Sunday, 27 December 2009

Om met jou ma se verkragter te speel


Geskryf deur Vlad du Plessis

Die rol wat die ligsinnige tydverdryf, rugby, in ons volk se ondergang gespeel het en die voortgesette negatiewe impak daarvan, mag nie onderskat word nie. As Afrikaners met slegs 10% van die entoesiasme waarmee hulle hul gunsteling Engelse sport bedryf hul vryheid sou nastreef, dan kan ons seker binne enkele weke ’n Afrikanerrepubliek bekom. Helaas, hierdie logika ontgaan Afrikaners soos wat hulle hulself bedwelm met die ekstase van die eiervormige Engelse bal wat oor die pale vlieg.

Terwyl die Kaapse koloniste tydens die destydse Britse bewind rugbyspelers geword het, was dit anders vir die burgers van die Boererepublieke. Dit was egter in die krygsgevangekampe van die tweede vryheidsoorlog waar Boerekrygsgevangenes met hul vyand begin speel het nadat hulle die stryd verloor het. Hier het hulle begin om rugbyvriendskappe te smee met die verkragters en moordenaars van hul dogters, vroue en moeders. Dit is ‘n perverse liefdesverhaal wat Afrikaners in die toekoms polities sou ontlont deurdat dit pogings tot groepsaksie "vreedsaam" sou kanaliseer om op ‘n meer "Britse" manier uiting te vind. Cecil John Rodes wou reeds van vroeg die balsport rugby inspan om Kapenaars te deëtnifiseer en het met welslae die 1891-Britse toer na die Kaapkolonie gefinansier.

Dat rugby die Afrikaner se opium is, het die Kommuniste ewenwel begryp. Dis nie om dowe neute dat Mandela die naam 'Playing the Enemy' vir sy boek oor die uitoorlê van die Afrikaners gekies het nie. Afrikaners sou immers eerder aan internasionale sport deelneem as om hul vryheid te behou; hul geboortereg verkoop vir 'n pot lensiesop ...

In die era van sportboikotte het Afrikaners gesmag om te mag 'speel' met hierdie vyande. Dít terwyl laasgenoemde aktief besig was om die ANC te ondersteun en ons oral denkbaar te ondergrawe. In sy boek, Strooidak en toring, waarin Izak de Villiers onder andere die skandelike oorgawe deur die NP bespreek, sê hy: ”Miskien was ons almal te bewus van hervorming, hervorming, nuwe bedeling, vrede (en rugby)...”

In die relaas van die Amerikaanse joernalis Patti Waldmeir oor die Nasionale Party se oorgawe, Anatomy of a miracle, skryf sy: "Afrikaners had swapped apartheid for rugby, and there was every sign they thought it a fair deal."

Die rugbybeswyming duur natuurlik voort selfs in die huidige krisis waarin ons leef. Min Afrikaners verstaan veel van Suid-Afrikaanse politiek en nog minder is op enige vlak by hetsy ons bevryding, hetsy enige vorm van Afrikanerweerbaarheid betrokke. Nogtans sit hulle bankvas op die pawiljoen, wanneer 30 uitgevrete imbesiele om des lewens agter 'n bal aanhardloop.

Behalwe dat Afrikaners aanhoudend deur middel van hierdie onsinnigheid uit die werklikheid ontglip, bied rugby ook ander kontradiksies wat teenproduktief vir ons breër oorlewing is. Die raakpunte wat rugby (en krieket) tussen ons en die Angel-Saksiese wêreldgemeenskap bied, kan slegs negatief op ons inwerk. Per slot van rekening is sportbeoefening ook ’n kultuuraktiwiteit. Die kontak wat sulke sportbyeenkomste met Engelssprekende lande meebring, is nie 'n goeie ding nie. Dit raak ’n proses van kulturele kontak waar gemene saak gemaak word met volkere wat ons tans steeds negatief gesind is. In die vroeë twintigste eeu het Afrikanerintellekteuele, -politici en skrywers heelwat kontak met ons stamlande: Nederland, Duitsland en Frankryk gehad; ten dele is die opbloei in die Afrikaanse kultuur hierdeur moontlik gemaak. Danksy rugby, is ons deesdae uitsluitlik gerig op Engeland, Australië en Nieu-Seeland.

Min Afrikaners besef in welke swak lig ons nog steeds in Engelssprekende lande beskou word. Die minagting waarmee die breër Angel-Saksiese wêreld ons sien, kom op ’n vorm van volkshaat neer. Wanneer mens vriendskappe begin bou met mense wat nie jou waardes verstaan of respekteer nie, begin jy gewoonlik jou eie waardes te kompromitteer om sodoende meer aanvaarbaar vir hierdie "vriende" te wees. Hierdie dinamika geld op ’n persoonlike vlak, maar ook op ’n gemeenskapsvlak. Dis om hierdie rede, sowel as vir persoonlike gewin, dat Suid-Afrikaanse krieket- en rugbyspelers (rondom ons internasionale hertoelating) in die vroeë 90s dikwels meer krities teenoor apartheid gestaan het as wat vir hul ondersteuningsbasis sou geld.

Hulle het bande begin smee met mense teenoor wie hulle ’n waardekompromie aangegaan het. Rugby en krieket dra by tot die verinternasionalisering van Afrikaners en dit dra by tot ’n verlies aan identiteit, in ’n milieu waar ons oorlewing van ’n sterk identiteit afhang.

Deur ons geskiedenis kom die tema van uitverkoop na vore. Dit was sigbaar ten opsigte van Afrikaners wat te verstrengel met die internasionale gemeenskap geraak het, byvoorbeeld Jan Smuts, Pik Botha, die hartchirurg Chris Barnard, ens. Tans is die Hollywood-ster en dowwe blondine van Benoni, Charlize Theron - daardie aartsdissipel van die halfgod Mandela - ook ’n goeie voorbeeld. Met haar swaar en vals Amerikaanse aksent, is sy sekerlik een van die beste voorbeelde van ’n Afrikaner wat op hierdie wyse verinternasionaliseer is. Hoewel Charlize Theron ná ’n relatief kort periode "veramerikaans" het, het die Australiese aktrise, Nicole Kidman, selfs ná baie jare in Hollywoord haar Australiese aksent behou. Die rede is eenvoudig: Kidman as Australiër is deel van die globale Angel-Saksiese kultuur en dit is aanvaarbaar. Daarenteen moet Theron as Afrikaner haar self deëtnifiseer om aanvaarding te verkry.

Kan enigeen onthou hoe "Engels" Hansie Cronje en sy spanlede geklink het...? Luister gerus na sommige van ons huidige Afrikaner sport-"helde" as hulle praat. Nogtans moet jy nie glo dat solank jy ’n goeie ou Boere-aksent handhaaf jy maar lustig met die rugbybal kan voortdraf nie. Die sielkundige kragte van verinternasionalisering en veral veratlantisering (die verinnerliking van die Angel-Saksiese karakter) strek baie dieper.

Dieselfde kragte wat op Theron inwerk, het ’n impak op ons rugbyspelers, hoewel in ’n ander konteks. Wanneer hulle teen die buiteland speel, smee hulle bande met veral die Anglo-Saksiese wêreld en dit beïnvloed hulle waardes, gedrag en wêreldbeskouing. Moet ook nie ons rugbyspelers se gedienstigheid aan die Afro-Saksiese ANC onderskat nie. Behalwe dat die ANC nou vir alle praktiese doeleindes hul organisatoriese meesters is, sal enigeen van hulle pronk op ’n foto met 'n ANC-minister, as dit meer publisiteit en dalk ’n plek in die Springbokspan kan beteken.

Ons rugbymanie dra ’n beeld van normaliteit aan die wêreld uit. In Jacob Zuma se woorde is ’n land wat op sportterrein presteer immers ’n land wat in vrede met homself leef. Is hierdie die boodskap wat Afrikaners aan die buitewêreld wil uitdra?

Onwillekeurig moet mens die vraag stel: “Hoe is dit moontlik dat mense wat uitwissing op elke gebied in die gesig staar meer gemoeid met balspele as hul oorlewing is?” Dit is asof Afrikaners meer as ooit tevore in die balsporte (veral rugby) opgaan. Afrikaners toon bykans geen belangstelling in die politiek nie en dit is asof rugby (net soos charismatiese godsdiens) Afrikaners se verbeelding en groepsmeelwing ten volle gemonopoliseer het. Geen vorme van verset teen die rassistiese diktatuur waaraan ons onderwerp is, interesseer Afrikaners in 'n beduidende mate nie Nogtans raak hulle liries wanneer hulle hul grootste vyand se sport kan bedryf. Die situasie is erg genoeg om enige denkende mens stom te slaan en telkens kan mens nie anders as om te wonder of so ‘n volk werklik redding verdien nie. Dit is asof Afrikanernasionalisme ten volle deur ‘n soort rugbynasionalisme of dan rugbyisme vervang is. Ek wil dit waag om te se dat ten spyte van al die verskille wat ‘n eeu van volksewolusie opgelewer het, dit veral hierdie afvallige sport van die vyand is, wat die eertydse Afrikaners van die Boererepublieke en die huidige Afrikaners van mekaar onderskei. Miskien is dit die grootste wapen waarmee die Engelse ons ooit kon oorwin, want hiermee het hulle ons volk in gatlike en skrillend juigende pom-pom-waaiende dopamiene junkies verander.

Hoewel dit ’n projek is wat enorme teenstand sal kry, wil ek voorstel dat ons in ’n Afrikanerrepubliek heeltemal met die Engelse spoortsoorte, naamlik rugby en krieket, wegdoen. Ons het nie nodig om hierdie "kultuur"-aktiwiteit, wat groter gemeenskaplikheid tussen ons en ’n steeds vyandige internasionale Engelse gemeeskap bevorder, te beoefen nie.

Inteendeel sou ek wou aanraai dat Afrikanersportdeskundiges na die tekenbord gaan en 'n totaal nuwe sportsoort ontwerp. So ’n volkseie sportsoort kan deur die skole (Afrikanerdepartement van onderwys) en ander staatsinstellings (Afrikanerdepartement van sport en ’n Afrikaner-openbare-uitsaaier) gevestig en bevorder word. Net soos Amerikaners met hulle eie voetbal en bofbal, kan ons ons eie sportsoorte ook met groot geesdrif en voortreflikheid beoefen.

In ons huidige krisis waar ons deur radikale problematiek gekonfronteer word, sal Afrikaners self moet oorgaan tot die beoefening van radikale politiek. Die radikalisme wat nou van ons vereis word, beteken dat ons gefokus moet wees en nie langer deur lughartige onsinnighede, soos rugby, verlam word nie. Mag die dag kom dat ons die sport van die moordenaars en verkragters van ons voorgeslagte afsweer!

Oorsprong:Vlad du Plessis se Perspektief Blog
http://perspektiefblog.blogspot.com/2009/12/om-met-jou-ma-se-verkragter-te-speel.html
http://perspektiefblog.blogspot.com/

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.