Saturday, 7 November 2009

Die Hart van 'n Hond


Deur Heinrich B Zaayman

Boksie was van onsekere herkoms, alhoewel dit nie gemaak het dat hy ‘n lelike hond was nie. Hy was groot met ‘n mooi gevormde kop, groot hangore en vriendelike groot bruin oë. Een van sy ouers moes ‘n Boerboel gewees het, die ander moontlik ‘n Labrador.

Oupa het eendag op pad van die dorp af terug plaas toe, ‘n skoenboks langs die pad sien lê, en net voor hy verby ry, die boks sien beweeg. Hy het gestop, en die boks wat met maskeerband toegeplak was, oopgemaak. Opgekrul binne-in, was die ligbruin hondjie, alreeds swak van ontbering en ‘n tekort aan suurstof. Oupa, wat ‘n groot diereliefhebber was, het die hondjie gemasseer, en lug in sy neus geblaas, en met vreugde aanskou hoe die outjie reëlmatig begin asemhaal het, en sy oë oopgemaak het.

Hy het die hondjie huis toe geneem, en hy en Ouma het die maer klein dingetjie met groot liefde begin versorg en grootmaak. En die klein maer dingetjie, gedoop Boksie oor waar Oupa hom gekry het, het gedy onder hulle versorging en liefde, en ‘n yslike hond geword. Vir hulle was hy soos ‘n kind in die huis.

Hoe ouer Boksie geword het, hoe meer het hy verstommende intelligensie getoon. Maar sy grootste deug was sy absolute liefde en trou aan Oupa en Ouma. Hulle kon hulle nie buite die huis roer nie, of Boksie was op sy pos tussen hulle, net voor hulle, net agter hulle. As hulle dorp toe gegaan het met die bakkie, het hy op die voorstoep gelê, tot hy die bakkie kon hoor aankom, dan het hy na die werfhek gehardloop en daar met groot geblaf gewag dat Ouma moet uitklim om dit oop te maak. En na hy haar gegroet het, het hy sommer stertswaaiend die werf skoongemaak van al die hoenders, ganse en wat ook al net om seker te maak sy Oubaas en Ounooi kan ongehinderd terug in die huis kom.

Met die al hoe groterwordende sekuriteitgevaar, het ons probeer om Oupa te oorreed om die plaas te verkoop, maar hy wou niks weet nie. Die plaas was vir hom en Ouma hulle hele lewe. Ons het hom darem later oortuig om nog ‘n groot hond te kry (Nero was ‘n Rottweiler) en toe te laat dat Boksie in die huis slaap.

Ek was op pad terug Gauteng toe, na ‘n drie dae lange besoek aan ‘n kliënt in die Noord-Kaap, toe ek skielik en onverklaarbaar die behoefte voel om vir Oupa en Ouma te gaan verras met ‘n besoek. Dit sou ‘n ompad van honderd kilometer beteken, maar ek kon nie die behoefte ignoreer nie. Ek moes onraad vermoed het toe ek hulle van die afdraai probeer bel het, en nie antwoord kon kry nie.

Toe ek by die werfhek stilhou, sien ek iets is verkeerd. Die hek staan oop, ek sien geen hond nie, en al die deure van die huis staan oop. Die waenhuis het ook oopgestaan en Oupa se bakkie was nie daar nie. Alles hoogs onreëlmatig. My nekhare het onmiddellik begin rys. Ek het uit my kar geklim en versigtig na die huis gestap met ‘n yskoue hand wat heeltyd my hart omklem het. By die hoek van die huis het Nero gelê, doodgeskiet.

By die stoeptrappe het ‘n onbekende jong swartman gelê, met arms aan flarde, en sy gorrel weggebyt. Van hom af het ‘n breë bloedspoor teen die trappe opgelei, deur die voordeur en na die kombuis toe. Daar het ek hulle gekry. Oupa en Ouma het langs mekaar gelê. Albei se voete, hande en skedels was verbrysel met ‘n bebloede hamer wat langs die tafel gelê het. Bo-op hulle het Boksie gelê, met sy kop styf tussen die oumense se liggame ingedruk. Sy hele agterlyf en ribbekas was met ‘n panga uitmekaar gekap. Sy regterbeen het net aan ‘n sening gehang, en die linkerkant van sy kop het aan ‘n vel oor Ouma se bors gelê.

Dit moes ‘n onmoontlike poging van hom gevat het, om homself teen die stoeptrappe op, deur die voordeur tot by sy geliefde Oubaas en Ounooi te sleep, om tog net saam met hulle die dood in te gaan. Ek lei af Oupa het nog geleef toe Boksie hom by hulle aangesluit het, want sy bebloede en gebreekte hand was op die hond se kop, en hy en Boksie het in mekaar se oë gelê en kyk.

Oorsprong:Litnet Senet
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=69496&cat_id=160
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=69495&cat_id=160

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.