Thursday, 1 October 2009

Moordenaar in trane oor vonnis

2009-09-30 10:29

Sonja van Buul

’n Moordenaar het gister in die Vanderbijlpark-streekhof in trane uitgebars toe hy tot effektief 30 jaar tronkstraf gevonnis is weens moord en roof.

Tshediso Meschack Nkomo (26) is skuldig bevind aan die moord op mev. Dianna Angelbauer (64), ’n bekende sakevrou van die dorp.

Hiervoor is hy tot 25 jaar tronkstraf gevonnis terwyl hy bykomende tien jaar tronkstraf opgelê is vir roof, waarvan vyf jaar opgeskort is.

Beeld het in Mei berig dat Nkomo ure ná die wrede hamermoord deur die Vanderbijlpark-polisie vasgetrek is.
Angelbauer was die eienaar van Dianna’s Pawn Shop in Vanderbijlpark, die winkel waar sy vermoor is.

Mev. Anita van Rooyen, ’n werknemer, het op 19 Mei saam met mev. Claudia Steyn (30), Angelbauer se dogter, dié se man, mnr. Blakes Steyn (37), en ’n veiligheidsbeampte van Rescom op haar werkgewer se bebloede lyk afgekom. Nkomo was ten tye van haar moord ’n werknemer by Angelbauer se pandjieswinkel.

“Dis goed dat puik polisiewerk deur ’n swaar vonnis soos dié een gevolg word,” het insp. Kinnie Steyn, Vanderbijlpark-polisiewoordvoerder, gister gesê.

“Dié vonnis stuur ’n duidelike boodskap aan oortreders dat misdaad nie ongestraf bly nie.”

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/976e07ac6d86428eb2dfa04d85cf4cf4/30-09-2009-10-29/Moordenaar_in_trane_oor_vonnis

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.