Sunday, 18 October 2009

Kapers skiet jong vrou dood wat in Alexandra werk

2009-10-15 11:55

Susan Cilliers

’n Jong vrou wat byna klaar was met haar meestersgraad in sielkunde “het nie verdien” om gisteroggend koelbloedig deur kapers doodgeskiet te word nie.

So het mnr. William Adams, ’n goeie vriend van me. Bianca Warburton, gisteraand gesê.

Haar man, Clifford, en haar ouers, broer en suster was te platgeslaan om oor die 26-jarige blonde vrou se dood te praat.
Warburton was omstreeks 09:00 gister op pad van ’n kliniek in Alexandra, Johannesburg, waar sy haar internskap doen, toe twee kapers haar in Eerste Straat gekonfronteer het.

Volgens supt. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, is sy in die bolyf gewond, maar het nog ’n ent aangery totdat sy in Londonweg beheer oor haar motor verloor het.

Sy het vermoedelik kort daarna agter die stuurwiel beswyk, want toe polisielede en paramedici op die toneel gekom het, was sy reeds dood, het Dlamini gesê.

Die twee kapers het niks gesteel voordat hulle gevlug het nie. Ooggetuies kon die kapers, wat nie vermom was nie, en die gebeure aan die polisie beskryf. Die kapers is nog op vrye voete.

Adams het gesê Warburton was ’n “ongelooflike vrou” wat vir ander omgegee het en “nie ’n vlieg sou seermaak nie”.

“Sy het net verlede week haar eksamen geskryf om toelating tot die mediese raad te verkry. Bianca wou haar weer in Durban vestig. Sy het daar grootgeword en haar ouers en broer en suster woon daar.”

Adams het gesê hy het gisteroggend op ’n radiostasie van die kaping gehoor, min wetende dat Warburton die slagoffer was.
“Iemand het my later gebel en gesê dis sy.

Ons is almal nog verskriklik geskok en het nog nie eens begin dink aan begrafnis­reëlings nie.”

Volgens Adams het Warburton se ouers gister van Durban na Johannesburg gekom nadat hulle die nuus gehoor het.

Van Warburton se geskokte familielede en kliniekpersoneel het volgens Eye Witness News op die misdaadtoneel saamgedrom.

Me. Gabrielle Ngwenya van die Alexandra-kliniek het luidens ’n berig op dié radiostasie gesê pasiënte en personeellede is getraumatiseer en sal berading ontvang.

Me. Shirona Patel, woordvoerder van die Universiteit van die Witwatersrand waar Warburton gestudeer het, het aan Sapa gesê die universiteit betreur haar dood.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/74e43af27c834510b29dae3a19c52162/15-10-2009-11-55/Kapers_skiet_jong_vrou_dood_wat_in_Alexandra_werk

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.