Sunday, 27 September 2009

Julius Malema hou nie van boetes betaal

“Laat ek jou vertel, my vriend, ek het jou en jou apartheidsregime oorwin en ek gaan jou weer verslaan, eens en vir altyd!”

2009-09-26 21:23

Julian Rademeyer

Julius Malema is net so vinnig met sy kar as met sy bek – en hy betaal nie sy spoedkaartjies nie.

Die president van die ANC-jeugliga – alombekend vir sy gladde mond, liefde vir vinnige karre en laatnag-partytjies – het in die laaste twee jaar versuim om 14 boetes vir verkeersoortredings te betaal wat saam R5000 beloop.

En hy’s nie die enigste Jeug-liga-leier wat in die pekel is nie. Die woordvoerder Floyd Shivambu het sedert Augustus verlede jaar 12 onbetaalde boetes agter sy naam waarvoor hy R2625 skuld.

Malema het Vrydagaand oudergewoonte die raskaart uitgepluk toe hy oor sy uitstaande spoedkaartjies uitgevra is.

“Ek ken net revolusie, ek weet niks van motorbestuur nie,” het Malema telefonies vanuit Amerika gesê.

“Laat ek jou vertel, my vriend, ek het jou en jou apartheidsregime oorwin en ek gaan jou weer verslaan, eens en vir altyd!

“Almal van julle saam kan niks aan my doen nie. Jy mors jou tyd.

“Ek is ’n kind van helde en heldinne van die struggle. Ek is nie ’n kind van lafaards en onderdrukkers nie. Ek is nie ’n kind van ’n imperialis nie.

“Ek het koloniseerders verslaan. Ek gaan die kinders van die kinders van die koloniseerders verslaan.”

Hy het nie ontken dat hy uitstaande boetes het nie, maar gevra: “Is jy seker dis ek in die motor? Ken jy ’n kar genaamd ­Julius?”

Malema se inkswart Mercedes- Benz C350 is op 21 September verlede jaar teen ’n spoed van 169km/h op die N1-suid naby Johannesburg afgeneem. Hy’t versuim om die boete van R1100 te betaal.

Net die vorige dag is Malema afgeneem toe hy teen 146km/h gery het. Hy’t hard gerem om spoed te verminder, maar die kamera was te vinnig vir hom.

Sy jongste oortreding was vroeër vandeesmaand toe hy met R750 beboet is.

’n Woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, insp. Edna Mamonyane, het gesê ’n lasbrief vir ’n oortreder se inhegtenisneming word gewoonlik uitgereik indien ’n boete ná 90 dae nog nie betaal is nie, of die vermeende oortreder versuim het om in die hof te verskyn.

Mamonyane het bygevoeg dit kan soms “’n bietjie langer duur” en wou nie uitwei oor Malema nie.

Shivambu het Vrydag gesê hy was onbewus van sy eie en Malema se uitstaande boetes.

“Ek dink jy’s baie verveeld,” het hy by navraag gesê. “Ek weet nie waarvan jy praat nie. Ek kan nie kommentaar lewer voordat ons nie seker gemaak het waar jy die inligting gekry het nie. Jy kon dit in jou kop opgemaak het.”

Shivambu het die foon toe neergesit.

Malema het vroeër vandeesmaand gesê mense wat gal braak oor ministers wat duur rygoed met belastingbetalers se geld koop, is bloot jaloers.

“Om ’n Mercedes-Benz te ry kan nie korrupsie wees nie. As dit is hoe julle korrupsie defi­nieer, is julle net jaloers,” het hy volgens berigte gesê.

- Malema en die adjunkminister van polisie, mnr. Fikile Mbalula, was vandeesweek in die Amerikaanse hoofstad, Washington, DC, om “Suid-Afrika te bevorder en Amerikaners aan te moedig om in die land te belê”.

Die omstrede “Suid-Afrika- week” val saam met die jaarlikse konvensie van die sogenaamde swart koukus van die Amerikaanse kongres.

Dié twee sou ’n aantal vergaderings, asook dinees, ’n wynproe, modevertoning en konsert bygewoon het.

Die Suid-Afrika-week is gereël deur Khabo-Mabe On Time Inc., ’n maatskappy wat bestuur word deur die Suid-Afrikaner mnr. Kennedy Khabo.

Vroeër vanjaar het ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington Khabo beskryf as ’n “gediskrediteerde persoon wie se boeke nie skoon is nie”.

Carte Blanche het verlede jaar onthul die Tshwane-metroraad het meer as R2 miljoen aan dié week bestee en dat dit “niks meer as ’n groot partytjie” was nie.

Die openingsaand verlede jaar is deur net 25 mense bygewoon – van wie tien Tshwane-amptenare was.

- Rapport

Oorsprong:Rapport
http://www.rapport.co.za/Content/Suid-Afrika/Nuus/2315/8c44769168d043a7b7f6f2bc0eb11fae/26-09-2009-09-23/Julius_Malema_hou_nie_van_boetes_betaal

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.