Wednesday, 9 September 2009

Man sterf ná twee 4x4 wil vat

2009-09-08 09:36

Amanda Roestoff

’n Man wat eergisteraand in Noordheuwel, Krugersdorp, deur rowers gewond is, is dieselfde aand dood.

Mnr. Willie Kruger (53) en mnr. Peter Nasser Chidrawi, sy buurman, is gewond toe twee rowers Kruger in sy oprit in Forsythweg aangeval het.

’n Booswig en sy makker wou Kruger en sy vrou vermoedelik omstreeks 17:45 van hul 4x4-voertuig beroof.

Chidrawi het Kruger te hulp gesnel en in die struweling betrokke geraak.
Verskeie skote is geskiet.

Albei mans is na die Netcare Krugersdorp-hospitaal geneem.

Die booswig is met sy eie vuurwapen doodgeskiet. Dis onseker wie hom geskiet het.

Die ander verdagte is glo ook gewond en het in ’n grys of donkerkleurige Corsa gevlug.

Me. Melanie Besselaar, hospitaalwoordvoerder, het bevestig Kruger het dieselfde aand aan sy wonde beswyk.

Chidrawi, wat ’n noodoperasie moes ondergaan, is in ’n ernstige, maar stabiele toestand. – Amanda Roestoff

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/a63971eff31e41aebc7867632fb5ae87/08-09-2009-09-36/Man_sterf_n%C3%A1_twee_4x4_wil_vat_

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.