Tuesday, 1 September 2009

Pa, seun kry elk byna R95 000

2009-09-01 00:40

’n Boer en sy seun wat in hegtenis geneem is ná ’n plaasaanval waartydens die boer ’n aanvaller geskiet het, moet elk skadevergoeding van bykans R95 000 kry.

Mnr. Cornelius Gabriël Volschenk (51), sakeman en boer van die plaas Morgenster naby Ermelo, en sy seun, Cornelis Gabriël (26), het skadevergoeding-eise teen die minister van veiligheid en sekuriteit ingestel.

Die plaasaanval was op Oukersdag 2001.

Volschenk sr. bedryf ook ’n meubelfabriek op die plaas.

Regter Lionel Sapire het gister in die hooggeregshof in Pretoria die minister gelas om R94 693 aan elke eiser, asook die eisers se koste, te betaal.

Luidens die eisers se hofstukke oor die bedrag van hul skadevergoeding is hulle “deur ’n groep swart mense” op dié plaas aangeval.

Volschenk sr. “het uit noodweer een van sy aanvallers met sy pistool raak geskiet nadat hy self reeds ernstig beseer is”.

Hy het die polisie daarna ontbied en sy volle samewerking aan hulle tydens hul ondersoek gegee.

Hy is desondanks “en ’n onderneming deur ene ass.komm. Dube” dat hy nie in verband met die voorval gearresteer sou word nie, op 11 Januarie 2002 saam met sy seun op die plaas gearresteer. Dit was “in opdrag van ene kapt. Fanie Molapo”.

Die mans is na die polisieselle by die Breyten-polisiekantoor geneem en omstreeks 22:00 dié dag op borgtog vrygelaat.

Luidens hul hofstukke was Volschenk sr. in ’n sel waar een van die aangehoudenes ’n mes “aanhoudend op die selvloer geslyp het”. Dit het hom erg geïntimideer en bekommerd gemaak oor sy seun se veiligheid weens dié se jeugdigheid en die feit dat hulle afsonderlik aangehou is.

Die hofstukke lui voorts dat Volschenk jr. die dag van die plaasaanval ’n waarskuwingskoot met sy pistool geskiet het toe twee mans sy pa se broer op sy pa se plaas aangeval het. Sy oom het om hulp geroep.

Hy het ook daarna sy samewerking aan die polisie gegee.

Toe hy afsonderlik van sy pa aangehou is, was hy bang vir die mede-aangehoudenes.

“Hy is verontrief en gewalg deur die toestand in die sel waarin hy en die ander mense aangehou is, naamlik ’n klein selletjie met ’n toilet in wat erg gestink het.”

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/d0a66a53e0254cac816a43d072b941c5/01-09-2009%2012-09/Pa,_seun_kry_elk_byna_R95_000

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.