Sunday, 25 October 2009

Lesse te leer uit Nederlanders

deur Johan de Klerk

2009-10-22 23:09

Ek fantaseer net soos Piet Witbooi van Burgersfort oor die dag wat hierdie African National Circus se laaste optrede aanbreek. Ek het ook al gewonder watter bydrae ’n mens in hierdie verband kan lewer.

Onlangs gee ’n afgetrede joernalis my Geoffrey Parker se boek getiteld The Dutch Revolt, ’n fantastiese geskiedenisboek oor die penarie waarin die Nederlanders hulle in die 15de eeu bevind het as deel van Spanje.

Die Nederlanders se eerste versethandeling was om ’n lys op te stel van die punte waarop hulle gevoel het hul regte as ’n minderheidsgroep word misken en dit aan die Spaanse koning oorhandig. Dit sal maklik wees om so iets hier ook op te stel.

Tweedens het Spanje die Nederlanders op alle gebiede begin belas ten einde onbeheersde staatsuitgawes te betaal. Hier het die Nederlanders hul voet neergesit oor belasting en hul geld in ’n fonds inbetaal waaruit Spanje ten duurste by hulle moes begin leen, met spesifieke voorwaardes oor waarvoor die geld gebruik kon word.

Laastens lyk dit my het hulle besef dat enige verbintenis met Spanje, hetsy finansieel, kultureel of polities, hul ondergang sou beteken en is die laaste deel van die boek (sal ons nou maar sê) nie ’n reënboognasie-verhaal nie.

Veral toe die Nederlanders hul eie dorpe begin “annekseer” het. (Verder het die uitbreek van griep en gepaardgaande swak bestuur van die situasie tot ’n hongersnood gelei).

Nodeloos om te sê, vandag is Nederland die wêreld se produktiefste landbouland, terwyl Spanje geen bekende uitvoerproduk het nie en maar sy Sierra Nevada en ou geboue as toerisme- aantreklikhede probeer bemark, diere met spiese jaag en politici steeds met bomme die lug in blaas.

As ’n mens nou terugkyk, was dit dalk die Nederlanders se redding om Spanje se politieke idees te respekteer, maar respekvol van die hand te wys, veral as ’n mens in ag neem dat George­ Orwell sy politieke satire Animal Farm geskryf het nadat hy in die 1930’s Spanje se revolusie deur die werkerklas eerstehands beleef het.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe/1976/65d4cb828c564c489ef07396b5fa7d94/22-10-2009-11-09/Lesse_te_leer_uit_Nederlanders

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.