Monday, 15 March 2010

Hoor die boere se noodkreet, pres. Zuma

2010-03-02 23:34

Toe oudpres. Thabo Mbeki ’n paar jaar gelede eensydig die kommandostelsel afgeskaf en die weermag aan die landsgrense onttrek het, is hy gewaarsku dit sou lei tot ’n vakuum op die platteland wat die veiligheid van die landbougemeenskap in die gedrang sou bring.

Dit is presies wat toe gebeur het.

Daar gaan deesdae kwalik ’n dag verby sonder dat Beeld berig oor ’n plaasmoord of plaasaanvalle.
Vir die boere is dit niks anders nie as ’n oorlog in die kleine.

Om dié rede eis boere en landbouleiers nou dat die kommandostelsel – wat meer as 100 jaar lank baie doeltreffend was – teruggebring word. Die polisie het net eenvoudig nie die mannekrag om die uitgestrekte plattelandse gebiede behoorlik te patrolleer nie – met of sonder reserviste.

Mbeki het destyds die kommandostelsel – waarvan die meerderheid lede swart was – afgeskaf en die soldate aan die grensgebiede onttrek sonder om die belanghebbende partye, die weermag, die polisie en die landelike gemeenskappe, daarin te ken.
Dit was ’n politieke besluit – een waarvoor die landelike gemeenskappe nou die prys betaal en pres. Jacob Zuma se regering ’n oplossing moet vind.

Die stelsel van sogenaamde sektorpolisiëring wat ingestel is om die kommandostelsel te vervang, is ’n goeie idee, maar is nie oral suksesvol nie.

Landelike ontwikkeling is hoog op die Zuma-regering se prioriteitslys, maar is gedoem as die platteland in oorlogsones verander en nie veilig is nie. Voedselsekerheid is in dié omstandighede ook in sy peetjie in.
Zuma hoef net in Zimbabwe te gaan kyk wat gebeur as landelike gebiede onstabiel word.

Zuma het al gewys sy administrasie huiwer nie om goed terug te bring wat voorheen gewerk het en sommer net verander is ter wille van verandering nie. Hy en die betrokke ministers kan gerus ernstige oorweging skenk aan die versoek dat die kommando’s teruggebring word.

Soos gesê, die huidige stelsel slaag nie eens naastenby daarin om landelike veiligheid te verseker nie.
Die boere het ’n noodkreet laat hoor en die regering het ’n plig om ag te slaan daarop.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Opinie/HoofArtikels/1964/999a4313cb834879b4af3f00857378c1/02-03-2010-11-34/Hoor_die_boere_se_noodkreet,_pres_Zuma

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.