Tuesday, 23 February 2010

Hy hoor eers gille, toe ’n skoot

2010-02-23 01:13

Wolfram Zweckler

‘Ek het net gehoor hoe skree Brendan: ‘Get off me, get off me’, en toe klap die skoot.”

So het mnr. Garth O’Friel van Alberton gister vertel nadat rowers gister omstreeks 06:00 by sy huis in New Redruth ingebreek en sowel sy 16-jarige seun (Brendan) as sy verloofde in die bors geskiet het.

“Ek het net sy gille uit sy kamer gehoor en toe hoor ek die skoot. Toe ek in die gang afhardloop, het een van hulle (die rowers) op my geskiet, maar dit was mis. Voordat ek die deur van ons slaapkamer weer kon toekry, het een van die skote my verloofde in die bors getref.

“Die rowers het daarna gevlug,” het O’Friel vertel.

Hulle het die noodknoppie gedruk.

Die veiligheidsmaatskappy en die polisie was kort ná mekaar by die huis.

O’Friel is intussen weer na sy seun se kamer waar hy in sy bed gelê het.

“Jy hoop en bid maar die kind gaan lewe. Jy dink aan so baie goed. Ek het hom in die kar gelaai en na die Unie-hospitaal (in Alberton) gejaag. Dis gelukkig net ’n paar straatblokke ver.”

Me. Bernadine le Roux (30), O’Friel se verloofde, is per ambulans na die hospitaal geneem.

Sy en Brendan het noodoperasies ondergaan en albei word in die waakeenheid behandel.

“Brendan is ernstig, maar buite gevaar en steeds onder verdowing. Bernadine is onder die omstandighede orraait,” het O’Friel gesê.

Volgens van die bure en lede van die buurtwag het die twee rowers in ’n wit Opel Monza gevlug. Al wat gesteel is, is die gesin se platskerm-TV.

Kapt. Makana Rahulu, polisiewoordvoerder, het bevestig dat hulle nog na die twee rowers soek.

In nog ’n skietvoorval is ’n veiligheidswag van Builders Warehouse in Boksburg eergisteroggend omstreeks 10:00 in die been geskiet toe transitorowers toegeslaan het terwyl die Coin-veiligheidsmaatskappy geld kom haal het. Niemand anders is in die rooftog beseer nie, het kapt. Mack Mngomezulu, polisiewoordvoerder, gister gesê.

- Beeld

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/8ea41b5f2676415593f8a450a3923350/23-02-2010-01-13/Hy_hoor_eers_gille,_toe_%E2%80%99n_skoot

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.