Sunday, 18 October 2009

Swart dwaling en wit woede



Vrydag, 02 Oktober 2009 07:01

Deur Gustav Venter

Ná die Verraad van ’94 is Afrikanergeduld en -sin vir regverdigheid met "wit vrees" verwar. Nou word sporadiese uitbarstings aan regse kant as blote rassisme deur die liberales weggepraat. Inderwaarheid is dit simptomaties van ‘n baie meer - vir die SA superstam-in-wording - vernietigende mag: Wit woede. Wanneer sal die regering wakker skrik en na die Afrikaner begin luister?

Wit vrees – wat dit is en wat dit nie is nie.

Melanie Verwoerd is ‘n uiters eerlike mens. Ons weet dit want Melanie Verwoerd sê so, en Melanie Verwoerd sal nie lieg nie, sal sy? In ‘n TV-onderhoud, terwyl sy ambassadrise in Ierland was, redeneer sy dat blanke Suid-Afrikaners die land in skares verlaat het, nie as gevolg van regstellende aksie of misdaad nie, maar omdat hulle wil... reis. Tydens die opname, circa 2002, was sy nog getroud met Wilhelm Verwoerd, oorloperkleinseun van H.F. Verwoerd. Sy het deskant gesing in die lofkoor vir die ANK en haar menings en rasionaliserings het sy stiptelik uit die koorbundel van die party gekry.

In antwoord op Sandra Prinsloo se vraag oor blankes se vrese, het sy Thabo Mbeki se woorde gekanaliseer: Vrees word deur onkunde aangevuur. Blankes se vrese is eintlik net vooroordele, veroorsaak deur die stompsinnige aanvaarding van stereotipes. Wanneer blankes meer van swartmense en hulle kultuur leer, sal dié vooroordele, en daarmee saam wit vrees, verdwyn. Vir dít om te gebeur, moet afstand, geografiese afsondering, tussen die rasse verdwyn.

Sy het miskien intellektueel ingestem dat rasseineenvloeing in ‘n bepaalde gebied die wagwoord vir ware en nodige transformasie is, maar sy het dit nooit geglo nie, nie regtig nie, nie met hart en siel nie. In die onderhoud, met ‘n skielike frons, ‘n gesigsplukkie wat ongemak, selfs selfongeloof openbaar, reageer sy op ‘n vraag oor Noord-Ierland. Is daar ‘n oplossing? ... nee. Sy dink nie so nie, en vertel van ‘n voorval waar ouers in ‘n Protestantse woonbuurt Katolieke kinders verhoed om daardeur skool toe te loop. ‘n Herrie ontstaan. Polisie moet die kindertjies skool toe en terug begelei. Nee, die kulture is te uiteenlopend. Multikulturele harmonie is onmoontlik. Blykbaar registreer die heerlike ironie nie by haar nie: Twee dele van ‘n enkele volk, uit een kultuur afkomstig, net deur hulle geloofstradisies te onderskei, kan nie in een gebied saamleef nie. Maar twee rasse, met geen tradisie of kultuurooreenkomste anders as strydgenote in een gebied nie, nou ja, dié kan en moet saamleef. Dis die oplossing. Dis die Mandela-droom in aksie.

Volgens die beste blanke liberalistiese tradisie, het Melanie Verwoerd aan die einde van haar ampstermyn van Wilhelm Verwoerd geskei en haar toegewydheid aan rasseversmelting gedemonstreer deur permanente verblyfreg in leliewit Ierland te bekom. Wat haar rasionalisering ook al is, en glo my, niemand verdedig hulle onverdedigbare handelinge met dieselfde vloeiende vasberadenheid as ‘n liberalis nie, sy moet erken sy word nie gereeld in Dublin deur ‘n swart minibustaxi van die pad af gedruk nie en het lanklaas die risiko geloop om deur ‘n swartman verkrag te word. Gebiedskeiding werk vir haar rasseharmonie; hoekom nie vir die res van blanke Suid-Afrika nie?

Haar teorie dat bekendheid met ander rasse hulle bemind sal maak, sal min indruk op blankes op die platteland maak. Daar is niemand meer wantrouig teenoor swart kultuur as juis hierdie boere nie en daar is niemand wat swart kultuur beter ken en verstaan as hierdie plattelanders nie. Duidelik het bekend nie bemind gemaak nie! Melanie Verwoerd, daarenteen, het ‘n euforiese bewondering vir swart kultuur en geestelikheid. Hierdie aanprysing is blykbaar makliker om vol te hou vanuit Dublin as Dullstroom. Haar lewensdemonstrasie is dat hoe verder ‘n witmens van Afrikakultuur verwyder is, hoe makliker is dit om waardering daarvoor te hê. Die sinvolle gevolgtrekking is dat gebiedskeiding onontbeerlik is vir rasseharmonie. En was dit nie presies wat H.F. Verwoerd, haar voormalige man se oupa, bepleit het nie?

Blanke mense het ná vyftien jaar van ANK-oorheersing ‘n baie beter begrip van swart kultuur en lewensbeskouing. En hulle is meer wantrouig as ooit. Veiligheidshekke is hoër, alarms skriller, waghonde groter, buurtpatrollies meer opsigtelik namate swart woongebiede nader aan blanke buurte kruip en toegang makliker word. Om ag te slaan op redelike veiligheidsaksiomas, soos om, sê nou maar, nie in die donker in jou motor langs ‘n lokasie af te trek om te slaap nie, is nie die gedrag van ‘n lafaard nie. Dis blote, basiese wysheid. Om verlok te word deur die newelideaal van Afrika-medemenslikheid – die Afrika-kultuur van basiese respek vir lewe, soos Desmond Tutu dit stel – en op grond daarvan algemene veiligheidsmaatreëls te verontagsaam, is nie manmoedigheid nie – dis dwaasheid.

Geregverdigde vrees is ‘n onmisbare element vir persoonlike en nasionale oorlewing. En as daar een volk is wat geregtig is op basiese wantroue teenoor ‘n ander ras, is dit die Afrikaner. Daarvoor het ‘n voortstuwende misdaadfront van die afgryslikste wreedheid gesorg. Geen liberalis sal dit egter erken nie. Volgens die handleiding van basiese liberale opvattings, kan alle slegte dinge aan apartheid toegeskryf word. Derhalwe kan die misdaadgolf nie aan swartmense toegedig word nie. En blanke vrees is nie die reaksie van ‘n logiese verstand nie; dis die halsstarrigheid van onbevryde denke wat vasgeslaan het in ‘n Middeleeuse rasseopvatting. Hieraan hang die hele breindrein, die ontvolking van sleutelposte, die Afrikaner-diaspora. In liberale oë is blanke vrees ‘n irriterende volksneurose wat geen plek in die veelkulturele bestel van die Nuwe Suid-Afrika het nie.

Voor 1994 was blanke vrees bloot as ‘n spoedhobbel in die ANK se opmars na oorname gesien. Die hele linkse ideologiemasjinerie het in werking gesuis. Dakar-gangers het teruggekeer nadat hulle Beethoven geluister en whiskey saam met Thabo Mbeki gedrink het. Dis asof hulle soos Marco Polo verhale vertel het uit verre lande, van wonderwerke wat die oog nog nie gesien en die oor nog nie gehoor het nie. "Hierdie is goeie ouens," het hulle geëvangeliseer. Die linkse media het hosannas oor veral die vrygelate terroris, Mandela, aangehef. Wat nog meer oortuigend was, was die volksmedia, hoofsaaklik Naspers wat die sinkende SAS Nasionale Party verlaat het en nou besig was om in die rigting van die ANK te roei. Blanke besware is in myle en myle se kolomme weggesus. Dit is veral gedoen met daardie half-minagtende toon, daardie redaksionele aanvaarding dat enige iemand wat die oorgang vrees ietwat primitief en bygelowig is. Terwyl wit vrees die hele oornameproses kon beduiwel, is dit met erns en omsigtigheid en begrip behandel.

Daarna egter, ná FW de Klerk se politieke hoogtepunt waarin hy sy volk uitoorlê en bedrieg het, het "wit vrees" ‘n semantiese metamorfose ondergaan. Dit was nou die stok waarmee aan die Afrikaner gekarring is, waarmee hy getart is soos wat ‘n gorilla agter tralies getart word. "Wit vrees" was nou ‘n smaalwoord waarin opvattings van kortsigtigheid, ontransformeerbaarheid en doodgewone papbroekigheid ingebind is. Dis asof die woord onttrek is aan visies van ‘n hartbeeshuisie waarin ‘n verlate wit gesinnetjie mekaar beangs aanklou terwyl die swart magte buite versamel. Dis die wind, dis die wind, my kind...

Die liberale ontleders het een keer ‘n deurslaggewende begrip van die Afrikaner getoon en dit was toe FW de Klerk vir Andries Treurnicht en ander stokke in die oorgawespeke met sy referendum van 1992 omseil het. Hy het sy "ja"-stem gekry en daarmee die Afrikaner se oorlewing op die altaar van multikulturalisme gelê. Daarna het die linkses, so gereeld soos sonsopkoms, die Afrikaner se aard en optrede verkeerd gepeil.

Ná die oorgawe het die Afrikaner, tot almal se verbasing, beleefd opsy gestaan terwyl swart blakers op sy regeringstoele gaan sit het. Dit het die liberales oortuig dat die Afrikaner se nasionale gô uit was. Hulle was bloot verkeerd. Die Afrikaner was nog altyd – meestal tot sy eie nadeel – bedeel met ‘n soort nasionale sportmangees. In 1994 het hy ietwat knorrend toegegee dat hy uitoorlê is en het hy die openbare toneel grootliks ontruim om met sy lewe aan te gaan, ja, maar ook om vir die wenners kans te gee om hulleself te bewys, om beheer te neem, om die land te bestuur soos wat aan hulle voorgehou is net die ANK dit kan doen. Hy het kleinlike vergeldingsmaatreëls soos dorpsnaamveranderings, die verwydering van volksimbole soos die vlag en volkslied en grootskaalse staatsdiensafleggings van blankes gesluk, oortuig dat dit ‘n kortstondige, oorentoesiastiese vergryp is wat weldra reggestel sal word.

Die liberale media het eers ongelowig, en toe met groot brawade en snedigheid hierdie ontruiming van die sentrale verhoog gesien en verkondig as ‘n algemene ineenstorting van die Afrikanerpsige. Die Afrikaner, volgens hierdie denkskool, was ‘n uitgediende mag. Hy het sy stoom verloor, beweer ‘n politieke ontleder van die Universiteit van Johannesburg, so onlangs as drie jaar gelede. In dieselfde week het die bitterkat, Christi van der Westhuizen, geskryf dat die Afrikanerman as’t ware ontman is omdat hy nou met ander, meer potente, mans moet meeding en dit onmoontlik vind. Die media het voortdurend die beeld van die nuwe, flinke, skrander swartman gekonstrueer en, in teenstelling daarmee, die patetiese boedeloorgawe van die witman. Blykbaar het hulle, en die res van die liberale waarnemers, hulle eie fiksie begin glo.

Die teendeel is eerder waar. Die Afrikaner het die vernederings wat op hom opgehoop is en die manier waarop omtrent elke plegtig geswore onderneming teenoor hom verbreek is, met geduld en waardigheid verdra, nie omdat hy lamsakkig was nie, nee, eerder omdat hy taai is, taai soos sy voorvaders wat ‘n wilde land getem het, en geduldig, geduldig soos sy oupas wat ná die verplettering van die Engelse Oorlog hulleself elke dag, met onuitputlike lydsaamheid, opgehef het, een breukdeel van 'n vorentoetreetjie op ‘n slag. As die Christi van der Westhuizens van hierdie land verby hulle eie verwarring en bitterheid kon kyk, as die Koos Kombuise en Max du Preez’s kon hoor wat anderkant die gedruis van hulle eie liberale ontkennings was, sou hulle dit besef het.

Hulle het hulleself egter te veel verkneukel in die illusie van ‘n verslane, verskrikte Afrikaner. Die swart elite, altyd ‘n pas agter die liberale gansmars, het die idee aangegryp en hulle beleid en benadering gemonteer op die idee van ‘n verlore Afrikaner. Hierdie was ‘n mistasting van kataklismiese omvang, ‘n wanbegrip wat uiteindelik daartoe kan lei dat Suid-Afrika van bo in die Noorde, tot Kaapland in die Suide al langs die naat af geskeur word.

Wit vrees is voorgehou as ‘n negatiewe nasionale karaktertrek. Maar dié wat hulle oor teen die grond het, voel reeds die rammelinge van iets onmeetbaar wyer en intenser in omvang: Swart vrees. Swart vrees in reaksie op ‘n sluimerende wit woede wat dalk in onverwagse gedaantes mag manifesteer.

Eenkeer, met sy bergfiets uit op 'n kronkelpaadjie, toe hy stop om agter 'n bos te gaan staan, kom hy op 'n ou plastiese LO-sak af, so 'n rooie met 'n gebreekte skouerband en 'n losgetorringde ritssluiter. Nuuskierig genoeg om die inhoud te ondersoek vind hy 'n opgerolde sweetpakbaadjie, 'n Rama-bakkie met drie gholfballe van alle dinge, helfte van 'n Sydney Sheldon-riller en 'n ou polisieuitgawe Walther P38 daarin. Sy eerste instink was om die pistool by die polisie te gaan inhandig, maar teen die tyd was hy ook al skepties en onwillig om 'n vuurwapen via onetiese polisiehande terug op die roof-en-skaakkringbaan te kry. Hy kies om eerder die pistool te gaan versteek.

Die Dag van die Laaste Strooi, toe hy hoor van die ou tannie wie se vingers brutaal deur 'n inbreker met 'n snoeiskêr afgesny is, het hy die pistool gaan uitgrawe, skoongemaak, geolie en 'n paar skote op 'n verlate mynhoop daarmee gaan skiet. Die ontwerp daarvan was nooit die beste nie en die wapen self was in bedenklike toestand, met 'n ietwat geslyte loop. Maar dit was akkuraat genoeg vir sy doel. Hy pak daarna sy motor, vul die brandstoftenk en kry koers Noorde toe.

Onderweg spoor 'n vriend hom per selfoon op. Waarheen is hy op pad? wil die vriend weet.

Hy sê hy is op pad Naboomspruit toe om daar by die landdroshof te wag tot die dierlike aanvaller verskyn sodat hy hom tussen die oë kan skiet.

Die vriend, dadelik oortuig van die erns van die bedoelings, begin beswaar maak.

Wat sal dit help? Hy sal net sy eie lewe opoffer, en vir wat? Daar is duisende ander sulke geweldenaars. Hulle kan nie almal geskiet word nie.

Alles is waar. Hy verstaan dit so, maar sê hy: "Ek kan nie langer met myself saamleef as ons hierdie dinge maar net laat verbygaan nie. Watse soort mense is ons dat ons kan toelaat dat ons oumensies se vingers met snoeiskêre afgeknip word?"

Selfs buite konteks is hierdie 'n vraag wat dwarsdeur Afrikanergeledere 'n verslae gemoedskriewel laat. Wanneer ons dit egter binne die spreker se persoonlike kultuurhistoriese perspektief lees, moet dit elke skril emosionele alarm laat afgaan. Hierdie was nie lank terug nie 'n vasberade voorbrandmaker vir die Nuwe Suid-Afrika, iemand wat nie vir die ANK gestem het nie maar besluit het die regte ding is om skouer aan die wiel in te val vir die algemene opheffing van die land. Sy besondere bydrae was om rekenaargeletterdheidsklasse in swart woongebiede te gee. Maar die ongeërgdheid waarmee die nuwe regering die misdaadgolf weggewink het, die skokkende vraatsugheid waarmee hulle hande in die staatskoffers gesteek het en die rasgedrewe halstarrigheid waarmee hulle 'n hele volk vervreem het, het sy entoesiasme nie net nie gevoed nie, dit het sy ywer anoreksies gelaat en uiteindelik 'n ontnugteringsdood laat sterf.

Wanneer liberales hiervan lees, en ek waarborg dit, sal hulle kondisionering onmiddellik 'n verweer deur hulle lippe pers, 'n tweeledige skouerophaling. Hoekom, sal hulle vra, is jy so ontstel oor een wit tannie wat 'n ellende op die lyf geloop het? Jy sal nie so ontsteld wees as dit met 'n bejaarde swart vrou gebeur het nie, sal jy? So hierdie afgryse in jou is bloot net rassismestuipe. Daarna sal hulle byvoeg: Baie meer swartmense ly onder geweld, so voor jy nie daaroor 'n gemoedsteuring het nie, kan ons jou verdriet oor die ou tannie nie ernstig opneem nie. Hierdie mondelingse skuifelstap is soos die skyngebroke vlerk waarmee 'n kiewiet die potensiële roofdier van haar nes aflok. Sodra ons betrokke raak in hulle afleidings van ras en getalle, versaak ons die koers en einddoel van ons argument.

Mor die Afrikaner oor regstellende aksie, is die gekondisioneerde verweer dat blanke mans nog die meerderheid bestuursposte beset. Dat bekwaamheid en doeltreffende bestuur - eerder as 'n nuttelose gedienstigheid teenoor persentasies en getalle - nou kardinaal nodig is in die land, is 'n primêre argument wat in al dié pom-pomswaaiery verlore gaan. Raak jy knorrig oor kragonderbrekings, word beduie dat swartmense in lokasies dit baie meer gereeld moet verduur en skielik is die feit dat hulle nie daarvoor betaal nie, nie ter sake nie. Kla jy oor vervalle infrastruktuur... en so gaan hulle aan.

Hierdie is egter loperige balsem vir 'n man wat homself laat ompraat om nie 'n bloedgierige, lafhartige monster tussen die oë te gaan skiet nie. En as 'n swart barbaar, lendene styfgepomp met dierlike wellus, onbelemmer deur medemenslikheid, sonder die brieke van intelligensie, vrygestel van sosiale verantwoordelikheid - besef jy nie hoe uitputtend sy kinderjare was nie? - sy stompsinnige verveeldheid verlig deur saam met sy walglike kamerade 'n ingetoë 19-jarige maagd gevange te neem, haar te martel, speels te belowe dat hy haar nie sal verkrag nie, en dit wel doen en dit op die verkleinerendste manier denkbaar - hy dwing haar, pistool teen die kop, om hom te soen terwyl sy onderlyf teen haar voorthamer - , wat dan? Word daar van ons verwag om, as't ware, langs haar te kniel terwyl sy diep getref word deur die eerste rou oor die verlies van haar kosbaarste kleinood, haar maagdelikheid? En moet ons dan sê: "Toe, toe, staak die gekerm. Dis nie so erg nie. Dis omdat jy wit is dat jy jou dit so aantrek. Weet jy nie dat dit elke dag met duisende swart vroue in hierdie land gebeur nie?"

Watse anoreksiese troos is dit? Want dit is al verligting wat die liberales kan bied. Volgens liberale ortodoksie sou die ware misdaad nie die verkragting gewees het nie, maar die agterdog dat die blanke meisie se verskrikking en afsku instinktief verhewig is omdat dit 'n swárt man was wat haar verkrag het; dat as sy 'n duiwelskeuse gehad het, sy 'n duisend maal eerder deur 'n witman verkrag sou wou word. Die onderskeid tussen rasse, eerder as die molestering, is volgens die linkses se kode die Onvergeeflike Sonde.

Hierdie is 'n loot wat groei uit hulle opvatting dat daar geen verskil tussen mense, ongeag ras of herkoms, bestaan nie, en dat geen mens moreel in 'n uitgesonderde verwantskap met 'n ander kan staan nie. Hiervolgens mag 'n mens nie 'n onderskeid in jou optrede teenoor jou eie en ander mense maak nie. As jou kind en 'n ander kind in 'n brandende huis is, en jy wil daar instorm, moet jy seker maak jy kan altwee red, of jy moet albei vir die vuur los.

Dit is 'n opvatting wat teen elke natuurreël van oorlewing indruis. Selfs die Bybel, en dit in die Nuwe Testament, met al die klem op selfloosheid en opoffering daarin, ondersteun dit nie. Die man wat nie vir sy gesin kan sorg nie, sê Paulus, is erger as 'n heiden. Hierdie is nie die hoogtepunt nie maar die vertrékpunt van moraliteit. Liefdadigheid, om presies te wees, begin by die huis.

Selfs moderne biologie bevestig dat die mens se brein bedraad is om 'n voorkeur vir en 'n vertroue te hê in mense wat soos hy lyk en is. Die Afrikaner, ná amper vier eeue se uitsifting in 'n ongerepte, bloedeisende land, het geleer dat hy net twee wesens kan vertrou: die Here en ander Afrikaners. Sedert hulle samestelling as 'n klein volkie in 'n groot en leë land, het hulle gewys dat hulle die vermoë het om te bou en te versamel. Hulle het gou genoeg uitgevind dat wat hulle opgerig en bymekaar gemaak het, die nyd van ander, minder produktiewe, maar altyd talryker, inwoners sou trek. Hierdie afgunstige massas sou van meet af aan demonstreer dat daar in hulle ywer om die Afrikaner se goedere te bekom, geen perke aan hulle brutaliteit is nie.

Die ylgesaaide Boere het net een kans op oorlewing gehad en dit was om teen die bedreiging saam te snoer. Die harde lewe, genadelose eise en voortdurende aanslae teen hulle, het hierdie pioniers gehard gemaak, met 'n ongeëwenaarde bedrewenheid om te oorleef. Hulle slaankrag het eksponensieel vermeerder volgens die getalle wat hulle byeen kon bring. As een Boer vyf Xhosas op loop kon jaag, kon twee van hulle twintig troef. Om dit te doen, moes hulle volslae vertroue in mekaar gehad het. Hierdie vertroue is gebou op die instinktiewe broederskap, nie net van bloed nie, maar van mense wat dieselfde ontberings moes deurly, dieselfde gevare moes oorleef, dieselfde oorwinnings moes behaal. Dit is op hierdie aambeeld wat Afrikaneridentiteit gesmee is. Hierdie Afrikanerskap is diamanthard, saamgepers deur eeue se numeriese agterstand en sy teenstaanders se afguns.

Die naaste wat die liberales daaraan gekom het om die Afrikanervolk in geheel los te torring, was om hierdie kern aan te val. Nie dat hulle dit die kern genoem het nie. Die uitdrukking wat hulle gekies het om die Afrikaner se herkenning van homself en sy gehegtheid aan sy eie mee los te torring was "laer," of, na Engels se "laager". Meestal is dit in 'n samestelling gebruik, laermentaliteit, asof nasionale identiteit 'n afwyking is.

O, dat hulle geslepe was, met die manier waarop hulle die Afrikaner se eie volksgoedere teen hom gedraai het, dié is gewis. Die laer verwys natuurlik na 'n konvooi Voortrekkerwaens, in 'n kring getrek en beveilig, sodat dit in alle kompasrigtings stekels gehad het om vir die eksterne bedreigings te wys. Die laer het die Afrikaner, sy gesin en sy besittings bevat. Dit was die simbool van alles wat veiliggewend, huislik en bewarend was.

Die post-NP-media het die Afrikanerlaer met verbetenheid aangeval, asof dit die boosste instelling op aarde was, 'n nasionale sentrum vir brutaliteit, verkramptheid en stompsinnigheid. Hulle het dit so histeries uitgekryt dat 'n mens sou dink dat enige toegeneentheid van die Afrikaner jeens sy kultuur en eie mense 'n filosofiese vergryp op die vlak van Nazisme was. Die laer was, in liberale denke, die Afrikaner se Führer-bunker waar hy aan die een kant onheil teen ander opgebrou het en aan die ander kant homself as't ware met die liggaamsreuk van sy eie afgesaagde lewensvisie versmoor het.

Die teenvoeter vir die laager-mentaliteit is, volgens die linkse ideeprojeksie, die "lager"-lewenstyl. Dis nou "lager" soos in "lagerbier," ten beste vergestalt in 'n skynbaar nimmereindigende rits bieradvertensies, waarvan die advertensiereeks vir Castle-bier die driftigste voorbeeld is. Die wêreld van hierdie advertensies is bevolk met pittige, ondeunde maar lojale jongmanne wat 'n lewe van goedige kaskenades en avontuur deel. In die nuutste aflewering koer die klingelsanger: "Hoe goed is dit om te weet my broer is hier by my..." Die kinkel is juis dat hierdie broers nie almal wit is nie. Hierdie is getransformeerde kamerade. "Ons is nie verwant aan mekaar nie," word daar ter slotsom beduie, "maar ons ís broers." As die beeld van hierdie lageradvertensies beeldend van die land was, sou daar nooit twee of drie blanke mans byeen gewees het sonder dat 'n swarte, van dieselfde geestigheid en kultuuruitlewing, in hulle midde was nie - sommer net 'n paar ouens bymekaar, party wit, party swart. Die stilswyende beskuldiging is dat 'n enkelrasgroepie eintlik niks meer as 'n bende fasciste is nie.

Afrikaners, skielik in hulle land meer van 'n muishond as wat hulle tydens apartheidsdae in die buiteland was, het begin twyfel aan die uitnemendheid van die laer bo die lagerfilosofie. Hulle het begin om uit die laer te sluip, om die spreekwoordelike kruithoring vir die liberale bierglas in te ruil. Maar buite die laer is hulle verkleineer, verstoot, verkrag en vermoor. Vir 'n tyd was die Afrikaner verdwaal iewers tussen sy herkoms uit die laer en sy onaanpasbaarheid in die lagerlewe. Hy het nie geweet wie hy is nie en het vergeet wat hy was. Dit het alles in die laaste helfte van 2006 verander met die vrystelling deur 'n onbekende sanger, amper per ongeluk, van 'n lied oor 'n gestorwe Boeregeneraal: De la Rey.

Skielik was daar 'n kultuurverskynsel in Suid-Afrika wat nét aan die Afrikaner behoort het. Ander volke dink maar net hulle weet waaroor dit gaan; hulle voel nie dit resoneer diep-diep in hulle gemeenskaplike DNS nie. De la Rey is ons s'n, net ons s'n en kan nooit vertaal en iemand anders s'n word nie. Hierdie is nié 'n lied wat die lagerbroederskap by hulle tradisionele gelykheidsjolyte kan luister nie. Die Engelsman in die groepie sou probeer snedig wees daaroor, met 'n onrustigheid in sy hart, die swarte sou benoud in die koers van die agterdeur gemik het. En die Afrikaner tussen hulle sou, hand op die hart en trane in die oë, uit volle bors saamgesing het. Die Afrikaner het iets ontdek - homself. Hy weet nou weer wie hy is. Hy het sy identiteit teruggevind. Hy was terug in die laer en in die laer, boeta, daar roer die dinge!

Die herlewing van Afrikanerkultuur is die primêre nasionaal-maatskaplike verskynsel van die dekade. Vandag se Afrikaner is nie veel gestoor hoe uitlanderkultuur lyk of wat die buitestaanders van Afrikanerkultuur dink nie. Hy is te besig om die opskop in die laer te geniet.

Die liberales, steeds so vol ywer vir die ANK se marxistiese, voortgesette rewolusie, het hierdie herlewing van die Afrikanerkern eers ontken en toe herken. En hy bewe. 'n Lewenskragtige Afrikaneridentiteit is 'n banier waar rondom konserwatiewe Afrikaners kan konsolideer en 'n verenigde Afrikanerkern sal lei tot die herlewing van Afrikaner-nasionalisme. Dit is die liberalis se bloedstollendste, langtand-, ghrieshaarnagmerrie. Die Afrikaner-liberalis se fundamentele kenmerk is juis dat hy of sy weens 'n persoonlike onaanpasbaarheid met Afrikaneridentiteit uit die boesem van die volk, uit die laer, gedros het. Hierdie weglopery is selde ideologies gedrewe, maar is gewoonlik die gevolg van 'n persoonlike wanaanpassing.

Hulle maak dan nuwe gebooie vir die mensdom, gebaseer op die lering van wesenlike gelykheid. Hulle Blink Nuwe Wêreld is 'n Huxleyaanse utopie: sonder ras, sonder geslag, sonder gesinne. Let net daarop dat hierdie Groot Gebod afdwingbaar is, nié op die liberalis self nie - net op ander mense. Daarom sien hulle geen spanning tussen hulle filosofie en hulle persoonlike afwyking daarvan nie. Koos Kombuis, getroud met 'n wit vrou, woonagtig in 'n wit dorp, sien geen ironie daarin dat hy eufories skryf oor die noodsaak en haalbaarheid van rassevermenging nie. Frederick Fourie het doodernstig probeer om Kovsie-koshuise te vermeng vanuit 'n beveiligde woning in 'n eksklusiewe wit woonbuurt terwyl hy sy dogters na 'n wit prestigeskool toe stuur. André Brink hyg histeries oor apartheid maar hou homself en sy gesin apart van ander rasse. Nico Smith pleit vir meer kontak tussen rasse, maar sodra sy verblyf in Mamelodi as reklameset gedien het, verwyder hy homself na 'n kleinhoewe tussen blanke bure in die ooste van Pretoria.

Vir 'n anderhalfdekade was hulle opvattings en optrede verdoesel deur 'n mediastofstorm. Maar in die herontdekking van sy eie identiteit, kan die Afrikaner nou die linkse geveinsdheid herken vir wat dit is. En hy is vol afsku daarvoor. Die liberalis is vinnig besig om sy greep op die Afrikaner-psige te verloor. Enige iemand wat hierdie kwyning van liberale invloed wil volg, moet maar net die oog op die lot van Nasionale Pers hou.

Dekades lank het hierdie medialeviatan dit sy taak gemaak om vir die volk politieke sedelessies in elke Naspers-publikasie in te gee. Met weergalose hubris het dit die Afrikaners as kindertjies sonder enige werklike insig gesien. Nou trek die kindertjies egter hulle gesigte en sê nee!, hulle wil nie verder verstik aan Naspers-idees nie. Lesersgetalle in al Naspers se publikasies daal soos hoefysters in 'n plaasdam. Kommentaarkolomme ná rubrieke op Beeld, Burger, Volksblad en Rapport se webwerwe word oorheers deur vurige, regse lesers wat die polities sawwe denke van die skrywers uitkryt.

Die liberales was lank genoeg die Hamelnse fluitspeler agter wie die kindertjies aangedwaal het. As hulle net lank genoeg wil ophou om hulle knik-en-grinnik-deuntjies te speel, sou hulle omgekyk het en 'n skrikwekkende gesig gesien het:

Dis asof die Afrikaner weg was; nou is hy terug en nou wil hy weet wat de duiwel het aangegaan terwyl hy nie hier was nie. Om te sê hy is omgekrap, is nie juis nie. Hy is nie befoeterd nie - hy is tandeknersend, glurend, vuisballend, witwarmwoedend.

Wat die waarnemer tref, is die afwesigheid van die waarskuwings. Dit was 'n groot ding gedurende die skemertyd van apartheid. Toé was daar baie wat somber waarskuwings gerig het. Dis asof almal net alarms wou laat afgaan, rooi vlae wou waai, noodfakkels wou opskiet. Daardie dae was swart woede die groot ding. Van Rian Malan tot Chris Louw, oortuig dat hulle iets sien wat die res ontgaan, het skril caveats geskryf. Louw het by sy redakteur, Harald Pakendorf aangedring: "Meneer, ons moet die mense laat weet. Die swartes is kwaad."

En dat die swartes kwaad was, dié was seker; so kwaad dat hulle hulle eie skole, kroeë en gemeenskapsale afgebrand het, hulle eie mense met pangas doodgekap of gehalssnoer het, so kwaad dat hulle hulle eie ou tannies, nou nie met snoeiskêre ontledemaat het nie, maar gedwing het om Stasoft te drink en aan Omo te verstik omdat hulle inkopies buite die lokasies gedoen het. Uiteindelik het hulle hulleself só geskend dat FW de Klerk se regering in afgryse oorgegee het.

Maar nou is daardie selfde stemme verrassend stom. Waar is die ondersoekende joernaliste wat die geruis hoor? Praat hulle nie met die regte mense nie? Of ignoreer hulle die woorde en wanvertolk hulle die tekens? Want woorde en tekens is oral. Dit is in die kil, vasberade braaivleisdreigemente, in die verbete rassisme van jongmense wat op skool vir hulleself moet ontdek hoe skel die kontras tussen rasse is. Dis in die tandekners van boere wat sien hoe hulle kuddes gestroop word, in die gelate, doodluiterse planne wat boervrouens maak om die lyk van 'n veedief te laat verdwyn indien hulle mans op 'n maanlose nag die stropers op die regte tyd, die regte plek inwag.

Dit is in die kreet van 'n petit vroutjie wat in die berge vir my een aand ete kook, pistool agter haar lyfband ingedruk. Sy is 'n verkragtingsberader, 'n skouer vir enige verontregte vrou om op te huil. Maar wat die velkleur van die slagoffer ook al is, die vergryper is altyd, altyd, maar altyd swart. "Ek haat hulle, Gustav, ek haat hulle almal!"

Ek hoor hierdie woede waar belastingbetalers byeenkom om te red wat te redde is teen die arrogante onnoselheid van regstellend aangestelde dorpsbestuurders. Ek hoor dit wanneer mense vertel hoe alles, alles, alles in die stokou Nuwe Suid-Afrika verval het. En ek hoor dit wanneer kundiges waarsku: Die water is op, die kos is op, die geld is op... En niemand luister nie.

En al die tyd waggel die nuwe Suid-Afrika voort, asof die besluitnemers dodelik onbewus is van die drukking wat in die onderkorse vulkaankamer opbou. Die swart regering, altyd bereid om hulle leidrade by die liberale pers en linkse meepraters te kry, gee geen aanduiding dat hulle besef die era van sogenaamde wit vrees het oorgegaan na die tydperk van uiters werklike wit woede nie. Dit gaan hulle grootste mistasting ooit wees.

As hulle en die algemene media besef het hoe diep, hoe smeulend, hoe wyd die Afrikanerwoede is, sou hulle elke dag, elke minuut, met elke nuusbulletin, op elke TV-kanaal en radiostasie en in elke koerant sonder ophou gewaarsku het: Die Afrikaner is kwaad. As hulle maar net hulle marxistiese, formulegebabbel sal staak. As hulle maar net sal vra wat staan die regering te doen om die sissende magma van Afrikanerwoede af te koel. En as hulle nie weet wie om te vra nie, laat hulle saggies aan Praag se deur kom klop.

Daar is werkbare oplossings wat die krisis kan ontlaai voor dit 'n katastrofe word. Ons het die antwoorde, maar die tyd is min. Want vannag, môre, volgende week, is dit heel denkbaar dat nog 'n hulpelose boeretannie se vingers met 'n stomp snoeiskêr gehalveer kan word. En wie weet, as daar dié keer 'n man op pad is om die skuldige monster tussen die oë te gaan skiet, gaan hy miskien nie 'n vriend hê om hom te stuit nie. En wie sal kan sê wat dan sal begin en waar dit sal eindig?

Oorsprong:Praag
http://www.praag.co.za/rubrieke-magazine-403/27-gustav-venter/5961-swart-dwaling-en-wit-woede.html
http://www.praag.co.za/rubrieke-magazine-403/27-gustav-venter/6065-swart-dwaling-en-wit-woede-deel-2i.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.