Friday, 18 December 2009

Was Dingaan die eerste transformeerder?

DONDERDAG, 17 DESEMBER 2009

Deur Dr. Dan Roodt

Toespraak gelewer op 16 Desember 2009 in die holkrans by die La Rochelle-geloftefeesterrein*
Op Geloftedag herdenk ons die oorwinning van die goeie oor die bose, van die lig oor die duisternis, van die regverdige en godvresende Voortrekker oor die listige, wreedaardige Dingaan. Daar is sekerlik vandag baie Afrikaners wat meen dat Dingaan weereens in ons land aan bewind is, want dieselfde soort wreedhede en gruweldade as wat by Bloukrans en Weenen teen ons gepleeg is, het in die nuwe Suid-Afrika alledaags geword.

Elke tydvak en elke revolusie word deur ‘n begrip of ‘n woord benoem. Daar was die bloedige Franse revolusie, die Oktoberrevolusie van 1917 in Rusland wat die tydvak van kommunisme ingelui het, asook Mao se kulturele revolusie wat ‘n suiwerder vorm van kommunisme en gelykheid aan Sjina moes bring. Hier by ons staan die tydperk 1948-1994 vandag bekend as die sogenaamde “apartheidtyd”. Dis geen onskuldige benaming nie, want in die woord “apartheid” het die vyande van die Afrikaner ‘n towerwoord, ‘n sjibbolet, ‘n vloek gevind waarmee ons vandag lamgelê en van alle regte en menswaardigheid beroof word.

In die toekoms, iewers, wanneer Suid-Afrika hom hopelik uit die huidige greep van boosheid en korrupsie sou ontworstel het, gaan geskiedkundiges, skrywers, filosowe, staatswetenskaplikes en gewone mense waarskynlik na dié periode verwys as die transformasietyd. Een van die beste moderne romans in Afrikaans, deur P.J. Haasbroek, speel in Kambodja af, ‘n land wat insgelyks deur ‘n fanatiese en kommunistiese revolusie verwoes is. Dit heet Die jaar nul. Tydens die revolusie van die Rooi Khmer in Kambodja het vier miljoen mense omgekom. Lede van minderheidsgroepe soos Sjinese handelaars is voor die voet uitgemoor. Die hele bevolking is aan ‘n vorm van politieke terreur blootgestel. Een van die slagspreuke van die Kambodjaanse revolusie was: “Om jou te hou, is geen voordeel nie. Om jou te vernietig, is geen verlies nie.”

Herken ons nie iets van hierdie slagspreuk in die huidige Suid-Afrika nie? Om 'n Afrikaanse skool of universiteit te behou, is geen voordeel nie; om dit te vernietig, is geen verlies nie. Dieselfde geld ons plaasboere wat in hul duisende al aangeval is en waarna ons regering geen poging aangewend het om hulle te beveilig nie. In die groot stede, waar stedelinge insgelyks deur swerwende boosdoeners geteister word, is tienduisende en selfs honderdduisende mure met elektriese drade en lemmetjiesdraad opgerig, die stille getuienis van ons behoefte aan veiligheid en ons vrees vir die transformasieproses wat besig is om oor ons land te spoel.

Die poging om ‘n nuwe orde in Kambodja tot stand te bring – ‘n jaar nul, ‘n wêreld wat van voor af begin sonder die besmetting van die ou orde – het tot 'n misdaad teen die mensdom gelei.. Soos die karakter Krishmi in Haasbroek se Jaar nul op bladsy 38 sê: “In die naam van die nuwe orde slaan hulle mense en word die tronke vol. Duisende is al doodgemaak uit ywer vir een of ander ideale orde. Dit lyk my onvermydelik dat elke nuwe orde sy eie drag lyding bring; daaraan kan ons nie ontsnap nie. Daarom dink ek die hel is juis orde, ‘n groot ysige orde van mense wat in rye staan soos bome in ‘n plantasie, roerloos op een plek. In die hemel sing en dans hulle... Jy maak my bang as jy van ‘n Groot Eenheid praat, Ton lon Jin.”

Nes daar in Kambodja in die laat sewentigerjare ‘n volksmoord gepleeg is om ‘n Groot Eenheid tot stand te bring, word daar vandag in Suid-Afrika deur wetgewing, staatsmag, sosiogeniëring en desnoods deur geweld, gepoog om ‘n nuwe orde en Groot Eenheid tot stand te bring. Die sentrale begrip, die groot idee, die revolusionêre strydkreet van ons land ná 1994 is: “transformasie”.

Transformasie is die kleinkind van alle kommunistiese revolusies van die twintigste eeu. Vir baie mense, veral liberale of linkse Afrikaners wat vandag die nuwe orde met soveel ywer dien, is dit moontlik ‘n aanvegbare stelling. Vir hulle is “kommunisme dood” en het dit skadeloos geword. En indien die stelling waar is, is hulle onmiddellike reaksie: “En wat daarvan? Ons het geen beswaar teen kommunisme nie, al het dit 100 miljoen mense in die twingtigste eeu in strafkampe en oorloë laat sterf. Ons enigste beswaar is teen apartheid, teen Afrikanereksklusiwiteit, teen die ou vlag en rassisme.’

Die ou vlag, selfs die kleure oranje, wit en blou van die ou Prinsevlag wat ons voorouers tesame met die Protestantse Bybel in die moedertaal en die Romeins-Hollandse regstelsel hierheen gebring het, gee aanstoot. Maar nie die rooi en geel van die hamer en sekel nie. Aand na aand sien ons dit op die TV-nuus wat deur Riaan Cruywagen in sy vertroude stem gelees word, maar ons is so gewoond daaraan, ons merk dit nie eens op nie. Lede van die ANC-regering spreek mekaar as “kameraad” of “comrade” aan en ook daarmee vind ons niks fout nie. Want het ons nie die nuwe orde, die nuwe wêreld, ons “jaar nul”, met geesdrif omhels nie? En is ons nie almal lief vir Nelson Mandela, die draer van die nommersesrugbytrui wat nou ook deur Hollywood verewig is nie, al is Mandela dan ook die skrywer van ‘n boek met die titel: “How to be a good communist”?

Dus, om ‘n verband tussen transformasie en kommunisme te sien, is geensins omstrede nie. Die voorstanders van transformasie is selfs trots op die herkoms van hul begrip; vandaar ook Suid-Afrika se noue bande met Kuba, een van die laaste plekke op aarde wat nog amptelik onder kommunistiese beheer verkeer.

Vandag, hier, wil ek egter dieper in die verlede in delf, iets wat Van Wyk Louw vir ons so mooi in ‘n gedig gestel het:

En hiermee keer ons langs die wenteltrappe

en die kartelings af na ander jare:

word druïdes van ons volste wete,

word – gemasker – beitelaars op klippe,

wentelaars van klippe tot iets minders

- ja!- as piramides: maar tog séker

hoeders van die eerste weet oor “gode”.

Verder terug as Mandela, wat vir ons transformasie en ‘n kwasikommunistiese revolusie gebring het, staan Dingaan, wie se misdadige optrede direk tot die Gelofte en die slag van Bloedrivier gelei het.

Die Gelofte, soos dit moet, fokus op ons verbond wat met God gesluit is. Dit lui: "Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde, om 'n gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag, soos 'n sabbat, sal deurbring en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee."

In die strydkreet waarmee Dingaan sy krygers aangesê het om Piet Retief en sy geselskap dood te maak, het hy hulle volgens oorlewering as "wit towenaars" beskryf. Hierin kan ons vele dinge lees, maar vir my dui dit die begin van die transformasierevolusie aan. Immers het Dingaan met sy beskrywing te kenne gee dat Retief-hulle tot 'n ander kultuur, taal en ras as hy behoort het en daarom verdien het om te sterf. Agterna is hulle op gruwelike wyse doodgemartel en Retief moes aanskou hoedat sy volgelinge een na die ander gefolter is en hul skedels oplaas met knopkieries verbrysel is.

Hierna is 500 vroue en kinders ook op die afgryslikste wyse vermoor. Daar word gesê dat 'n mens nie die geskiedenis moet misbruik nie, maar is hierdie gebeure nie vandag - te midde van die geweld en transformasie wat ons tans ervaar - soveel te meer relevant en ter sake nie?

Paul Kruger se outobiografie deur D.W. Krüger, wat 'n maand of twee gelede by PRAAG in 'n heruitgawe verskyn het, bevat 'n beskrywing van daardie tonele waartydens ons voorsate uitgewis is, as straf vir hul tog na vryheid die binneland in. In die woorde van Paul Kruger:

„Maar watter verskriklike tonele het ons nie in die ander laer gesien nie. Daar het die lyke van ons mense gelê wat deur ʼn ander afdeling van die Zoeloeleër vermoor is en in hulle bloed gebaai het. Die veld was wit van die vere wat die moordenaars uit die beddegoed van die waens geskud het. Daar was skape wat lewendig oopgesny is en manne, vroue en kinders op die gruwelikste wyse gefolter, vermoor, deursteek en keelaf gesny. Die aasvoëls, wat soos hulle vertel het, so ʼn Zoeloe-impi orals gevolg het, het reeds begin om die dooies te verskeur. Daar het moeders dood gelê asook sterwendes nog met die kleintjies aan die bors gedruk. Ander het met verstyfde arms hulle kinders, deurboor met assegaaie wat die lyke aanmekaar gehou het, omklem. Baie lyke is op die verskriklikste manier mishandel en geskend, en klein kindertjies het gelê waar die barbare hulle neergegooi het, nadat hulle die harsings teen die wawiele uitgeslaan het.” (PK, bll. 28-29.)

In die twintigste eeu, is daar vele boeke oor kommunisme geskryf, veral ná die Russiese skrywer Aleksandr Solsjinitsin se werke in Westerse tale vertaal is. Die strafkampe en gruweldade van kommunisme is ná byna 'n eeu van sensuur deur die liberale media en veral die Westerse intellektuele en akademici ontbloot vir wat dit is: 'n mensdaad teen die mensdom, maar ook: primitiewe geweld en moordlus wat in die naam van revolusie en 'n beter wêreld met groter gelykheid botvier.

Dingaan het nie gelykheid of kommunisme nagestreef nie, maar in sy bereidheid - en sou 'n mens sê, die gemak - waarmee hy die onskuldige Voortrekkermanne, -vroue en -kinders laat uitmoor het, was hy Suid-Afrika se eerste swart revolusionêr, ons land se eerste transformeerder. Hy het verstaan dat terreur 'n politieke wapen is wat met welslae aangewend kon word. Waarskynlik was die keerpunt in die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis die Kerkstraatbom wat die ANC op 20 Mei 1983 laat ontplof het. Dit was 'n terreurdaad waarop selfs 'n Dingaan trots sou kon wees, want 19 onskuldige mense het gesterf en ongeveer 200 is beseer.

Maar anders as die Voortrekkers onder Andries Pretorius in 1838, het hierdie daad van uiterste geweld nie die destydse Afrikanerleiers tot verdediging, straf en geregtigheid aangespoor nie. Dit het tot akkomodering, onderhandeling en uiteindelike kapitulering gelei.

Onlangs het mnr. Roelf Meyer, die hoofonderhandelaar van die Nasionale Party tydens die vroeë negentigerjare, in Rapport geskryf dat hy en sy regering nie anders kon as om aan die ANC en die SAKP oor te gee nie. Hoewel Suid-Afrika destyds 'n kernmoondheid was, met waarskynlik die vyfde of sesde sterkste weermag ter wêreld, het mnr. Meyer dit goedgedink om alle beheer van die staat - ook oor die weermag en polisie - aan die ANC oor te dra. Hierdie daad van blinde en naïewe vertroue in 'n gewelddadige en listige vyand, is presies dít wat tot die dood van Piet Retief en sy geselskap gelei het. Ook Retief het beleefd en goedgelowig op Dingaan se versoek om hul wapens buite die kraal te los, gereageer.

Op 'n meer uitgebreide manier het 'n onlangse geslag politici die wapens buite die kraal oorhandig en is ons vandag byna meer weerloos as daardie vroue en kinders wat niksvermoedend in 1838 langs die Tugelarivier deur die Zoeloe-impi's verras is en 'n verskriklike prys daarvoor moes betaal.

Die transformasie van die Suid-Afrikaanse weermag was waarskynlik die enkele mees belangrike politieke gebeurtenis van die afgelope vyftien jaar. Nie net behels transformasie direkte en verskriklike geweld soos wat Dingaan gepleeg het nie, maar as stelsel en revolusionêre program skep transformasie die potensiaal vir verdere geweld, massamoord en uitwissing.

Deur die geskiedenis het filosowe en politieke denkers daarteen gewaarsku om jou vyand se beloftes op sigwaarde aan te neem. Goedgelowigheid en gebrek aan kennis en insig word gewoonlik baie swaar deur die verloop van die geskiedenis gestraf. Een van die politieke filosowe wat in die Westerse wêreld tot vandag toe gelees word, is Machiavelli. Hy het heelwat te sê gehad oor die mistasting om goeie bedoelings aan jou politieke opponent toe te skryf.

Binne die Calvinisme is ons geneig om te dink dat alles deur God vooraf bepaal word; vandaar dan ook sekere Afrikaners wat vandag beweer dat God die ANC oor ons aangestel het om ons vir ons sondes uit die verlede te straf. Maar by die goddelike wil en predestinasie, is daar ook die menslike wil te voeg. Calvyn was van mening dat die Here diegene help wat hulleself help. Nicolo Machiavelli in Die Prins skryf só oor Italië en oor sy stadstaat Florence:

"Met ons is daar groot geregtigheid, want daardie oorlog is regverdig wat nodig is en wapens word geseën as daar geen ander hoop as op hulle is nie. Hier heers die grootste bereidwilligheid en waar die bereidwilligheid groot is, kan die moeilikhede nie groot wees nie as u bloot daardie mans volg wat ek onder u aandag gebring het. Wat meer is, hoe buitengewoon is die weë van God nie wat bo alle voorbeelde geopenbaar is: die see is verdeel, 'n wolk het die weg gelei, die klip het water voortgebring, dit het manna gereën, alles het tot u grootheid bygedra; u behoort die res te doen. God is nie bereid om alles te doen nie en sodoende ons van ons vrye wil en daardie deel van die glorie wat aan ons behoort, te ontneem nie."

Ek herhaal die laaste sin: "God is nie bereid om alles te doen en sodoende ons van ons vrye wil en daardie deel van die glorie wat aan ons behoort, te ontneem nie." Vanjaar is die 172ste jaar dat Afrikaners Geloftefees hou. Terwyl ons hierdie goddelike ingryping in die lot van ons pioniervoorvaders gedenk, huldig ons terselfdertyd hul moed, intelligensie en deursettingsvermoë. Dít is die aspek waarna Machiavelli verwys as hy sê dat God ons nie van ons aandeel aan die glorie van 'n veldslag soos Bloedrivier wil ontneem nie.

In dié opsig is Andries Pretorius 'n interessante figuur in die hele Bloedriviersage. Hy het aanvanklik nie deelgeneem aan die Voortrek nie, maar het wel in die Oos-Kaap verskeie militêre ekspedisies teen die Xhosas aangevoer. Op dié stadium was die Voortrekkers, wat ná die slag van Italeni waar hulle weereens met verliese van die Zoeloes moes wegvlug, hulle eintlik vasgekeer in Natal, wat hulle as die Beloofde Land beskou het. Dit het gereën, hul kruit was letterlik nat en ons kan ons vandag kwalik indink in die moedeloosheid en wanhoop wat daar onder hulle moes geheers het. Maar toe kom die buitestaander, Andries Pretorius, 'n nuwe leier. Soos Machiavelli ook in Die Prins skryf, skep hopelose, negatiewe toestande dikwels die behoefte aan 'n nuwe leier wat soos Moses van ouds sal opstaan om sy verdrukte volk uit Egipte te lei.

Die nuwe leier moet buite die ou paradigma, die ou manier van dink en doen, kan tree. Soos ek reeds gesê het, is transformasie soos ons dit in dié land leer ken het, sinoniem met onreg en geweld. Maar geweld self skep onvermydelik buitengewone omstandighede. Immers streef die meeste mense op aarde - selfs in Afrika - vrede en harmonie na. Selfs al is jy vir jou buurman kwaad, gaan val jy hom nie met 'n AK 47 aan en wis hom en sy gesin uit nie. Daarom verteenwoordig die geweld wat Dingaan se impi's teen Piet Retief, asook die vroue en kinders by Bloukrans en Weenen gepleeg het, 'n tree buite alle norme van vreedsame naasbestaan – om van beskawing nie eens te praat nie. Ook die graad van geweld wat tans in Suid-Afrika heers, is geensins normaal nie, maar skep 'n wêreld sonder grense waar elkeen kan maak soos hy wil. Die geweldenaar, soos Dingaan, tree buite alle logiese of beskaafde denke en word iets dierliks, afskuwekkends en verskrikliks. In Joseph Conrad se beroemde novelle oor Afrika, Heart of darkness, spreek een van die karakters die beroemde woorde: "Die verskrikking! Die verskrikking!" (In Engels: “The horror! The horror!”

'n Ander skrywer, 'n Afrikaner wat in Engeland gaan woon het en blykbaar op goeie voet met die Britse koningshuis verkeer het, Laurens van der Post, het op 3 Maart 1954 ‘n lesing aan die Sielkundeklub van Zürich, Switserland gelewer wat agterna in boekvorm uitgegee is as: The dark eye in Africa. Die donker oog in Afrika. Hy het dié uitdrukking ontleen aan 'n gesegde wat hy in Indonesië gehoor het, “mata kelap”, waar die mees vredeliewende en betroubare persoon skielik besete kan raak en tot geweld en selfs moord kan oorgaan. Dan word daar gesê: Sy donker oog het van hom besit geneem. Van der Post slaag nie werklik daarin om te verklaar waarom daar so 'n donker oog veral in Afrika bestaan nie. Ons weet dat daar sedert Dingaan en sy Zoeloes se gruweldade miljoene mense op die afgryslikste maniere denkbaar in Afrika uitgemoor is. Tot vandag toe word hierdie dade van verskrikking in verslae van die Verenigde Nasies opgeskryf of hier en daar in boeke of koerante opgerakel. Hier by ons is daar plaasmoorde, huisaanvalle, motorkapings en alles wat daarmee saamhang.

Van der Post het ná die tweede wêreldoorlog bekommerd geraak oor die verandering wat hy in Afrika bespeur het en dit soos volg beskryf:

“Toe ek ná die laaste oorlog teruggekeer het, is ek geskok deur die verandering wat plaasgevind het. Gebeure wat in my kinderdae raar was, het algemeen geword: rituele moorde, mensvretery, geheime organisasies wat teen die wettige gesag agtiteer, blitsige uitbarstings van geweld en moord en soms skynbaar onverklaarbare uitbrekings in gebiede wat vir ‘n lang tyd geen onrus geken het nie. Hierdie dinge was oral besig om toe te neem, asook die ander klassieke tekens van innerlike onrus: ‘n toenemende instroming van ontwortelde mense na die stede, die groeiende aantal gefrustreerde werkloses op straathoeke, tesame met intellektuele wat nie in diens geneem kan word nie, die toename in politieke agitasie en sosiale verwarring, die skynbaar sinnelose breek van winkelvensters en onverklaarbare onluste in beskaafde strate.”

Die vraag wat ons vandag vir onsself moet afvra, is: Hoe het ons voorouers onder veel hagliker omstandighede as ons s'n vandag, daarin geslaag om die sogenaamde "donker oog in Afrika" te tem en sodoende 'n hele beskawing in dié land te vestig? Wat was daar wat Andries Pretorius, A.H. Potgieter, Paul Kruger en ander gehad het wat ons nie het nie, of waaroor Roelf Meyer en FW de Klerk waarskynlik nie beskik het nie?

Net gister lees ek oor die huidige eerste minister van Finland, Matti Vanhanen, dat hy blykbaar op 'n keer gesê het dat hy nog nooit raad van enigiemand anders gevra of gevolg het nie. Vir ons Afrikanerleiers wat so lief is om te vergader en te praat, met ons swetterjoel organisasies wat een en almal mekaar se raad of "modelle" volg, is dit nogal 'n merkwaardige houding vir 'n leier om in te slaan. Daarin lees ek egter Vanhanen se behoefte om buite die gewone - dít wat die mense sê of glo, die sogenaamde konsensus - te tree en die risiko van eie besluite te neem.

In die lewe van enige volk of enige groep mense op aarde, 'n dorp, 'n straat, 'n gesin, breek daar 'n tyd aan wanneer die gewone en aanvaarde oplossings nie meer deug nie. Dan verg dit waagmoed, durf en visioenêre leierskap. Soos Machiavelli dit gestel het: "daardie oorlog is regverdig wat nodig is en wapens word geseën as daar geen ander hoop as op hulle is nie."

Dit klink amper asof ek u soos van ouds voor die slag van Bloedriviet tot oorlog wil oproep. Daar heers vandag groot ontnugtering onder alle Afrikaners van dwarsoor die politieke spektrum, van Breyten Breytenbach tot Eugene Terre'Blanche. Om die volgende vyf jaar in Suid-Afrika te voorspel en om te sê dat daar nie 'n vorm van oorlog gaan uitbreek nie, is om die minste te sê, moeilik.

Die geskiedenis en die politiek van Suid-Afrika het nie veel verander oor die afgelope 200 jaar nie. Slegs die omstandighede het meer verwikkeld geraak. Die soort oorlog wat ons vandag voer, is nie meer met voorlaaiers en assegaaie nie. Dikwels is dit 'n oorlog, nie van die swaard nie, maar van die pen. En soos hulle sê, is die pen magtiger as die swaard. Die afgelope paar dekades is die Afrikaner bowenal vasgevang in 'n propagandaoorlog waar hy gedurig in die beskuldigdebank verkeer, hetsy oor apartheid, hetsy oor "rassisme", uitbuiting en ander begrippe wat die ANC-bewind met groot stelligheid en behendigheid in die massamedia hanteer.

Die eerste stap, myns insiens, is om buite die gewone te tree, om die reëls en woorde waarin ons vasgedraai is, omver te werp. In die aanloop tot die eerste vryheidsoorlog het die burgers van die ou ZAR met 'n belastingboikot begin. Daarom vind ek dit interessant dat Hermann Giliomee, die liberale historikus van Stellenbosch, onlangs dieselfde uitspraak gemaak het, dat onder soortgelyke omstandighede as dié waaronder die Afrikaner tans verkeer, ander volkere hulle geredelik tot belastingboikotte gewend het.

Soos wat ons land soos 'n trein sonder drywer op die rand van die afgrond voortsnel, sal ons, die passasiers, vinnig moet begin planne beraam en dalk sal iemand die bul by die horings moet pak en self in die bestuursitplek moet inspring. As ons kyk hoe vinnig Zimbabwe van 'n redelik ontwikkelde en welvarende land binne enkele jare tot 'n mislukte staat van die Afrikatipe verval het, dan het ons ook in Suid-Afrika nie veel meer tyd nie.

Soos Machiavelli ook te kenne gee, is dit tydens krisisse wat die beste in 'n mens en veral in leiers na vore kom. Tydens die uur van ons angs en verlatenheid vind grootse dade plaas en kan ons daarop reken dat God ons wapens sal seën. Soos keer op keer in die verlede, en veral by Bloedrivier, gebeur het. Dit is juis in die laaste oomblikke van die geskiedenis, as alles rondom ons donker word, dat wysheid oplaas na ons toe kom. Soos die filosoof Hegel gesê het: "Die uil van Minerva sprei sy vlerke as die skemer daal." Toevallig het ek onlangs uitgevind dat die vrouefiguur op die koepel bo die Ou Raadzaal in Pretoria van waar Paul Kruger regeer het, wel ‘n afbeelding van Minerva, die Romeinse godin van wysheid, is, dus was ons voorouers ewe bewus van haar!

Daarom moet ons nooit moed verloor nie, al gaan dinge hoe sleg en al lyk die toekoms soms vir ons duister. Ten slotte, soos die digter ID du Plessis dit so treffend gestel het:

Soet is die stryd

Jy sê die stryd is verlore,

Ons nasie te arm en klein,

Ons taal uit 'n drang gebore

Wat een van die dae verdwyn?

My broer, dit mag heeltemal waar wees.

Wie weet wat die toekoms gaan baar?

Miskien moet ons oormôre klaar wees.

Om weer hierdie droom te laat vaar;

Maar as ons net altyd moet strewe

Na wat tot oorwinning gaan lei,

Wat baat dan die stryd van die lewe

Waarin ons onseker moet bly?

Solank jou bedoelings maar goed is,

Gaan jy jou oor neerlae kwel?

Solank jy volhard en vol moed is -

Dis tog die probeerslag wat tel!

Nee, soet is die stryd vir die stryer,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

Is die man wat sy nasie vermoor.



* Die La Rochelle-geloftefeesterrein is ongeveer 50km anderkant Carolina op die Amsterdampad geleë. Geloftefeeste word reeds sedert 1914 daar gehou. Vroeër jare het mense reeds op die 15de Desember daar aangekom, braaivleis en Boeresport gehou alvorens die Gelofte op 16 Desember afgelê is. Die Geloftediens en -toespraak vind in 'n holkrans plaas waarin Boesmantekeninge te siene is, asook 'n granietsteen wat in die wand ingemessel is met die datum "1938" en die inskripsie: "Om in 2038 geopen te word."

Oorsprong:Praag
http://www.praag.co.za/dan-roodt-magazine-178/6776-was-dingaan-die-eerste-transformeerder.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.