Sunday, 31 January 2010

Kapers val man aan; los hom vir dood

Mnr Thys Diedericks van Polokwane wat tydens 'n kaping erg aangerand is.

2010-01-29 10:14

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – “Ons haal steeds grond en sand uit my pa se ore en onder sy naels uit.”

So het me. Mariëtte Diedericks gister gesê ná die aanval Dinsdagnag op haar pa, Thys (52), eienaar van Limpopo Trekkers.

Diedericks moes bebloed deur die veld kruip nadat kapers hom erg aangerand en naby Mankweng, sowat 30km van die stad, gelos het. Hy was sowat drie uur lank bewusteloos voordat hy in die veld wakker geword het van ’n harde reënbui. Hy het onder meer ’n skedelfraktuur en erge gesigbeserings opgedoen.

Me. Diedericks het gesê albei haar pa se enkels is verstuit en bene in sy hande is gebreek. Sy regteroor is byna afgeskeur.

Volgens haar het hulle Dinsdag omstreeks 20:00 begin bekommerd raak toe hy nie tuiskom of een van sy drie selfone beantwoord nie. Hy is as vermis by die Polokwane-polisie aangemeld.

Diedericks het Dinsdag in die Louis Trichardt-gebied gewerk. Hy het omstreeks 18:00 by The Crossing-winkelsentrum, langs die R71, verbygery. Hy wou daar inry om iets te ete te kry.

“My pa sê hy was in sy bakkie in die verkeer toe hy oorval is.”

Vier kapers het hom agterop sy Isuzu King Cab gegooi. Hulle het op die R71 na Tzaneen gery.

Volgens me. Diedericks het hulle haar pa in ’n stuk veld naby Mankweng afgelaai. Hy is daar onder meer met knuppels en ’n knopkierie geslaan.

Die kapers het sy selfone, gereedskap, die bakkie, bankkaarte en geld gesteel. ’n Bedrag is ook kort voor middernag by ’n kitsbank in Mankweng uit sy bankrekening onttrek.

Nadat hy sy bewussyn herwin het, het hy tot by ’n grondpad gekruip.

Hy is eergister omstreeks 09:00 in die Mankweng-hospitaal opgespoor en in die Limpopo Medi-Clinic in die stad opgeneem.

Niemand is nog weens die kaping en aanval gearresteer nie. Sy bakkie (registrasienommer BPY 056 L) is nog soek.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/26d106e84b874c5598c05a6555b93104/29-01-2010-10-14/Kapers_val_man_aan_los_hom_vir_dood

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.