Sunday, 25 October 2009

Geen hoop oor: Ek’s te wit vir hierdie land

deur Te wit van Mokopane

2009-10-23 22:46

Dis met ’n groot pyn in my bors dat ek hierdie brief skryf.

Die pyn is net daar waar my hart eers was. Nou is dit uitgeruk nadat ek uiteindelik my kop uit die sand gehaal en besef het ek is te wit vir die land.

Baie jare lank het ek geglo ná meer as 15 jaar sal wit en swart in vrede kan saamleef. Ek was verkeerd.

As iemand op ’n plaas vermoor word, is dit ’n plaasmoord. Moorde in huise word toegeskryf aan “mislukte rooftogte”, want daar word gemoor, maar niks gevat nie. En as die vermoordes wit is en die moordenaars swart, is dit nie rassisme nie.

Die Reitz-manne is rassiste (let wel, niemand daar is dood nie). Die Waterkloof-vier is rassiste. Atlete wat nie saamstem met Atletiek Suid-Afrika nie is rassiste.

En as ek my mond durf oopmaak oor swak diens is ek ook ’n rassis.

Net wit mense is rassiste. Ek is ongelooflik moeg daarvoor om die swaar bordjie om my nek te dra.

Die leerlingraad van ’n landbouskool in die Kaap is te wit en daarom reël die ander leerlinge ’n optog om daarteen te betoog.

Ek wil ook ’n optog reël. Ek wil toi- toi omdat niemand my stem wil hoor nie – want ek is wit.

Omdat ek nie arm kan wees nie, want ek is wit. Ek kan nie ’n RDP-huis kry nie, want ek is wit. Ek kan nie ’n beurs kry nie, want ek is wit.

En met wit mense gaan dit mos net goed. Ons het mos niks nodig nie.

Ek het geen, maar geen hoop meer vir ons land nie. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ons ook pasboekies moet begin dra.

En dan praat ek nie eers van die rassisme teen bruin mense nie.

Ek is wit, ek is Afrikaans en die rooigrond van Afrika loop in my are. Maar kom my skippie in, sal jy my op die eerste vliegtuig na ’n ander land sien.

Hoekom tou opgooi? Want al is dinge nie beter in die ander land nie, sal die bordjie om my nek daar oorkant afval en sal ek nie geïgnoreer word net op grond van die kleur van my geboortepakkie nie.

Ek weet hoekom ons blank genoem word. Dit beteken leeg soos ’n “blank” papier. Leeg en van geen waarde nie.

Dis hoe ek vandag, 15 jaar ná apartheid, voel.

Ek is wit en voel onwelkom in my land wat ek so liefhet.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe/1976/f6dfe4a7f80d4d7bba7730e0391387a7/23-10-2009-10-46/Geen_hoop_oor_Ek%E2%80%99s_te_wit_vir_hierdie_land

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.