Tuesday, 12 January 2010

Vrou (83) vermoor, verbrand – vir niks

Mnr. Ryan Botha (26) wys na van die talle godsdienstige boodskappe wat sy ouma, tannie Kitty Botha (83), op haar mure geplak en gehang het. Foto’s: cornél van heerden

2010-01-11 23:59

Virginia Keppler

’n Bejaarde vrou van Lyttelton, Pretoria, is in haar huis oorval, vasgebind, gewurg en doodgeslaan voordat haar aanvallers haar huis aan die brand gesteek het – vir niks.

Mev. Kitty Botha (83), of tannie Kitty, soos sy bekend was, se hande was vasgebind en ’n lap in haar mond gedruk.

Mnr. Ryan Botha (26), haar kleinseun, het gesê luidens die lykskouersverslag is sy ouma dood aan kopwonde. “Daar was ook merke aan haar gesig. Haar lyk is in haar huis in Selbornelaan in die gang voor die kamer waar die brand begin is, gekry. Sy was gedeeltelik verbrand.”

Tannie Kitty se worshond, Moomoo, het vermoedelik tydens die aanval Vrydagaand onder die sitkamerbank gaan wegkruip waar hy in die rook versmoor het.

“Dit is die derde keer dat daar by my ouma se huis ingebreek is, maar die eerste keer dat sy aangeval is.”

Mnr. Botha, wat enkele ure voor die moord saam met sy ouma gekuier het, het gesê die aanvallers het waarskynlik tussen 19:00 en 21:30 toegeslaan, want sy het net voor 19:00 met haar dogter, me. Elna Botha, oor die foon gepraat.

Die aanvallers het die hele huis geplunder. “Elke laai en kas was uitgegooi. Hulle het ook die kluis waarin my ouma se wapens was, probeer oopmaak, maar kon nie. Hulle het daarna die kamer langs my ouma se slaapkamer aan die brand gesteek en gevlug.”

Volgens hom is niks gesteel nie.

Mnr. Botha het gesê die bure het ’n slag gehoor toe ’n ruit weens die hitte gebars het. Hulle het ondersoek gaan instel.

“Die bure het die brand met hul tuinslange probeer blus. ’n Polisieman wat by die huis verby gery het, het in die huis probeer ingaan om my ouma te soek, maar die vlamme en rook was te oorweldigend.”

Kort daarna het die brandweer opgedaag en die brand geblus voordat dit dwarsdeur die huis versprei het.

Mnr. Botha het gesê sy ouma was waarskynlik een van die oudste inwoners van Lyttelton. “Sy het 55 jaar in die huis gebly. Die grootste deel van die laaste 27 jaar, ná die dood van my oupa (mnr. Johan Botha), het sy alleen gewoon.

“My ouma was ’n merkwaardige vrou. Sy was baie gelowig en het net liefde uitgedeel.”

Bybelverse en boodskappe van liefde en vrede wat oral op die huis se mure geplak is, getuig van tannie Kitty se geloof.

“Sy was ’n sterk mens, maar het nie twak gevat nie en ek glo sy het haar aanvallers berispe. Ek hoop hulle het die boodskappe op die mure gelees en dat dit hulle sal pla en tot bekering sal bring.”

Mnr. Botha het gesê hy is nie bitter oor wat gebeur het nie. “As ek die Here nie geken het nie, sou ek ’n wrok gehad het.”

Sers. Lynnette Erasmus, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie kon geen teken van inbraak vind nie.

’n Klag van moord en brandstigting word ondersoek.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/0a428a52cdeb46ea9ea17a87f26027f3/11-01-2010-11-59/Vrou_(83)_vermoor,_verbrand_%E2%80%93_vir_niks

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.