Sunday, 10 January 2010

'Ons sal terugveg'

2010-01-04 04:14

Susan Cilliers

Dit was vir hom erg om die lyk van die rower te sien wat hy doodgeskiet het, maar die boodskap móét deurkom: Ons sal terugbaklei.

So sê ’n Oos-Rander wat gisteroggend vroeg ’n aanvaller in sy buurman se huis doodgeskiet het.

“Dis erg om iemand in die oë te kyk, dan die lyk te sien en te besef jý het hom geskiet, of hy dit nou verdien het of nie,” het mnr. Louis Venter, ’n sakeman, gistermiddag in sy sitkamer in Negende Straat, Alberton, vertel.

“Mense moet weet ons ís bereid om vir onsself te veg.

“Ek het geen keuse gehad (as om te skiet) nie.”

Die drama het gisteroggend omstreeks 01:00 begin toe drie huisrowers mnr. Deon Holtzhausen se huis binnegestorm het.

Hy, sy vrou, Cecilia, en nog ’n egpaar het daar gekuier.

Holtzhausen, ’n bankbestuurder, het die gesin se honde by die agterdeur laat uitgaan.

“Toe ek die deur later wou toemaak, het die rowers daar gestaan. Een het ’n rewolwer op my gerig. Die ander twee het onderskeidelik ’n skroewedraaier en ’n mes in die hand gehad. Ek het gesê hulle moet alles vat.”

Holtzhausen het R3 000 uit die kluis aan die rowers gegee.

Die Holtzhausens se dogter het intussen wakker geword.

“Ek het my kamerdeur op ’n skrefie oopgemaak en die rowers en my pa se vasgebinde hande gesien,” het sy gister vertel.

Sy het Venter se seun, Dewald (17), met haar selfoon gebel en gesê daar is rowers in hul huis.

Die meisie het haar hokkiestok gegryp en haar kamerdeur probeer toedruk, maar die rowers het die deur oopgedwing.

Hulle het haar saam met die vasgebinde vier volwassenes op die kombuisvloer laat lê.

Holtzhausen het gister gesê die rowers het die R3 000 “soos kaarte” onder mekaar verdeel, kos uit die yskas geneem en sy motorsleutel gevra.

Dewald het sy pa ná die oproep wakker gemaak. Pa en seun het toe oor die muur tussen hulle en die Holtzhausens se huis gespring.

Hulle het deur die vensters gesien hoe die rowers in die Holtzhausens se kaste krap.

Venter het Dewald aangesê om die polisie te bel.

“Die vrouestemme binne die huis het toe ál hoe benouder geklink. Ek is by die agterdeur in toe al drie rowers na my hardloop. Die een met die rewolwer was voor.

“Ek het geskree hulle moet hul wapens laat val.

“Hulle het omgedraai en weggehardloop, maar toe die gewapende rower verby die gyselaars in die kombuis hol, het dit gelyk of hy na hulle mik. Ek het geskiet. Hy het geval en ek het oor hom gehardloop.”

Die skoot het die rower in die kop getref. “Die ander twee het agter ’n spieëlkas probeer wegkruip,” het Holtzhausen gesê.

Die polisie het opgedaag en dié twee in hegtenis geneem.

Hulle verskyn vandag in die Germiston-landdroshof op klagte van huisroof, het kapt. Steady Nawa, polisiewoordvoerder, gesê.

Hy het gesê ’n moorddossier oor die voorval sal aangelê word.

“Dis ’n formaliteit.”

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/81b2ef04ae9c47ff9060d1147e0d4175/04-01-2010-04-14/Ons_sal_terugveg

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.