Sunday, 11 October 2009

SA vrou kry visum oor ‘misdadige diskriminasie’

2009-10-10 00:24

Daniëlla du Plooy

’n Tweede Suid-Afrikaner het aansoek gedoen om in die buiteland te bly weens “vrees” om terug te keer na die land.

Me. Dianne Jefferson (22) het ’n vyfjaar-verblyfpermit in Ierland gekry nadat sy getuig het sy is bang vir “misdadige rassediskriminasie” in haar tuisland.

Die Britse Telegraph het eergister berig Jefferson het in Dublin, Ierland, se hooggeregshof ’n aansoek ingedien om toegelaat te word om in dié land te bly.

Haar aansoek om ’n verblyfpermit is verlede maand afgekeur.

Dit volg nadat mnr. Brandon Huntley (31), ’n wit Suid-Afrikaner wat glo al sewe keer in die land aangeval is, in Augustus vlugtelingstatus in Kanada gekry het. Huntley het aangevoer hy sal verdruk word weens sy velkleur as hy na Suid-Afrika terugkeer.

Volgens mnr. Owen Swaine, Jefferson se prokureur, het sy geen nabye familie oor in Suid-Afrika nie.

Sy bly tans in Doughiska, County Galway.

Die regter het aan haar ’n visum van vyf jaar toegestaan wat keer dat sy gedeporteer sal word.

Volgens Swaine is Jefferson bang om terug te gaan na Suid-Afrika om twee redes.

“Sy was as kind in Ierland en sal ’n vreemdeling in Suid-Afrika wees. Haar geld is ook beperk.

“Tweedens het sy, as Suid-Afrikaner, kennis geneem van die geweldmisdaad in die land wat haar vrees om as jong vrou terug te keer net nóg meer maak.”

Die Suid-Afrikaanse regering het gister in ’n mediaverklaring gesê hy verwerp Jefferson se redes vir die aansoek om verblyfstatus in Ierland.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/5f2d03d883374c13bca6bb46285fda5c/10-10-2009-12-24/SA_vrou_kry_visum_oor_%E2%80%98misdadige_diskriminasie%E2%80%99

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.