Monday, 8 March 2010

Agt oorval boer, gesin op plaas

Me. Lorika Griessel, ambulans-assistent van Netcare 911, behandel MNR. KERNEELS CRONJÉ, boer van die plaas Doornlaagte buite Welkom, nadat hy op sy plaas oorval en aangerand is. Foto: Tom de Wet

2010-02-25 12:47

Tom de Wet

Welkom. – ’n Boer is in ’n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy, sy vrou, dogter en ’n plaaswerker deur agt gewapende mans oorval en beroof is.

Mnr. Kerneels Cronjé (83) het veelvuldige beserings aan sy gesig en kop opgedoen toe hy by ’n beeskraal op die plaas met ’n stomp voorwerp, vermoedelik ’n ysterpyp, aangerand is.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê agt mans met ’n geel Isuzu-bakkie het gister omstreeks 12:00 op die plaas Doornlaagte, 5 km buite Welkom, aangekom en voorgegee hulle wil beeste koop.

Cronjé en een van die plaaswerkers, mnr. David Mei (30), is saam met die mans na die kraal langs die plaashuis. Daar is die twee oorval, aangerand en vasgemaak.

Hulle is by die beeskraal gelaat terwyl die aanvallers na die huis is waar mev. Anna Cronjé (85) en haar dogter, Petro (53), oorval, aangerand en vasgebind is.

Van die rowers is toe terug na die kraal om Cronjé te gaan haal.

Terwyl Mei alleen was, het hy hom losgewoel en na ’n buurplaas gehardloop van waar die polisie ontbied is.

Die rowers, wat met drie handwapens gewapen was, het intussen ’n sleutel van die brandkluis in die huis gekry en twee pistole en ’n bedrag geld uit die Cronjés se kluis gebuit.

Hulle het daarna in hul bakkie weggejaag.

By die polisie se aankoms kort daarna is die vasgebinde vroue in die eetkamer gekry en losgemaak.

Die erg beseerde mnr. Cronjé is in ’n ander kamer gekry.

Mev. Cronjé is vir waarneming saam met haar man per ambulans na ’n hospitaal in Welkom gebring.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/ab43da84b5ce43cb9f028e08dc117364/25-02-2010-12-47/Agt_oorval_boer,_gesin_op_plaas

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.