Sunday, 22 November 2009

Breek die regte mure af!


Woensdag, 18 November 2009 16:00

Jelleke Wierenga

Die herdenking van die val van die Berlynse Muur 20 jaar gelede het vele liberale met jubeling laat terugdink aan die val van die apartheidsmure, ook so 20 jaar gelede.

Die twee gebeurtenisse word aan mekaar gekoppel as sou die "bevryding" van die swart "verdruktes" en die instelling van ’n demokraties verkose regering in Suid-Afrika ’n wonderwerk wees op die skaal van die bevryding van die Oosbloklande en die beëindiging van die Koue Oorlog.

Ja, die Kommunisme is dood, lank lewe die Kommunisme in Suid-Afrika!

“Die gebeure in Berlyn, die einde van die Koue Oorlog en die koms van die Nuwe Suid-Afrika is onlosmaaklik verbind,” skryf Willem Pretorius in ’n middelbladartikel in Die Burger van 14 November 2009. Hy verwys na ’n peiling in Duitsland waarvolgens 12 persent van die respondente wens dinge het nooit verander nie. Mnr. Pretorius reken ’n mens kan met taamlike sekerheid aanneem dat die persentasie mense met ’n soortgelyke versugting baie hoër in Suid-Afrika sal wees.

“Dit bring die vraag na vore wat in ’n groep moet gebeur om ’n kritieke massa te vorm sodat die skaal na die ander kant oorhel. Wat is nodig sodat die Afrikaanse kwessies waarna Krog verwys [Antjie Krog se onlangse toespraak by die Goethe-Instituut in Johannesburg] bygelê kan word sodat ons vrede met die verlede kan maak, ophou met mekaar baklei en na ’n gesamentlike toekoms met die res van Suid-Afrika kan streef?”

Dus, wat is nodig om die “muur” in die Afrikaanse kop wat volwaardige toelating tot die Nuwe Suid-Afrika bemoeilik, te laat val?

Is dit nie erg retoriese vrae nie? Is die antwoorde nie vanselfsprekend nie? Is ’n mens nie al dodelik moeg vir dié vingerwysing na die Afrikaner (of Afrikaanse, in die politiek korrekte terminologie van mnr. Pretorius) as sou hy die vark in die verhaal wees nie?

In net in één koerant, Rapport van 15 November 2009, vind ek met 'n vinnige deurlees meer as 20 redes waarom die meeste blankes, en seker ’n groot gros swartes, hulle vervreemd voel van die utopie van ’n vry en demokraties bemagtigde Suid-Afrika:

Die Franse bars uit van die lag toe die rasta-sanger Ras Dumisani die Suid-Afrikaanse volkslied by die Springbok-rugbytoets in Toulouse, Frankryk, opmors. Die Franse sê die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys het Dumisani aangewys om die volkslied te sing; die ambassade ontken dit.

’n Jong vrou is op die N2 by Chatsworth deur motorkapers van die brug oor die Umkomaasrivier gestamp (bl. 2). Sy het 60 m ver geval, in vlak water geland, is erg beseer en het ure gedryf voor sy gered is.

Jacob Maroga vaar uit teen “wit toesighouding” nadat ’n blanke konsultant hom in ’n verslag gewaarsku het oor die komende energiekrisis.
Prof. Jonathan Jansen vertel aan die Kaapse Persklub dat Julius Malema eintlik baie slim is (bl. 2).

’n Ondersoek deur Rapport dui op ’n kultuur van skietlustigheid, misdadigheid en menseregtevergrype onder die polisie.

Eise teen die polisie beloop R7,5 miljard – met dié bedrag kan die salarisse van 75 000 bykomende polisielede betaal word.

Minstens 568 mense is in die jaar tot April 2009 deur die polisie doodgeskiet en nog 44 mense is in 2008/2009 dood in ongelukke met polisievoertuie. Sedert 1997 het die polisie al minstens 4 681 mense doodgeskiet. ’n Beduidende getal van die “verdagtes” wat doodgeskiet is, was nie wie die polisie gedink het hulle is nie.

Die polisie op Alberton sien die middeljarige blanke egpaar Jan en Millie Kotzé aan vir rowers en skiet 30 skote op hul motor (bl. 4). Albei word ernstig gewond. Blykbaar het die verwarring ontstaan omdat betroubare statistiek daarop dui dat die oorgrote meerderheid rowers moorddadige middeljarige blanke egpare is.

In Rustenburg verkrag vier polisielede na bewering ’n vrou in polisieselle nadat haar gewese verloofde haar weens diefstal aangekla het (bl. 4). “Ek is nie meer mens nie,” sê sy.

By die Wierdabrug-polisiekantoor word ’n driejarige kind 14 uur lank in ’n sel aangehou saam met sy pa, wat van verkragting verdink word. Die kind kry na bewering vir tien uur geen kos nie (bl. 4).

In Midrand word ’n vrou en haar 23 maande oue baba ses uur aangehou nadat sy weens ’n spoedoortreding vasgetrek is (bl. 5).

In Kemptonpark verkrag twee polisielede in uniform na bewering die 29-jarige mev. Martie Olivier, ma van drie jong kinders (bl. 5).

Twee polisiemanne, glo dronk, skiet ’n straatverkoper in Pretoria dood tydens ’n rusie omdat hulle nie vir hul kos wou betaal nie (bl. 5).
Die polisie soek na ’n moordenaar, begin sonder waarskuwing vanuit ’n ongemerkte voertuig op ’n geparkeerde voertuig skiet en tref ’n driejarige swart kind in die bors (bl. 5). Die kind se oom wat by hom in die motor was, is in hegtenis geneem, maar ’n paar uur later vrygelaat. Die kind se pa sit drie dae in die tronk en word dan vrygelaat sonder om aangekla te word. Die polisie bied geen verskoning aan die verpletterde ouers nie.

’n Regskenner beveel aan dat jy moet glimlag, glimlag, glimlag as die polisie jou gryp (bl. 5).

’n Chaos heers in die nuwe ministerie van vroue, kinders, jeug en mense met gestremdhede (bl. 15). Min. Noluthando Mayende-Sibaya word beskuldig van onbevoegdheid en besluiteloosheid. Die grootste deel van die departement se begroting van R23 miljoen word glo aan salarisse bestee.

Onbetaalde skoolgeld word toenemend ’n kopseer vir skole.

Die regering wil die naam van Nelspruit, hoofstad van Mpumalanga, verander na Mbombela (bl. 17).

Rook is nou een van die grootste misdade in Suid-Afrika. Jy kan ’n boete van R100 000 opgelê word as jy lekkergoed verkoop wat lyk soos sigarette of pype.

Jacob Rooi vra in sy rubriek Die ander kant of die doodstraf nie-amptelik terug is. Hy wys daarop dat Fikile Mbalula verlede Maart as leier van die ANC-jeugliga hom sterk uitgespreek het teen die herinstelling van die doodstraf. Op 12 November 2009 het hy as nuwe adjunkminister van polisie in ’n toespraak voor die parlementêre persgalery gesê: “Ons hou by ons uitspraak: Skiet die wetters!” Hy meen ook dis aanvaarbaar en “onvermydelik” as onskuldige mense in kruisvuur doodgeskiet word.

Pollux (bl. 21) vertel van ’n landboukenner wat politici ingelig het oor geneties aangepaste landbouprodukte. ’n ANC-LP hou aan om hom daarvan te beskuldig dat dit geneties gemanipuleerde kos is wat swart vroue deesdae so swaar in die onderlyf maak. Kitskos het volgens haar niks daarmee te doen nie.

’n Leser, Rémi van Rooyen van Port Elizabeth, skryf op die Brieweblad (bl. 23) dat as jy die SA Inkomstediens se tolvrye nommer bel, ’n blikstem jou taalvoorkeur vra. Ná ’n rukkie kom die antwoord: Daar is nie ’n Afrikaanse diens beskikbaar nie.

’n Leser, Pienkes du Plessis, wys in ’n brief (bl. 23) daarop dat die stelling in die vorige week se hoofartikel dat “net sowat 50% van ons leerlinge ’n matriekkwalifikasie verwerf” verkeerd is. In werklikheid is dit net 23%. Van die 1 558 600 leerlinge wat in 1996 skool toe is, skryf 550 000 in 2007 matriek en net 359 300 slaag.

Sou bogenoemde dalk ’n effense aanduiding vir mnr. Pretorius & Kie. wees waarom die Afrikaner hom nie hart en siel by die Nuwe Suid-Afrika tuis voel nie?

Waarom blaf mnr. Pretorius & Kie. gedurig by die heining van die Afrikaner? Waarom betoog hulle nie by die regte adres, breek híér die mure van vooroordeel, rassehaat, diskriminasie, laertrek, skuldverplasing, ensovoorts af nie?

As ’n mens die stories moet glo oor die reuse-aanhang van Julius Caesar Malema, die grootste aanstoker van rassehaat in die land – volgens gerugte sal hy Zuma ontsetel as ’n verkiesing vandag gehou word – wil ’n mens by die Afrikanerhatende artikelskrywers van Nasionale Pers smeek: Asseblief, span elke greintjie energie en oortuigingsvermoë van jul skrywerspenne in om ’n kritieke massa onder die swartmense te vorm sodat die skaal betyds kan swaai om ’n bloedbad te voorkom.

Waarom gedurig die klein – getallewys eintlik niksbeduidende – groep Afrikaners voor stok kry? Mnr. Pretorius hamer weer daarop: “Die heel eerste stap is sekerlik om die verlede vierkant in die oë te kyk, ophou om ander te blameer en gesamentlik werk daarvan te maak om die foute van die verlede te herstel.”

Presies watter verskil gaan dit aan die huidige landstoestande doen? Hoe gaan dit geweldsmisdade verminder? Hoe gaan dit die Afrikaner – alle blankes – volle toegang tot die land se ekonomie en politiek gee? Watter verskil gaan dit aan die muishondstatus van Afrikaans maak?

Hierdie gehamer op die “skuld” van die Afrikaner en sy “foute” van die verlede, die verwyte dat hy hom onttrek, dat hy niks met die belofteryke Reënboogland te doen wil hê nie, dat hy aandring op ’n eie staat waar ordelikheid en rede weer seëvier ... myns insiens is dit maar ’n bedekte manier om te erken: Kyk, sonder julle is hierdie land verlore. Dóén iets!

Maar geen enkele praktiese voorstel uit die monde van die liberale koerantfilosowe en Afrikaner-afkrakers oor presies wát die Afrikaner moet doen nie ... behalwe nou om aanhoudend voete te was, sy bek te hou en sy taal te laat vertrap en verguis.

’n Mens wonder of hierdie mense besef dat die Afrikaners en ander blankes wel nog die land aan die gang hou, op derduisende sigbare en onsigbare maniere: deur swartes en bruines uit barmhartigheid in diens te neem of in diens te hou, selfs al kan hul dienste nie meer bekostig word nie; deur aan te bly in staatsdiensposte en te sorg dat dinge nog min of meer vlot, al is die werkomstandighede hóé onaangenaam en/of gevaarlik; deur sake-ondernemings te begin en aan die gang te hou en mense in diens te neem ondanks alle struikelblokke wat deur die regering in hul pad gewerp word; deur sopkombuise, uitreikingsaksies, opheffingsprojekte en geletterdsheidskursusse vir veral bruines en swartes; deur eerlik en hoopvol voort te gaan om die staat te betaal wat hom nie toekom nie: inkomstebelasting, BTW, munisipale gelde vir dienste wat glad nie of power gelewer word; deur in te gryp in haglike omstandighede waar munisipaliteite geen dienste meer lewer nie en self gate in paaie vul, waterpompe regmaak sodat daar drinkwater is, drinkwater aanry, damme skoonmaak, vullis verwyder ... ook tot voordeel van die swart inwoners, wat merkwaardige inisiatief aan die dag lê deur te toi-toi, klippe te gooi en af te brand.

Wat van al die brugbou-inisiatiewe van Solidariteit, wat alle kleure werkers verteenwoordig en voortdurend bereid is tot gesprekvoering met die regering? Wat van die stille diplomasie van Pieter Mulder van die VF+? Wat van al die Afrikaner-organisasies en hoogaangeskrewe Afrikaner-individue, van boere tot sakemanne tot taalorganisasies, wat maar te gretig is om met die regering te praat en uit te reik na swartes?

Wie onder die Afrikaners, of blankes in die algemeen, stook soveel rassehaat soos Malema en sy kaders in die ANC-Jeugliga; soos Jonathan Jansen en sy bruin Afrikaanshatende kollegas; soos die kaders in die Black Management Forum en die Young Communist League; soos feitlik elke swart burokraat in ’n bestuurspos? Met elke haatlike uitlating vervreem hulle die Afrikaners nog meer, bou hulle die mure van erger as ooit apart-hate tussen wit en swart nog hoër op.

Op die hoofartikelblad reg langs mnr. Pretorius se artikel skilder Dawie ’n donker prentjie oor hoe Suid-Afrika ná die jubelinge van 1994 agteruitgegaan het. Wie se skuld is dit? Die Afrikaner wat halsstarrig weier om die “apartheidsmure” in sy kop af te breek en volwaardig deel van die Nuwe Suid-Afrika te word?

Nee, Dawie maak hom, tipies Afrikaner, skuldig aan blaamverplasing. Hy glo dis die regering se skuld: “Dit is die skuld van ’n president wat nie kragtige leiding kan gee nie. Van ’n regering wat nie die onderwys behoorlik kan regruk, korrupsie in eie geledere kan hokslaan of vir doeltreffende plaaslike regering kan sorg nie.”

Hy eindig sy rubriek met die woorde: “Dit is nog nie te laat nie. Maar nes ’n vis van sy kop af vrot, is dit die kop wat vir ’n gesonde liggaam moet sorg. Daardie kop is pres. Jacob Zuma en sy regering. Vandaar Dawie se oproep vandag: Asseblief, mense, begin eindelik volgens beproefde beginsels regéér!”

Is die “mense” aan wie Dawie hierdie pleidooi rig, die koerantlesers? Sou dit die rassistiese en onbetrokke Afrikaners met die mure in die koppe wees?

’n Mens wonder waarom hierdie stuk van Dawie in Die Burger verskyn. Watter nut het dit nou eintlik, behalwe dat dit ’n Afrikaner soos ek nog net méér woedend en wantrouig teenoor die ANC-regime maak, nóg minder lus vir die paradys van die Nuwe Suid-Afrika?

Wie in die ANC wat enige sê oor beleid het, lees Die Burger? Wie steur hom hoegenaamd daaraan? Het ’n vertaalde weergawe van die stuk in ’n paar swart koerante verskyn? Op Jacob Zuma se lessenaar beland? Wroeg hy en die NUK daaroor?

Om terug te keer na die holruggeryde vergelyking tussen die val van die Berlynse Muur en die val van apartheid:

Waarom moes die Weermag Suid-Afrika se grense tydens die apartheidsjare patrolleer om swartmense van Afrika UIT die land te hou? Waarom het hulle hul eie vry lande, bestuur deur hul eie mense, bevry van die juk van die blanke baas, verlaat? Waarom wou hulle hul met mag en mening onderwerp aan die verskriklike lot van hul swart broers en susters in Suid-Afrika?

Is enige mens – wit, swart, bruin, Chinees, Indiër – belet om die land te verlaat, om te emigreer, om ’n beter toekoms elders in die bevryde Afrika of die wêreld te gaan soek soos dit die geval in die Oosbloklande was?

Hoe is dit dat Suid-Afrika se ekonomie, tegnologie, landbou, infrastruktuur, onderwys, hospitale – noem maar op – gegroei en gedy het onder apartheid in teenstelling met dié van die Oosbloklande? Ons polisiemag (ja, dit wás geïntegreerd, maar mét meriete) en Weermag kon met die beste ter wêreld vergelyk word.

Hoekom het Suid-Afrika sedert die val van apartheid teruggesak in 16 van 20 internasionale indekse?
Waarom is soveel minder mense tydens die verdrukkende apartheidsjare in polisiegeweldpleging dood as vandag onder die vry en demokraties verkose swart regering?

Vryheid is ’n onding, ’n monsteragtige, aftakelende mag as mense nie die innerlike dissipline het om dit te hanteer nie. Is die swartmense vandag beter daaraan toe as tydens die diskriminasie en onvryheid van afsonderlike ontwikkeling? Wat beteken ’n stem as jy geen werk het nie, geen kos of huisvesting, as jou lewe voortdurend in gevaar is, as die “leiers” wat jy verkies het en wat jou moet dien, jou besteel, bedrieg en ontmagtig, en jou land in die ellende dompel?

Hoe erg was blanke “verdrukking” teen die verwoesting van 15 jaar van swart vryheid? En dis nog maar 15 jaar ...

Dít wat vandag in Suid-Afrika gebeur, wat ons aan eie lyf voel, wat ons elke dag sien en hoor en lees, wat ons getraumatiseerd, bevrees, verdeeld, hatig en dislojaal maak – dít wat ’n beskaafde mens mure laat bou teen barbaarsheid en gekheid – dít is die kwessies waarmee mnr. Pretorius & Kie. hulle moet bemoei.

Die stelselmatige uitmoor van die blankes in Suid-Afrika, met die stilswyende goedkeuring van die ANC-regime en sy vennote, ja, dít is ’n misdaad teen die mensdom, dít moet wêreldwye protes en agitasie uitlok, sanksies tot gevolg hê.

Dít is wat mnr. Pretorius & Kie. onophoudelik op elke forum moet laat skuimbek.

Oorsprong:Praag
http://praag.co.za/jelleke-wierenga-magazine-467/6462-breek-die-regte-mure-af.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.