Sunday, 11 October 2009

538 lede van polisie is self skuldig

2009-10-09 09:25

Virginia Keppler

Altesame 538 polisielede is in die afgelope boekjaar aan moord, verkragting, korrupsie, gewapende roof en dwelmverwante aanklagte skuldig bevind.

Die departement van polisie het in ’n antwoord op ’n vraag van die DA in die parlement gesê 669 polisielede is tussen
1 April 2008 en 31 Maart 2009 gearresteer.

Van dié getal is 426 lede van moord, verkragting gewapende roof en korrupsie aangekla. Net 82 van dié sake is teruggetrek.

Me. Dianne Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor polisie, het gesê van die 60 lede wat van moord aangekla is, is net 17 uit die polisie ontslaan.

Van die 39 lede wat van verkragting aangekla is, is 7 ontslaan; van die 306 wat van korrupsie aangekla is, is 51 ontslaan en van die 21 lede wat vir gewapende roof aangekla is, is net 7 ontslaan, het sy gesê.

“Dit is onredelik dat diegene wat daarvoor verantwoordelik is om kwesbares te beskerm, self die oortreders is,” het sy gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/b977612903a448d3b3721d46be7922ce/09-10-2009-09-25/538_lede_van_polisie_is_self_skuldig

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.