Sunday, 25 October 2009

En as ons klaar gekla het

2009-10-23 06:32

Chris Louw

Kom ons wees eerlik en erken dit. Die toekoms is swart.

Die toekoms is nogtans ’n ding wat voortdurend verander. Soms selfs in ’n oogwink, soos wanneer ’n donker skaduwee onverwags in die nag oor jou bed buk en sê: “Keep quiet. Where is the money?”

Maar meestal is die verandering nie so drasties nie. Mense pas hul toekomsverwagtinge geleidelik aan en dit word beïnvloed deur baie dinge – materiële omstandighede, werkvooruitsigte, persoonlike veiligheid, ouderdom, politiek...

Die toekoms het die laaste paar jaar ’n metamorfose ondergaan.

Ek het nog nooit so ’n algemene moedeloosheid onder Afrikaners ervaar soos tans nie. Ingeligte rubriekskrywers – mense wat die nuwe politieke bedeling meestal met oop arms verwelkom het – sien min om oor bly te wees; inteendeel.

Jy dink nog jy wil ’n mening lug wat ’n paar maande gelede erg stroomop sou wees, dan lees jy een van jou kollegas skryf dit al.

Miskien is dié Jungiaanse sinchronisiteit te verstane. Baie van my kennisse wil nie meer koerant lees nie. Hulle is walgensvol vir slegte nuus.

Maar die meeste van ons verkies om ingelig te bly. En koerante sal hul plig versaak as hulle nie verslag doen oor wat in die land aangaan nie. Wat aangaan, is dikwels om van te huil. Stadigaan begin ontleders dit toegee en met groeiende selfvertroue daaroor skryf.

’n Mens is nou maar eenmaal geneig om jou verwagtinge uit te stel totdat die toekoms jou ingehaal het. Miskien daarom dat dit so lank gevat het voordat ons toegegee het dat die land se wiele al lelik wiegel en waggel, al het hulle nog nie heeltemal afgeval nie.

Die maatskaplike en politieke kultuur in Suid-Afrika het die laaste paar jaar onherroeplik verander. Goedgesindes wat wou bly glo aan ’n liberale demokrasie met sy ingebedde waardes het hul eie vertolking bly projekteer op wat hulle om hulle waargeneem het.

Totdat die teenstrydighede eenvoudig te groot geraak het.

Dis net nie meer moontlik om die blatante sistemiese korrupsie te versoen met ons idealistiese verwagtinge nie. Institusionele wanbestuur – net soos misdaad – is nie bloot onverwante aberrasies nie. Dis ’n kultuur. En dit het gekom om te bly.

Dis nie net Afrikaners wat so dink nie, hoewel die aanslag op ons taal en kultuur – en ja, laat ons dit prontuit sê: op ons ras – meer gefokus is as dié op enige ander herkenbare groep in die land.

Selfs daardie onrehabiliteerbare ANC-bielie Kader Asmal is bekommerd. Baie ontleders glo Asmal – in sy selfopgelegde rol as “minister van alle sake” – is verantwoordelik vir baie van die gemors, veral sover dit onderwys en die vrot stand van watersake betref.

Nou bestempel ’n ontnugterde Asmal mnr. Jeff Radebe, minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, as ’n “politieke analfabeet”. En hy sê hy hoop nie hy lewe meer wanneer mnr. Fikile Mbalula, adjunkminister van polisie, die dag sekretaris-generaal van die ANC word nie.

Goed, Asmal was ’n Mbeki-ondersteuner en sy bitterheid moet in daardie konteks beoordeel word. Maar sy houding is breedweg verteenwoordigend van ’n algemene misnoegdheid onder middelklas-mense.

Die armes gooi klippe, breek geboue af en steek buitebande aan die brand om uiting aan hul politieke griewe te gee.

Middelklas-mense het nie daardie vryheid nie. Ons het te veel om te verloor.

Miskien het dit tyd geword dat ons bestekopname doen. Dat ons eerlik, sonder sinisme of oordrewe idealisme, vasstel waar ons staan.

Dis die enigste basis waarop ons, ten minste gedeeltelik, beheer oor ons eie toekoms kan herwin. Dis nou te sê as ons nie maar net ons eie gemor wil aanvaar as die morbiede simptome van die onafwendbare oorgang na aftakeling nie.

Om by die regte antwoorde uit te kom, moet die regte vrae gevra word. Een so ’n vraag is: Wat lê anderkant kla?

Tim du Plessis is met verlof.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/2149/4b79ee5ab437420ca6e96d38830ea3e9/23-10-2009-06-32/En_as_ons_klaar_gekla_het_

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.