal nie. “Dit was die besigste nag vanjaar,” sê Helpmekaar se Jan Lemmer, wat ook ’n plaaslike sekuriteitsfirma bedryf, in sy kantoor langs die De Wildtpad toe ek hom die middag besoek. Hy lyk ontspanne.

“Die misdade is tipies, maar dit was ’n bietjie meer as gewoonlik.”

Die misdaad op De Wildt is ook nie uitsonderlik nie. Lemmer was lank in die Kommando. “Dit gaan oral so. Die enigste verskil is dat ons hulle hier onder druk plaas, en dat ons ons lede inlig oor wat gebeur.”

Dit gaan byvoorbeeld baie erger in dele van Pretoria. Maar die inwoners het nie kontak met mekaar nie. Hulle kan nie notas vergelyk nie.

Sommige mense, sê hy, verkies dit om nie te weet van die misdaad nie. Hulle vind dit te ontstellend. “Maar ons glo jy kan net paraat wees as jy weet wat in jou omgewing gebeur.”

Die omgewing waarna hy verwys, strek die 25 km met die De Wildtpad van Silkaatsnek tot die westelikste uithoeke van Pretoria-Noord, en van daar 12 km diagonaal tot by die spoorlyn wat voor Brits en Ga-Rankuwa verbyloop – ’n totale oppervlak van 300 km², gedek deur ’n netwerk van tweerigtingradio’s.

’n Mikrokosmos van die land.

Wie is hierdie ouens wat snags hul lewens waag om sonder vergoeding ander mense en hul eiendom te beskerm? “Gewone ouens wat almal bedags gewone werke het. Ekonomies produktiewe mense.”

En die polisie?

Betrekkinge is goed. Toe gevra is dat plaaslike mense reserviste word, was daar 36 aansoeke. Maar nou het die polisie se topbestuur besluit jong swart rekrute kry voorkeur; van die 36 aansoeke het 29 aansoeke intussen weggeraak by die plaaslike polisiekantoor. Nou is daar weer ’n moratorium geplaas op die aanstelling van reserviste.

“Die manne wil hul deel doen, maar ons word van alle kante gekniehalter,” sê Jan.

“Omdat reserviste meer polisiëringsmagte het as gewone burgers, is dit belangrik dat die plaaslike mense aansluit. As die polisie dit net wil toelaat.”

Oorsprong:Rapport
http://jv.news24.com/Rapport/Weekliks/0,,752-2496_2550745,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.