Saturday, 7 November 2009

Die wit newels van waansin


Deur Heinrich B Zaayman

Terwyl die Polisie om jou rondskarrel om leidrade te probeer vind, sit jy op die stoep in die son, op ‘n snikhete Desember-oggend onder ‘n kombers en ruk. Die simpatieke sersant wat op haar hurke by jou sit het vir jou ‘n koppie walglike soet swarttee gebring.

Dit is asof jy van buite af ‘n grusame riller rolprent aanskou. Die bloed, die liggame, die stilte oor die werf. Jy kom agter dat die voëls nog steeds stil is. Jy probeer kalm bly, maar daar is sulke wit newels wat oor jou redenasievermoëns spoel. Jy probeer die emosies wat saam met daardie newels kom ontleed, en dan besef jy daar is net een beskrywing - waansin.

Want jy voel waansinnig hartseer en kwaad tegelyk. Jy soek iemand om te beskuldig, en jy wil daardie iemand vermorsel. Jy wil hom laat sterf op die wreedste manier denkbaar. Jy wonder waar was God om toe te laat dat twee sulke wonderlike en gelowige mense so wreed moes sterf, en jy verwyt Hom. "Waar de fok was Jy? Hoekom - hoekom -hoekom?" prewel jy, maar daar is nie antwoorde nie.

Jy kyk weer na die swarte wie se keel deur die honde afgeruk is, en jy dink; "Goedso Bliksem, ek hoop jy het stadig gevrek en geroggel in jou eie bloed."

As jy die soet tee drink begin die newels so bietjie terugtrek en jy besef jy moet die familie laat weet. Soos ‘n zombie loop jy na die telefoon en bel vir Ma en Pa. Dit is Ma wat antwoord. "Ma ek het slegte nuus," begin jy. "Here Heinrich wat is fout?" skree-vrae Ma as jou stem jou gemoedstoestand weergee. "Ma dit is Oupa en Ouma," begin jy. "Nee, Here asseblief tog nee!!!" skree Ma en die volgende oomblik is Pa op die lyn. Hy bring soos altyd bietjie kalmte in jou lyf. Jy verduidelik dat Oupa en Ouma vermoor is, maar los die detail uit. Dit voel net onmoontlik om dit te beskryf, so asof dit onwerklik is. Pa belowe hulle sal dadelik ry, en jy stop hom en sê dat Ma dit nie mag sien nie, hulle moet eers later kom. Sonder verduideliking verstaan Pa.

Dan begin jy wonder hoe jy die huis gaan skoon kry, so sonder hulp. Hoe jy jouself sover gaan kry om skoon te maak. Al die bloed...

Die polisie se lykswa hou voor die huis stil. Jy kan nie glo die twee ou mense word met so ‘n vuil en onpersoonlike voertuig weggeneem nie. So onwaardig. Die wit newels begin weer oor jou denke spoel, en jy ervaar ‘n intense haat. Dis hulle skuld, en jy wil hulle in die hande kry om te boet! Hulle moet boet!

Sersant Dhlamini bring vir jou ‘n toebroodjie. Dit proe soos rubber en karton, en jy bedank dit vriendelik en wonder of jy ooit weer in jou lewe gaan eet, of ‘n eetlus hê.

Daar stop ‘n rooi bakkie voor die huis, en ‘n vriendelike blonde vrou klim uit. Sy verduidelik dat hulle misdaad tonele opruim, en dat ek nie bekommerd moet wees nie. Hulle sal alles skoonmaak, hulle wag net vir die polisie-fotograwe om klaar te maak. Jy glimlag dankbaar.

Twee polisiemanne sleep Oupa se lieflingshond aan sy agterpote uit die huis en jy wil op hulle skree om die hond met respek te behandel. Jy vat egter woordeloos by hulle oor en dra die hond se verminkte karkas na die koelkamer, en lê dit saggies neer. Dan gaan haal jy die ander hond, en doen dieselfde. Dan begin jy wonder oor die ander diere, en stap krale toe. Tussendeur veg jy teen die wit newels. En al wat jy hoor is die polisie se doen en late. Die werf, die omgewing is stil. Jy kyk verbaas na die bloed aan jou klere, en wonder hoeveel daarvan is Oupa en Ouma s'n.

Asof jy outomaties kan beweeg, gee jy diere voer en water. Selfs hulle lyk verwese. So asof hulle bang is hulle hoor weer gille van die huis af.

Dan kom die eerste verlossing. Die buurman, oom Willie en sy vrou Erika kom aangestap. Jy het ook omtrent voor hulle grootgeword, en kan ewe skielik nie meer die trane terughou nie. En die geween van ‘n groot man het ‘n rouheid van sy eie. Dit weerklink van woede, frustrasie en hartseer oor jy nie die tragedie kon keer nie. Oor selfs jou manwees ontoereikend was om jou geliefdes te beskerm.

Die twee ou mense hou jou vas asof jy hulle eie kind is. En net hulle aanraking bring bietjie kalmte en verdryf die wit newels. Vir eers.

Oupa, Ouma en Boksie is saam begrawe daar op die plaas. Daar waar die Treurwilgers so oor die stroompie langs die huis hang.

Oorsprong:Litnet Senet
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=69495&cat_id=160
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=69494&cat_id=160

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.