Sunday, 25 October 2009

Keuse was nié net stryd of oorgee van mag nie

deur Christo Conradie

2009-10-22 23:09

Die apartheidspook in sy aaklige, omgekeerde gedaante is op loop. En die ewige stryders teen die ou weergawe begin versigtig, dog dringender en al meer benoud teen die nuwe weergawe piepgeluide maak, soos ook Ferdi Greyling in sy rubriek in Beeld onder die opskrif “’n Nuwe onwerkbaarheid”.

Desnieteenstaande wil ek tog nie ’n “ons het mos gesê”-deuntjie pleeg nie.

Iets anders dring my nou al lank om ’n pennie in die pot te werp, naamlik die ewige, pateties geykte siening en/of aanvaarding deur die fanatiese argitekte van die nuwe Suid-Afrika dat daar in 1994 geen alternatief was nie.

Nee, dit was mos óf oorlog óf magsoordrag.

Hoe lank gaan met dié leuen voortgehamer word?

Totdat, ná die meedoënlose frekwensie van herhaling, selfs geswore volkstaters en “verregses” dit ook glo?

Want die ja-stemmers glo vaster daarin as in ’n belydenisskrif.

Die regses se oortuigings is in elk geval tog irrelevant, so waarom die leuen aanhou bemark?

Ek vermoed dit is sodat die leuenaars dit self kan begin glo.

Enigiets is tog beter as om te erken dat Andries Treurnicht, Eugene Terre’Blanche en Pieter Mulder toe al die tyd ’n punt beet gehad het.

Dit is tog ’n elementêre gegewe dat daar in 1994 ook die opsies van federale state in volkstate (oeps, eina!) was wat op een of ander manier ’n vorm van selfbeskikking vir minderhede kon bewerkstellig het.

Sjoe, wat ’n rits onwelvoeglike terme!

Feit is, dit is nie deur Suid-Afrikaanse regses uitgedink nie, dis ’n konsep vanuit moderne, ontwikkelde lande, deur hulle ook in gebruik soos in die volkereg gelegitimeer.

Ek glo dit kón in Suid-Afrika ook werk.

Ferdi, in jou benoudheid oor die meters diepe rioolafval mik jy (nog) ’n steelhou na ons ou regses, in jou benoude spronge soek jy ’n leier en ’n oplossing.

Jy sê dat dit nie sal help om ou vyande van 20 jaar gelede uit te vloek nie.

Dan maak jy tog die stelling dat die regse groepe ons net in die Brumameer (vol rioolvuil) sal lei.

My vriend, die regses het die rioolvuil al geruik toe jy ja gestem het.

Jy ruik dit nou eers omdat dit opgestoot het tot onder jou ken.

Maar voordat jy so al skellende op die regses onder daardie oppervlak verdwyn, wil ek hê jy moet weet waarom in die eerste plek die immorele ou apartheid ingestel was: Die sekere wete dat die alternatief moord, doodslag en ’n algehele rioolspul sou afgee.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe/1976/8f15b696428a431e8d865a7d0f3cb13a/22-10-2009-11-09/Keuse_was_ni%C3%A9_net_stryd_of_oorgee_van_mag_nie_

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.