Thursday, 18 March 2010

Boer vir 48 uur in selle nadat hy aanvaller ontwapen

2010-03-16 23:30

Charles Smith

’n Boer van Kroonstad wat ’n plaasaanvaller ontwapen het wat hom met ’n mes aangeval het, is gister summier deur die polisie vir 48 uur toegesluit omdat die aanvaller gaan kla het.

Mnr. Chris Grobler (23) se ouers het teen laat gister alles probeer om hom voor donker uit die polisieselle in Koppies vry te laat.

Mnr. Christo Grobler het gesê drie prokureurs het hul bes gedoen om sy seun vrygelaat te kry.

Toe was die polisiebeampte met die dossier soek en daar was kwansuis géén inskrywing in die voorvalleboek dat die polisie hul plaas Saterdag besoek het nie.

Sy vrou, Alta, het toe van hul plaaswerkers gaan haal om verklarings by die Heuningspruit-polisiekantoor af te lê dat hulle - dié einste polisiebeamptes - wél Saterdag op hul plaas was.

Chris het die polisie Saterdag laat kom toe ’n gewese plaaswerker wat ses maande gelede afgedank is nadat hy motorbatterye gesteel het, moles op die plaas Labri gemaak het.

Die polisie het die man toe verwyder. Sondagaand was die man terug - dié keer erg aangeklam.

Toe Chris hom wegwys, het hy ’n mes uitgepluk en na Chris gesteek. Dié het die mes afgevat en die aanvaller het hard met Moeder Aarde kennis gemaak, het Grobler sr. gesê.

Die polisie is weer gebel, maar hulle het nooit uitgekom nie.

Die aanvaller se arm is glo beseer en hy het by die polisie gaan kla.

Maandag het twee konstabels by die plaas opgedaag.

“My vrou wou weet hoekom hulle nie Sondag opgedaag het nie. Een konstabel het vir haar gesê sy moet haar nie ‘wit hou’ nie. Die bevelvoerder van die Heuningspruit-polisiekantoor het vir my gesê as Chris stilgestaan het dat hy raakgesteek is, was die aanvaller in die selle en nie hy (Chris) nie.”

Chris is gevra om gister ’n verklaring by die polisiekantoor te gaan aflê. Hy is kort daarna gearresteer.

Grobler sr. se vrou en Chris se lewensmaat, Angelique, en hul baba van ses maande, Chris, is alleen op die plaas.

“My vrou het die landdros in Koppies gaan sien, die deur toegetrek en sy hulp gevra omdat hulle vrou-alleen op die plaas is.

Hy het gesê sy hande is afgekap.

“Ons probeer alles in ons vermoë. Ek weet nie wat in die land aangaan nie.”

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/7dcc4d805165441e96688fb899260882/16-03-2010-11-30/Boer_vir_48_uur_in_selle__nadat_hy_aanvaller_ontwapen

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.