Sunday, 27 September 2009

Stuur ons af op ‘n blanke volksmoord?

Deur Dan Roodt

Sondag 13 September 2009

Vandeesweek het ds. Nico Smith, ‘n soort sikofant van oorle Beyers Naudé, ‘n kat in die hoenderhok gesmyt met sy stuk in Beeld waarin hy blankes tot onderdanigheid aan hul nuwe swart heersers maan. So nie, sê Smith, gaan dieselfde lot ons tref as die sowat miljoen Franse Algeryne wat almal sak en pak met net die klere aan hul lywe hul land moes verlaat toe die moederland, Frankryk, hulle in die steek gelaat het en sy militêre magte verwyder het.

Nico Smith stel dit in ‘n neutedop só: “Ons het geen keuse nie as om lojale Suid-Afrikaners te word en te vergeet van ons minderheidsregte, ons taal en kultuur, ons aansprake op die beëindiging van regstellende aksie en die herinstelling van die doodstraf.”

Met ander woorde, ons moet aanvaar dat ons en ons kinders en waarskynlik ons kleinkinders, vir altyd tweederangse burgers onder ‘n swart regering gaan wees wat ons bloot gaan verdra na gelang van ons onderdanigheid en die “lojaliteit” wat ons jeens hom gaan betoon.

Tereg het Tim du Plessis, die redakteur van Beeld wat deesdae toenemend ontnugter met sy base by Naspers se utopiese voorstelling van “Suid-Afrika se wonderlike demokrasie” raak, ‘n teenargument geopper wat ek reeds jare lank ophaal: wat het hul onderdanigheid die blankes van Zimbabwe en veral die Commercial Farmers Union gebaat? Hulle het agteroor gebuig, hulle was lojaal en inskiklik, maar op die ou end het Mugabe dit as swakheid geïnterpreteer. Hulle grond is summier onteien en van die eertydse groot blanke bevolking van etlike honderde duisende mense in die voormalige Rhodesië het daar net mooi niks oorgebly nie.

Vyftien jaar nadat die Broederbond, die Nasionale Party en veral Nasionale Pers met sterre in hul oë Afrodemokrasie verwelkom het, lyk dit asof die werklikheid soos ‘n swartman met ‘n AK-47 in iemand se inrypad opdoem.

Smith weet waarskynlik nie veel van die Franse geskiedenis nie, want wat hy nie noem nie, is dat die Algerynse kwessie ‘n geweldige politieke twispunt in Frankryk self tussen Links en Regs ontketen het. Uiteindelik het Frankryk die “oorsese Franse” in die rug gesteek om die land self van ‘n moontlike burgeroorlog te red. Die Franse Algeryne kon die militêre stryd gewen het, net soos Suid-Afrika die ANC militêr kon vernietig het indien die ou regering maar net oor die politieke wil beskik het om dit te doen. Wat het die lugmag destyds met sy 300 Mirages en uitstekend opgeleide vlieëniers verhoed om die ANC se kamp naby Lusaka met die grond gelyk te maak?

Op dieselfde manier was die Portugese in Angola besig om die militêre geveg teen die MPLA te wen toe ‘n nuwe linkse en revolusionêre regering ná die sogenaamde Angelierrevolusie in Portugal aan bewind gekom het. Daardie regering het sowel Angola as Mosambiek aan die radikale, Marxistiese “bevrydingsbewegings” oorhandig, wat agterna alle blanke eiendom onteien, blanke vroue verkrag en die Portugese holderstebolder uit die land laat vlug het met dít wat hulle in hul tasse en hul motors kon laai.

Afrikaners en blankes beskik oor ‘n moontlike voordeel in dié sin dat ons nie meer oor ‘n moederland soos Frankryk of Portugal beskik wat ons kan verraai nie. Ook Brittanje, wat tradisioneel teen Afrikanerselfbeskikking en -vryheid gekant was en wou toesien dat ons deur die Zoeloes en Xhosas oorheers word, is besig om ekonomies en militêr te taan as gevolg van sy Noordseeolie wat opraak. Brittanje kan dus nie meer sy wil op ons afdwing soos hy in die laat tagtigerjare gedoen het toe hy die radikale ANC as enigste politieke erfgenaam vir Suid-Afrika voorgehou het nie.

Die feit dat Nico Smith nou die moontlikheid van blanke vlugtelinge wat met net die klere aan hul lywe die land sal moet verlaat aan ons voorhou – en dit nogal in Beeld – wil vir ons sê dat die aftakelingsproses eintlik al ver gevorder is. Wat Nico Smith aan ons oordra, is: julle het nie meer enige regte nie, die grondwet was ‘n foefie van De Klerk en kie. om julle te kry om van die weermag afstand te doen en nou is julle magtelose vlugtelinge in jul eie land. Aanvaar dit en wees onderdanig. Eintlik is julle slawe van die swart regime en te onnosel om dit in te sien; vandaar julle gemor oor minderheidsregte, die afskaffing van regstellende aksie en meer staatsbeskerming teen geweldsmisdaad.

Charles Nqakula, die vorige minister van veiligheid en sekuriteit, het dit al voorheen kliphard in die parlement gesê: “Verlaat die land as jy oor misdaad wil kla!”

Ná die Brandon-Huntley-geval in Kanada het blanke volksmoord egter skielik baie aktueel geraak. Indien ‘n Westerse regering – en dit nogal in ‘n liberale land soos Kanada – die gedagte van blankes wat deur swartes op grond van hul ras vervolg word, ernstig opneem, dan prikkel dit nogal die verbeelding.

Selfs Thabo Mbeki, Meneer Swartnasionalisme self, het nou die dag die V-woord gebruik toe hy gesê het dat die huidige rasgeoriënteerde denke van die ANC op volksmoord mag uitloop. Allerlei webwerwe waarin blanke, Afrikaner- en Boerevolksmoord bekla word, skiet by die dag soos paddastoele op, wat vir ons aandui dat die temperatuur in die land besig is om te styg.

Mense soos Nico Smith en Julius Malema is eintlik vir ons ‘n aanwins, want hulle praat reguit. Oor die afgelope anderhalf dekade en meer is ons so bewierook met Amerikaanse en Britse begrippe van rasseharmonie, multikulturalisme en natuurlik Tutu se “reënboognasie” wat hy net so by Jesse Jackson geplagiariseer het, dat baie van ons mense hulself steeds in ‘n gekkeparadys bevind. Hulle dink dat Suid-Afrika skielik ‘n Skandinawiese land geword het, ‘n eksperiment in menseregte en verdraagsaamheid, terwyl niks eintlik hier verander het van die dae toe Piet Retief en sy manne doodgemartel is en die Voortrekkerbabas se harsings agterna teen die wawiele uitgemoker is nie.

Die sogenaamde “debat” rondom ‘n moontlike bedreiging vir blankes wat daar nou in die Nasperskoerante plaasvind – ek sien Harald Pakendorf en Max du Preez kef ook vandag halfhartig in Rapport agterna – sal binne ‘n week of twee weer oorwaai. Daarna sal ons weer gebreinspoel word met al ons menseregte onder die wonderlike grondwet, wat regters Hlope en Motata dalkies vir ons gaan bewaar, en hoe dankbaar ons teenoor die grote ANC behoort te wees.

Nico Smith mag, soos Max du Preez en Christi van der Westhuizen en al die ander ekstremiste wat vandag in dié deurmekaar land as hoofstroomjoernaliste gereken word, ‘n malletjie wees. Maar hy is ook nie só mal nie. Gerugte wil dit hê dat hy lankal nie meer in Mamelodi tussen sy swart lidmate woon nie, maar in Pretoria-Oos tussen blankes. Met sy een voet in die swart wêreld en die soort mentaliteit wat daar geld, wil Smith vir ons waarsku dat ons nie moet dink dat ons met ons huidige “voordele” in die vorm van ons huise, plase en ander besittings, permanent gaan wegkom nie. Een of ander tyd, as ons houtgerus en op ons swakste is, gaan die ANC eenvoudig à la Mugabe die finale bedryf in sy bevrydingsdrama aankondig en sal ons soos die Algeryne uit die land gesit word of eenvoudig op ‘n groot skaal uitgewis word. Maar die paaie lughawe toe mag verstop wees en daar sal nie genoeg vliegtuie wees om ‘n lugbrug vir vier miljoen blankes te verskaf nie. Vandaar dus die volksmoordscenario wat nou skielik by almal – selfs die liberales – begin spook.

Dominee Nico Smith is waarskynlik heel korrek as hy in Beeld skryf:

“Sou dit tot ’n massa-aanval op al wat wit is, oorgaan, sit die wit mense vasgekeer soos rotte in ’n val. Hulle het geen moederland wat skepe sal stuur om hulle te verwyder nie. Hulle sal ’n massaslagting moet verduur.

Maar wat dan van die leër en die polisie? Waarom sou hulle vir die wit mense ter beskerming intree as hulle 15 jaar lank nog net kritiek vanuit die wit oord moes verduur? En wat van die VSA en die Verenigde Nasies?

Of hulle ter wille van vier miljoen wit ‘rassiste’ hulle aansien by die hele Afrika op die spel sal wil plaas, is hoogs te betwyfel.”

Ons moet onder geen illusie verkeer nie: die Britte, die Amerikaners met hul swart president, die Franse, die Duitsers, selfs die Hollanders wat nou al hoe meer na regs swenk, voel vere vir ons. Hulle sal hande gevou sit indien daar hier ‘n menseslagting teen blankes op die skaal van Rwanda – daardie ander “wonderwerk” uit 1994 – sou plaasvind. Al wat die Verenigde Nasies en die Veiligheidsraad sal bydra, sal ‘n debat wees oor die vraag of ons dit verdien, aldan nie. Miskien sal hulle – soos in Zimbabwe – na afloop ‘n paar sakke mieliemeel vir die swart armes stuur wat nou sonder hul wit boere en voedselprodusente moet klaarkom.

Maar vir ons sal hulle geen vinger verroer nie. Dis die ongelukkige – en harde – waarheid. Ons is suiwer op onsself aangewese.

Sodra ‘n mens egter onder hierdie verskriklike besef kom, begin die geskiedenis baie hard met jou praat. Was ons nie nog altyd aan die genade van Afrika se oorlogsugtige stamme uitgelewer nie? Binnekort verskyn daar by PRAAG ‘n heruitgawe van Paul Kruger se biografie deur D.W. Krüger. Ek hoop dat soveel as moontlik mense dit gaan lees. Want gedurende die hele negentiende eeu is ons aan die een kant deur die Britte en aan die ander kant deur Silkaats, Dingaan, Makapaan, Mosjesj en allerlei moorddadige swart leiers en hul volgelinge geteister. Gewoonlik het die Britte ook swartes teen ons opgesteek en terseldertyd enige kruitinvoere deur Boere via hul hawens in Natal en die Kaap verbied.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Oor die afgelope 250 jaar en meer is ons lewens nog feitlik elke dag bedreig. Ons leef nog altyd onder Damokles se swaard en die feit dat ons in 1994, danksy die wonderlike insigte van mnr. De Klerk en die spul kruipers waarmee hy hom omring het, ons weermag verloor het, is ‘n terugslag, maar nog nie ‘n ramp nie.

Die ANC is ‘n oorlogsparty. Sy hele denke, retoriek en sin vir intimidasie en geweldsdreigemente, is deurtrek van oorlogsug. Wat Nico Smith ook vir ons probeer sê, is dat indien daar ooit vrede in Suid-Afrika gaan wees – hoewel dit nooit ‘n geweldlose vrede gaan wees nie – sal dit geskied op voorwaarde dat ons daagliks voor ons heersers moet neerkniel en onsself moet verneder. Immers sien hulle nie, anders as wat mnr. De Klerk en die Nasperskoerante ons wil wysmaak, 1994 as ‘n “onderhandelde skikking” nie, maar as ‘n verowering.

Ons is verower en die verowerde beskik oor geen regte nie, allermins die reg op eiendom, op taal en kultuur, om van gelykheid nie eens te praat nie. Dit is hoe die ANC en waarskynlik ten minste die helfte van die swartes in die land – veral dié wat steeds aan die Ooskus woon – dink.

Wat het Paul Kruger-hulle ná 1877 gedoen toe sir Theophilus Shepstone en die Britte hul land geannekseer het? Hulle het begin weier om belastings te betaal. Dit het vanself ‘n plofbare situasie geskep wat op oorlog uitgeloop het.

In teenstelling met dominee Nico Smith, dink ek nie dis nou die tyd om briek aan te draai en die swartmag minder met kritiek en klagtes te irriteer nie. Dis juis nou die tyd om hulle te druk dat hulle oë traan.

Deur magte van buite, die Britte, Swede en VN met hul sanksies en aanstook van terreur in ons land – asook deur De Klerk se verskriklike kortsigtigheid – is ons in hierdie situasie gedompel. Ons het hierdie stryd en hierdie oorlog nie gekies nie; ander het dit oor ons gebring.

Ons is magteloos, maar ook nie so magteloos nie. Ons was nog altyd ‘n minderheid en ons het nog nooit in ons geskiedenis – behalwe vir ‘n dekade of twee toe P.W. Botha minister van verdediging en later president was – behoorlike wapens gehad nie. Nietemin het ons telkens as dit nodig was en ons in ‘n hoek gedryf was, met die hulp van Bo, oorwin. Al moet ons nou soos die wiskundenavorser in die rolprent Straw Dogs met potte warm kookolie vanuit ons huise veg, veg sal ons.

Vele ANC-woordvoerders soos Mokaba of Malema het nou al soveel keer met geweld gedreig dat ek begin dink hulle bluf net. Dominee Nico Smith dink kennelik hulle is ernstig, maar of hulle bluf of gaan aanval, maak eintlik nie saak nie. Want ons situasie gaan nie verander nie.

En solank ons in hierdie situasie van magteloosheid en uitgelewerdheid verkeer, sal ons op ons hoede moet wees. Ek wil nie soos die Boeremag klink nie en assosieer my ook nie met aggressiewe en onwettige pogings om die grondwetlike orde te verander nie, maar ons moet oor ‘n “gebeurlikheidsplan” beskik vir die dag as die ergste dalk wel plaasvind.

In elk geval ervaar ons tans ‘n graad van geweld en rasseaanvalle wat reeds ‘n volksmoord genoem kan word. Ons hanteer dit verbasend goed, maar moet besef dat dit moontlik net die begin van ‘n groter offensief kan wees.

En daarvoor, in dominee Smith se gevleuelde woorde, moet ons “pas op”.

Oorsprong:Dan Roodt se Woernaal
http://roodt.org/?p=132

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.