Sunday, 14 February 2010

Eersterust-man spring dood vry toe hy 3 rowers pak

2010-02-12 01:59

Virginia Keppler

’n Man van Eersterust in die ooste van Pretoria het ’n skietdood net-net vrygespring kort nadat hy drie rowers met sy kaal hande by sy tuinwoonstel uitgefoeter het.

Mnr. Weylon Moses se nekhare en sy linkeroor is liggies geskroei waar ’n koeël, wat deur ’n vierde rower afgevuur is, hom rakelings gemis het.

Hy en me. Susan Rosenberg, sy verloofde, was omstreeks 02:30 in hul tuinwoonstel in Staticelaan aan die slaap toe drie rowers hul voordeur en venster oopgebreek het om toegang te verkry.

“Toe ek wakker skrik het twee mans in die kamer gestaan en in gebaretaal met mekaar gepraat. Ek het gedink ek droom en het my oë ’n paar keer uitgevee.

“Toe spring ek op, gryp die twee en begin hulle te slaan. Ek was so bang hulle verkrag Susan of doen iets leliks aan haar.”

In dié stadium het die rowers toe reeds die paartjie se selfone onder Rosenberg se kussing gesteel. Moses het die tweede rower tot in die sitkamer geslaan waar ’n derde rower bygekom het. Hy het daarin geslaag om al drie by die voordeur uit te slaan.

“Die ander twee het weggehardloop, maar ek het die derde een vasgegryp. Ek het hom gevra wat hy daar soek en het hom al hoe harder geslaan, want ek wou hê hy moes skreeu, maar hy het net met sy hande gekeer.”

Rosenberg het gesê terwyl Moses die rowers geslaan het, het ’n vierde rower nader gekom.

“Ek het vir Weylon geskreeu en die oomblik toe hy vir my kyk het ’n skoot afgegaan.”

“Op daardie oomblik het ek skielik ’n vuurwapen teen my kop en toe teen my nek gevoel en toe ek opkyk na waar Susan was, het hy my geskiet,” het Moses vertel.

Dit is die tweede keer dat daar by die paartjie ingebreek is. ’n Paar maande gelede het diewe hul klere deur hul slaapkamervenster gesteel.

Dit is die tweede gewapende rooftog in Eersterust dié week. Maandagoggend is mnr. Marzine Paulse (34) in sy bed in die bors geskiet toe hy wou keer dat rowers sy seun (3) skiet.

Supt. Karel Swanepoel, Eersterust-polisiekantoor se bevelvoerder, het gesê die Mamelodi-trio-taakspan ondersoek die voorval.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/c13db229b72740049d6997665fd12821/12-02-2010-01-59/Eersterust-man_spring_dood_vry_toe_hy_3_rowers_pak

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.