Sunday, 6 September 2009

Waarom sou Afrikaners nié Engelse skole afbrand nie?

Deur Dan Roodt

Maandag 31 Augustus 2009 3:06 pm

Powered by Max Banner Ads Dan Fourie openbaar homself as ‘n bewonderaar van prof Jonathan Jansen van Bloemfontein. Ook is hy geweldig geskok deur my voorstel dat iemand ‘n paar Engelse skole gaan afbrand. Toe ek aanvanklik voorgestel het dat Afrikaners iets daadwerkliks moet begin doen om hulself teen die staat se taalaggressie te verdedig, het ek die afbrand van Engelse skole bloot as ‘n voorbeeld gebruik. Self sal ek nie tot so iets oorgaan nie, want ek is bang ek steek myself aan die brand. Boonop hou ek nie van die reuk van petrol nie.

Feit is egter dat die sogenaamde taalstryd in Afrikaans hoofsaaklik ‘n leunstoelaktiwiteit is. Dit herinner my nogal baie aan die regse beweging in Amerika wat iemand beskryf het as ‘n “internetaktiwiteit wat deur rekenaarentoesiaste as ‘n stokperdjie in hul vrye tyd beoefen word.” Sommige mense hou ook vergaderings oor taalregte, die grondwet en dergelike meer en gaan agterna huis toe en klop mekaar op die skouer omdat hulle so hard vir Afrikaans veg. Mea culpa, ek herken myself in dié prentjie.

Die eerste Afrikaner wat tot een of ander vorm van optrede buite die kuberruim sou oorgaan, sou dus die eerste persoon wees wat ‘n geringe vinger in die dyk probeer steek terwyl ons in ‘n see van Engels verswelg.

Nog ‘n rede waarom die afbrand van Engelse skole as ‘n vorm van politieke en taalkundige optrede dalk aanvaarbaar mag wees, is omdat dit in Suid-Afrika so min of meer tradisie is om skole af te brand. Die skoolbranders van 1976 en daarna word vandag as helde vereer en elke jaar op 16 Junie vier ons “Jeugdag” om ons aan dié blye gebeurtenis te herinner. Behalwe dat hulle skole afgebrand het, het die “jonges” – “les jeunes” soos daar in Frankryk verwys word na mense met ‘n donker gelaatskleur wat motors aan die brand steek – op 16 Junie ook ‘n Joodse dokter, dr Melville Edelstein, vermoor. Miskien is ek te konserwatief, maar ek is volstrek gekant teen die doodmaak van Joodse dokters, veral dié wat jare lank swart mense gesond gemaak het. Noem dit nou maar ultra-regs, maar ek is nog nie so “bevry” dat ek dit as ‘n bevrydingsheldedaad sien nie.

Daar is ook ‘n ultra-regse teorie wat beweer dat die opvoedingstelsel deel van die ideologiese staatsapparaat sou wees en deur die bekende ultra-regse filosoof en teoretikus, wyle Louis Althusser, voorgehou is. Die Engelse skool in Suid-Afrika hou hom eintlik baie min met opvoeding besig, maar vorm gebreinspoelde idiote wat die staatsideologie van alles-Engels, transformasie, regstellende aksie en die ANC-geskiedenis soos ‘n godsdiens aanhang.

Enigeen wat dus om middernag met ‘n kannetjie British Petroleum na sy naaste Engelse skool sou sluip om die plek af te brand, sou vir seker ‘n stok in die ideologiese wiel steek. As hy op pad iewers nog by die SAUK in Aucklandpark kan aandoen, kan hy dalk iewers vorentoe ‘n nasionale held word. soos Nelson Mandela of Joe Slovo.

So ‘n persoon sal in die toekoms dalk strate na homself vernoem kry, die Nobelprys vir vrede en ander eerbewyse te beurt val. Dis amper deel van die tydsgees. Nou onlangs het die Britse minister van buitelandse sake, David Miliband, verklaar dat “terreur soms geregverdig is” en daar is wyd in die eilandkoninkryk daaroor berig. Aboobaker Ismail, wat die Kerkstraatbom gestel het, asook Heleen Pastoors wat dit vervoer het, is vandag groter helde as Paul Kruger of NP van Wyk Louw.

Dit is trouens iets wat ek nie kan verstaan nie. Ons lewe in ‘n land van volslae anargie waar mense daagliks vermoor, beroof en verkrag word, waar onderwysamptenare by Afrikaanse skole opdaag, die hoof summier afdank, die beheerraad ontbind en die hele skool oorneem, maar wee die Afrikaner wat nie die regte ding doen en sy TV-lisensie betaal nie! Of dalk in die kuberruim – waar al die onskadelike bekgeveggies oor Afrikaans en verlede Saterdag se rugby aan die gang is – voorstel dat taalstryders die reg in eie hande neem.

So ‘n persoon is ‘n gevaar vir die samelewing! Die afbrand van skole in Soweto moet gevier word, misdaad is normaal en terreur soos Joe Slovo s’n is ‘n glansende heldedaad. Maar moet tog net nie jou viltpuntpen uithaal en iewers op die miljoene slegs-Engelse tekens “Waar is die Afrikaans?” skryf nie. Dan gaan ‘n mens darem te ver. En as jy so ‘n gedagte op jou hardeskyf bêre, beland jy netnou saam met die Boeremag in die tronk.

As die Amerikaner Ann Coulter nou hier was, het sy dalk gesê: “My enigste beswaar teen die Boeremag is dat hulle net een ou stukkie treinspoor in Soweto opgeblaas het en nie sommer die hele Parlementsgebou in Kaapstad nie.” Vir diegene wat nie weet nie, me Coulter het in ‘n stadium oor die sogenaamde “Oklahoma-bomplanter” gesê: “My enigste beswaar teen Timothy McVeigh is dat hy nie sy vragmotor vol kunsmis en diesel voor die New York Times-gebou gaan parkeer het nie.” En ek moet sê, ek is nogal geneig om met Ann saam te stem. Sonder die New York Times sou die wêreld beslis ‘n beter plek gewees het.

Wat Jan-Jan Joubert en sy bende medehensoppers betref, ek dink Dan Fourie het Joubert so pas meer beledig as wat ek ooit kon doen deur hom ‘n Afrikaner te noem. Jan-Jan Joubert is al so ver van Afrikanerskap soos ‘n ruimtewese uit Distrik 9 en sal beslis gekrenk voel om so getipeer te word.

Persoonlik het ek niks teen Jan-Jan nie. Trouens, ek blameer sy onderwysers wat hom nooit uit die spesiale skool moes vrygelaat het nie. Maar hy doen goeie werk by Rapport, want ek dink hy vervreem die laaste paar lesers wat die koerant nog het. Die einddoel van Jan-Jan, Liza Albrecht en al die ander zombies wat op Sondae die Afrikaanse vertaling van ANC Today aanbied, is om finaal ontslae te raak van Rapport se wit Afrikaanse lesers wat vir die koerant ‘n verleentheid is. Die langtermynplan is om Rapport en City Press saam te smelt en sodoende nog ‘n slag vir transformasie en verengelsing te slaan.

Indien enige aspirantvuurvlooie dié briefie lees: moenie Mediapark in Kingsway met die SAUK-gebou daar oorkant verwar nie. Media24 sal vanself in duie stort en hoef dus nie afgebrand te word nie.

Oftewel: Moenie goeie petrol mors nie. Hou ‘n bietjie vir jou motor ook.

Oorsprong:Woernaal van die Afrikaanse vryheidsvegter (Roodt.org)
http://roodt.org/?p=124

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.