Sunday, 25 October 2009

Nkosi, seën ons met apartheid

Deur Dan Roodt

Saterdag 17 Oktober 2009

In Suid-Afrika is die werklikheid altyd vreemder as fiksie. Elke dag lees ons van nuwe absurditeite, soos betogers teen “dienslewering” wat munisipale kantore afbrand, vermoedelik in ‘n poging om “dienslewering” te verbeter. As jy die polisie bel, kom hulle nie. Maar wee die vrou wat ‘n gewapende rower uit noodweer in haar huis doodskiet, dan daag twintig gewapende polisiemanne terstond op om haar vir moord te arresteer.

By hierdie surrealistiese werklikheid moet gevoeg word die moroniese gesanik van joernaliste in die hoofstroompers oor apartheid. Dis asof hulle terugverlang na apartheid, want toe was daar vir hulle – gewaande – morele sekerhede wat hoegenaamd nie meer in ons kakistokrasie geld nie. En vir diegene wat dink dat ek nou op Grieks vloek, “kakistokrasie” beteken inderdaad “regering deur die slegstes en onbekwaamstes”.

Die jongste voorbeeld van iemand wat in sy poging tot morele selfregverdiging ‘n kinderlike karikatuur van apartheid aan ons voorhou, is ene Gert van der Westhuizen in Beeld.

‘n Mens kan seker elkeen van Van der Westhuizen se stellings oor hoe erg apartheid was met statistieke en ander historiese gegewens weerlê, maar die algemene houding van dié tipe hoogheilige rubriekskrywers in Beeld, Rapport, Die Burger en soortgelyke media kan opgesom word met die stelling deur een of ander Marxistiese geskiedskrywer: “Moenie my met die feite verveel nie!”

In elk geval, soos ‘n briefskrywer hier op praag.co.za uitgeroep het: “…die vraag (ontstaan) of Van der Westhuizen hoegenaamd bewus is van die hede? Het (hy) nog kontak met die werklikheid?”

Ek dink die antwoord is ‘n besliste nee. En dan dink ek, hoe meer geweld en onreg daar in ons tyd plaasvind, hoe harder gaan Van der Westhuizen en diesulkes hul agtergehaalde stryd teen hul apartheidsfiksie voortsit.

Teenoor apartheid, wat alles wat boos en sleg is, voorstel, staan daardie toonbeeld van voortreflikheid, geregtigheid en morele vlekkeloosheid wat vandag as transformasie bekendstaan.

Gestel nou toe die Nasionale Party in 1948 met ‘n minderheid blanke stemme maar ‘n meerderheid setels ingekom het, het hy pleks van apartheid, hedendaagse rassetransformasie toegepas? Dan sou Verwoerd die Nobelprys vir vrede gewen het en sou Gert van der Westhuizen en sy bende napraters vandag popelende lofprysinge aan die NP se transformasiebeleid geskryf het. Moontlik sou hulle dan vandag oor die veel groter vergrype van kommunisme, pleks van apartheid, geskryf het in ‘n soortgelyke poging tot morele selfregverdiging.

Ons hoef maar net na Zimbabwe te kyk om ‘n suksesvolle voorbeeld van rassetransformasie te sien. Hoewel dié land ‘n paar ekonomiese “uitdagings” (alles in die Suider-Afrikaanse politiek kan mos tot, hetsy ‘n “challenge”, hetsy ‘n “issue” gereduseer word) beleef, het die een ras daarin geslaag om die land so te sê volledig van ‘n ander ras te suiwer. Op die duur gaan die plaaslike vorm van transformasie dieselfde bewerkstellig: om ook Suid-Afrika van blankes te suiwer. En as jy nie hiervan of van misdaad hou nie, kan jy gerus emigreer, soos Charles Nqakula dit so welsprekend in die parlement gestel het.

Apartheid, spyt dit my om te sê, het niks gedoen om Afrikanervoortbestaan in dié land te verseker nie. Indien die destydse NP die ANC-model van transformasie ten gunste van Afrikaners toegepas het, sou ons dalk vandag ‘n homogene Afrikanerrepubliek met Afrikaans as enigste amptelike taal gehad het. Pleks van ‘n Afro-Saksiese republiek waarin Engels oorheers.

Hoe sou transformasie gewerk het? As voorheen benadeeldes wat van die stedelike Engelse ekonomie en die mynhuise uitgesluit was, sou Afrikaners ná 1948 besluit het om die land ‘n bietjie te transformeer. In die eerste plek sou hulle die Engelse mynhuise gedwing het om AEB, oftewel Afrikaner-ekonomiesebemagtiging, in te stel. Miljarde rande se aandele in Anglo, De Beers, Anglovaal, JCI, ensovoort sou aan Afrikaners met politieke konneksies oorgedra word.

Wat vir die mynhuise geld, sou ook vir die res van die ekonomie geld. Binne tien tot vyftien jaar sou Afrikaners die totale ekonomie van Suid-Afrika beheer, tesame met die staat natuurlik. Dit sluit die destydse Engelse pers met sy giftige anti-Afrikanerpropaganda in. Die hele spul sou moes transformeer met Afrikaners in alle hoë poste wat voortaan beleid sou bepaal. Jaarliks sou AEB-kongresse gehou word om vordering te meet en die voorsitter van die Afrikanerbestuusforum sou gereeld dreigemente aan maatskappye uitvaardig wat voete sleep om Afrikanerbestuurders en -direksies aan te stel.

Terwyl die ou tweetaligheidsbeginsel nie wetlik verander sou word nie en swartmense natuurlik “vry sou wees om hul tale te praat en self te ontwikkel, sonder staatsbeskerming” – soos tans die geval met Afrikaans is – sou die staat in die praktyk van Afrikaans die enigste amptelike taal gemaak het. Aangesien sowel die openbare as die privaatsektor deur Afrikaners oorheers sou word, sou blanke Engelse ouers twee keer dink voor hulle hul bloedjies na ‘n Engelse skool stuur waar hulle in ‘n vreemde taal met weinig ekonomiese nut binne Suid-Afrika opgevoed sou word.

Voeg hierby die demografiese aspek van transformasie. Net soos die ANC tans die swart geboortesyfer met “kindertoelaes” stimuleer, sou die destydse NP met ‘n paar versiende transformasioniste aan die stuur ingesien het dat Auguste Comte wel gelyk had toe hy gesê het: “Demografie is die noodlot.” Deur wetgewing, belastingtoegewings en kindertoelaes sou Afrikanervroue oorgehaal word om soveel kinders as moontlik te hê.

Op die laer vlakke van die samelewing en ekonomie, sou “‘n wet op billike indiensneming” geld: elke moontlike pos moes ten eerste vir ‘n lid van “die aangewese groep” gereserveer word en Engelse of swartes sou net so ‘n pos kon bekom indien daar geen Afrikaner beskikbaar was om dit te vul nie.

Indien enige voornemende swart, bruin of Engelse aansoeker gedink het dat Afrikaners darem nie al die beskikbare poste in die land kon vul nie, was daar nog ‘n angel in die wet op billike indiensneming. Net soos tans waar ‘n buitelandse swarte van elders in Afrika bo ‘n plaaslike blanke aangestel kan word, bloot op grond van sy ras, sou Europese immigrante wat met Afrikaners identifiseer en hul kinders noodwendig na Afrikaanse skole toe stuur, ook as “lede van die aangewese groep” beskou word.

Honderde duisende Nederlanders, Duitsers, Vlaminge en moontlik Skandinawiërs per jaar sou op hierdie wyse die groeiende Afrikanerdemografie kom versterk.

Net soos tans, sou die Afrikanerpolitici van destyds ‘n eenvoudige boodskap vir ontevrede swartes, bruines en Engelse hê: “Man, as jy nie van transformasie, asook dinge soos diensbillikheid, regstellende aksie, ensovoort, hou nie, staan dit jou vry om te emigreer.” ‘n Konstante stroom Engelse, bruines en swartes sou die land verlaat omdat hulle eenvoudig nie meer ‘n bestaan kon maak nie, maar net soos die ANC nou argumenteer, sou die NP-regering destyds beweer het: “Ag wat, hulle wil net graag die toenemende geleenthede in die buiteland benut.”

Met ‘n bevolkingsuitbreidingsprogram, blanke Europese immigrasie en emigrasie van nie-Afrikaners op volle vaart, sou die demografie natuurlik binne tien tot twintig jaar in Afrikaners se guns geswaai het. Teen 1970 sou Afrikaners die meerderheid van die bevolking, twaalf miljoen teenoor agt miljoen van die res, uitgemaak het.

By hierdie punt sou hulle vir Nelson Mandela veel vroeër uit die tronk gelaat het, die ANC en SAKP toegelaat het om te bestaan en uiteraard universele stemreg ingestel het. Volgens die Westminster-beginsel van: “een mens, een stem en die wenner vat alles”. Met die klem op “vat álles”.

Teenoor die magtige NP wat sy kaders na elke faset van die samelewing “ontplooi”, met ‘n stewige meerderheid in die parlement, sou ‘n swetterjoel klein opposisiepartytjies waaronder die Progs, die Kommuniste, die ANC, die IVP, die Arbeidersparty (kleurlinge) en dergelike magteloos in die parlement stroomop kef.

Anders as tydens die bose apartheid, sou daar geen tuislande bestaan nie. Want sien, in die grondwet van die Nasionale Party staan geskryf: “Suid-Afrika behoort aan almal wat in die land woon.” In die praktyk beteken dit die land behoort aan die meerderheid en Afrikaners kan voorheen Zoeloe- of Xhosa-gronde of selfs die spul Engelse se plase in Natal wettiglik koop op die beginsel van “vrywillige koper, vrywillige verkoper”. Net soos die ANC-staat vandag geen vierkante sentimeter van Suid-Afrika as Afrikanergrondgebied erken nie, sou die destydse NP-regering nóg Zoeloeland, nóg die Transkei, nóg Venda of enige ander plek as grondgebied wat aan ‘n ander etniese groep behoort, erken.

Transformasie en regstellende aksie ten gunste van Afrikaners sou meedoënloos, ongenaakbaar en ewigdurend wees. Net soos vandag waar “voorheen benadeelde” lede van die ANC se nomenklatoera in hul swart Mercedesse en BMW’s van een korporatiewe of staatsvergadering na ‘n ander snel en al hoe meer rykdom vir hulself toeëien, sou die Afrikanerheersersklas alle mag en rykdom vir homself inpalm.

Soos ‘n lid van die Kommunistiese Jeugliga eenkeer vir my oor die telefoon gesê het: “Dis die lastigheid van demokrasie: die meerderheid se woord is wet.”

Met ‘n demografiese meerderheid van Afrikaners aan die mag, sou die finale fase van transformasie voorspelbaar wees. In die praktyk sou alle staatskole Afrikaans wees, want alle oorblywende Engelse skole sou onder die demografiese mag van Afrikaners een vir een getransformeer word. Maar daar sou nog ‘n paar honderd Engelse privaatskole oorbly. Skielik, op ‘n dag, daag ‘n twintigtal Afrikanerkinders by ‘n Engelse privaatskool op en eis onderrig in Afrikaans. ‘n Hofsaak volg en daar word bevind dat dit diskriminerend teen Afrikaners is om hulle op grond van taal van privaatskole “uit te sluit”. Sodoende begin die laaste fase van kulturele transformasie om Engels finaal uit die land te weer en alle kinders te verafrikaans.

Omdat die liederlike apartheidsbeleid van tuislanduniversiteite nooit sou bestaan nie, sou daar slegs die vyf Afrikaanse universiteite en vier Engelse universiteite (Wits, Kaapstad, Rhodes en Natal) gewees het, tesame met Fort Hare waar ‘n klein groepie swartes opgelei word. Afgestudeerde swartes sou feitlik onmiddellik die land verlaat omdat nóg die staat nóg die privaatsektor enige nie-Afrikaners in diens neem.

In ‘n koshuis by Wits word daar as deel van studentepret ‘n video oor “dumb Dutchmen” gemaak en die spot met die Vootrekkers en met Paul Kruger gedryf. Die volgende oomblik trek die Afrikaanse koerante, asook die SAUK wat natuurlik regstreeks deur die NP beheer word, los met ‘n geweldige propagandaveldtog teen die rassisme en Boerehaat van Wits en ander Engelse universiteite.

Daardie opperste jabroer, Max du Preez, wat in sy jong dae ‘n vurige NP-ondersteuner was, is nou nog ‘n groter NP-ondersteuner. Hy skryf ‘n giftige rubriek in die Rapport waarin hy eis dat die regering terstond die vier oorblywende enklawes van Britse kolonialisme, volksmoord en Boerehaat transformeer.

Binne enkele maande begin die transformasieproses en word Afrikanerrektore by Wits, Kaapstad, Rhodes en Natal aangestel. Afrikanerstudente mag gratis daar studeer terwyl volksvreemdes moet betaal. (Tans geld die omgekeerde natuurlik by Tukkies en ander “voorheen Afrikaanse universiteite”.)

Die voorheen Engelse universiteite word stelselmatig, jaar na jaar, deur Afrikanerstudente geïnfiltreer wat op Afrikaans in die klasse aandring, selfs al is hulle aanvanklik in die minderheid op die kampus.

Binne vyf jaar, van 1975 tot 1980, word die oorblywende Engelse skole en universiteite tot Afrikaanse instellings getransformeer. Mev. Helen Suzman lewer in die parlement venynige kritiek op die verafrikaansing van haar alma mater, Wits, maar al wat die NP-minister van onderwys antwoord, is: “Mev. Suzman, dit staan u as minderheid vry om privaatuniversiteite in u eie taal te begin. Of natuurlik te emigreer indien u nie van Afrikaans hou nie.” Daarmee is die argument afgesluit.

Maar nog is’t einde niet. Dieselfde Afrikanerheersersklas wat in hul luukse Duitse motors van een vergadering na ‘n ander jaag en hul paleisagtige wonings volgens heersende neigings in die leefstyltydskrifte meubileer, voel dat “die onregte van die verlede” – Bloukrans en Weenen, die moorde aan die Oosgrens, asook die konsentrasiekampe van die ABO – nog nie genoegsaam reggestel is nie. Hulle beskou hulself steeds as “benadeeld”. En benadeeldes het regstelling nodig.

Daar is ook ‘n nuwe minister van grondsake, ‘n radikale Afrikaner-nasionalis wat begeester is deur die idee van ‘n “Afrikaner-renaissance” en glo dat die hele land aan Afrikaners behoort. “Die bestaan van etniese enklawes en grondgebied wat deur nie-aangewese groepe beset word, is ‘n bron van verdeeldheid en moontlike konflik in die land,” gil sy in die parlement. “Die Afrikanermassa gaan dit nie veel langer duld nie.”

Daarom word ‘n program van “versnelde grondhervorming” aangekondig. Die staat koop alle oorblywende grond wat aan nie-Afrikaners behoort uit, met die onderliggende dreigement dat indien die eienaars nie “vrywillig” van hul grond afstand doen nie, hulle binne die afsienbare toekoms sonder vergoeding onteien sal word. “Nuwe Afrikanerboere”, waarvan sommige Duitse immigrante is wat nie eens in die land gebore is nie en geradbraakte Afrikaans praat, word op vele plase in die voormalige Zoeloeland en Transkei hervestig. Maar natuurlik het die helfte van die Zoeloe- en Xhosa-bevolkings reeds die land verlaat omdat die kwotastelsels op alle gebiede dit vir hulle onmoontlik gemaak het om te oorleef.

In 1990 kantel die demografie dienooreenkomstig verder ten gunste van Afrikaners en daar is nou 20 miljoen Afrikaners in die land teenoor 4 miljoen “volksvreemdes”. Intussen het die minister van sport begin fokus op die etniese samestelling van die nasionale sokkerspan, wat uit ‘n meerderheid swart en bruin spelers bestaan. “Kan so ‘n span ons land internasionaal verteenwoordig terwyl dit nie verteenwoordigend van die land se demografie is nie?” vra die minister tydens ‘n TV-onderhoud. Die administrasie van sokker is natuurlik lankal getransformeer en die Afrikanervoorsitter van die nasionale sokkerliga bied onmiddellik verskoning aan en belowe dat ‘n “transformasieplan” binnekort ingestel sal word, al stel min Afrikaners eintlik in sokker belang.

Maar die staat sal geld vir opleiding in sokker bewillig en vir elke rand wat die nasionale sokkerliga aan die bevordering van sokker onder Afrikanerkinders bewillig, sal die staat ook ‘n rand daartoe bydra. Binne vyf jaar word die sokkerspan aldus getransformeer. Die meeste talentvolle swart en bruin sokkerspelers gaan speel vir Europese sokkerklubs en daar bly slegs twee gekleurde spelers in die voortaan Afrikanersokkerspan oor.

Insgelyks tydens die negentigerjare steek ‘n nuwe verskynsel kop uit: geweldsmisdaad. Weens die toenemende losbandigheid van die Afrikanermeerderheid, asook hul snelle bevolkingsgroei, kan sommige jong ouers nie hul groot gesinne behoorlik onderhou en opvoed nie. Voeg hierby die demografiese profiel van die Afrikanerbevolking wat ‘n hoë persentasie jong mans bevat en ons het ‘n resep vir geweldsmisdaad.

Jong Afrikanermans val alle lede van die samelewing aan, maar beoefen die ergste gruweldade teen lede van ander rasse- en kultuugroepe. Meer as 95% van die Engelse bevolking het reeds na ander lande geëmigreer; die oorblywende Zoeloes, Xhosas, Tswanas, bruines, Vendas, Pedi’s en Sotho’s in die land word egter gereeld in hul huise, in hul motors en op hul weinig oorblywende plase aangeval. Jong Afrikanerskurke verkrag tot swart vroue en is veral lief om volksvreemdes vir ‘n selfoon of ‘n paar rand sommer net daar van die gras af te maak.

Die NP-minister van polisie, Karel de Koelou, vaar uit teen die mediakritiek teen misdaad deur te sê: “As jy nie tevrede met misdaad is nie, het jy die keuse om te emigreer!” En dis presies wat die oorblywende minderheidsgroepe doen: die Tswanas emigreer na Botswana, die Sotho’s verskuif oor die grens na Lesotho waar hulle veiliger is en die Venda’s, Pedi’s en ander trek maar Zimbabwe toe terwyl die Tsonga’s natuurlik terugkeer Mosambiek toe waar hulle oorspronklik vandaan gekom het. Ook die bruinmense van die Wes- en Noord-Kaap voel hulle toenemend onwelkom in die land vanweë regstellende aksie ten gunste van blanke Afrikaners en die vlaag geweldsmisdaad wat teen hulle gemik is. Diegene met beter kwalifikasies klim op die vliegtuig Kanada toe, terwyl die res koers kies Angola toe. Suidwes het nooit onafhanklik geword nie en geniet dieselfde stelsel van demokrasie as in Suid-Afrika, oftewel “een mens, een stem, wenner vat alles”. Die Wambo’s voel insgelyks die demografiese druk van die Afrikaners in Suidwes en is ook besig om Angola toe uit te wyk.

Toe kom naamsveranderings. Alle name wat nie suiwer Afrikaans is of na Afrikanerfigure verwys nie, word tot niet gemaak. Port Elizabeth word Danie Theronstad, Oos-Londen heet P.W. Bothaville en Durban staan voortaan as Malanville (na D.F. Malan) bekend. Elke moontlike straat en voorstad se naam word streng verafrikaans. Verwoerdburg het uiteraard Verwoerdburg gebly, terwyl die Centurion-krieketveld in dié omgewing na Hans van Rensburg, die voormalige leier van die Ossewa-Brandwag, hernoem is.

Teen die jaar 2009 is transformasie min of meer volvoer en bestaan die land uit 98% Afrikaners met Afrikaans as enigste amptelike taal, slegs Afrikaanse skole en universiteite, asook alleenlik Afrikaanse plek- en straatname en sportspanne wat meer as demografies verteenwoordigend is.

Iewers in 2009 ontdek ‘n Xhosa-intellektueel aan die Oos-Rand die Tomlinson-verslag van 1954. Dié verslag het swart tuislande en ‘n beleid van sogenaamde “apartheid” aanbeveel. “My wêreld,” dink die man by homself, “indien dié beleid aangeneem was, het my mense dalk vandag hul eie tuisland gehad en was ek geen vreemdeling in hierdie getransformeerde, sogenaamde ‘demokratiese’ Afrikanerstaat nie!”

Hy poog om hier en daar op die internet die gedagte van “apartheid”, dat elke volk of stam op sy eie grondgebied geregtig is, te propageer, maar ontvang geen reaksie nie. Hy skryf selfs ‘n brief aan ‘n politikus wat hom kil terug antwoord: “Die Afrikaanse Republiek (die nuwe naam vir “Suid-Afrika”) behoort aan al die mense wat daarin woon. Ons sal geen verdeling van ons grondgebied toelaat nie.”

Hoewel die Afrikanerregering teen enige vorm van minderheidsregte, selfbeskikking of tuislandbeleid gekant is, ondersteun hy wel – net soos die ANC vandag – ‘n Palestynse tuisland ten einde goeie verhoudinge met die Arabiese lande te handhaaf. “Is dit nie die toppunt van skynheiligheid nie,” skryf die Xhosa-intellektueel gebelg op ‘n woernaal wat deur 50 mense gelees word, “hulle steun selfbeskikking en onafhanklikheid vir die Palestyne, maar ons Xhosas wat eeue lank in die Transkei gewoon het, het geen aanspraak meer op ons tradisionele grondgebied nie!”

Hier en daar ontvang die Afrikanerregering kritiek weens sy afsydige houding jeens sy etniese en taalkundige minderhede wat weens transformasie stelselmatig afgetakel en uit die land verdryf word. Al wat die owerheid dan antwoord is: “Ons is ‘n demokrasie waarin ‘n verenigde Afrikanernasie gebou word. Ons voer bloot die wil van die meerderheid uit.”

In sy haglike plakkerskamp waar al die volksvreemdes saamdrom wat van werk deur “diensbillikheid” en “regstellende aksie” uitgesluit word, bid die Xhosa-intellektueel: “Liewe Nkosi, my taal, my kultuur, my volk, my tradisies gaan ten gronde. Mag ons eendag apartheid en ‘n eie tuisland ontvang. Mag die getransformeerde gebiede wat deesdae aan die Afrikaners behoort, eendag aan ons terugbesorg word. Seën ons tog met apartheid!”

Helaas, sy gebed is nie beantwoord nie. Apartheid en ‘n stelsel van afsonderlike ontwikkeling het uitgebly. Demokrasie vir Afrikaners, tesame met transformasie, regstellende aksie en demografiese verteenwoordiging vir dié volksgroep het voortgeduur totdat daar net hier en daar nog klein groepies volksvreemdes oorgebly het. Mettertyd het hulle hul eie tale geheel en al verloor en net Afrikaans gepraat, hoewel met ‘n ander aksent as Afrikaners.

Die slagoffers van transformasie en demokrasie het buite sig in enkele oorblywende plakkerskampe bly woon waar hulle gereeld deur jong manlike Afrikanerjeugdiges aangeval en stelselmatig uitgewis is. Weereens het ‘n paar aktiviste op die internet van “volksmoord” begin praat.

Hierop het die NP-regering in 2010, op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker, ‘n verslag vrygestel waarin bevind is dat misdaad in die Afrikaanse Republiek nie teen enige spesifieke etniese of rassegroep gemik was nie. “Almal is slagoffers van misdaad en die subjektiewe gevoel van minderheidsgroepe dat hulle deur misdadigers uitgesonder word, word nie deur hierde wetenskaplike studie bevestig nie.”

Die feit dat sommige lede van die Afrikanerjeugbendes wat minderheidsgroepe teister hul slagoffers soms vir “dom kaffers” uitkryt, is gerieflik in die verslag verswyg. Waar sulke getuienis wel voor die kommissie van ondersoek gelewer is, is dit as uitsonderlik geag en daarom nie ter sake nie.

In koerante soos Beeld, Rapport en Die Burger is daar lowend oor “ons voortreflike demokrasie, ‘n voorbeeld vir Afrika en die wêreld,” deur persone soos Gert van der Westhuizen geskryf.

Oorsprong: Dan Roodt, Woernaal van die Afrikaanse vryheidsvegter
http://roodt.org/?p=161
http://roodt.org/?p=161&page=2

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.