Thursday, 18 March 2010

Koekblik verbind man glo met moord

Mev. Christelle Botha (regs) en haar dogter, Odelia (15), gister buite die hooggeregshof in Pretoria.Foto: Craig Nieuwenhuizen

2010-03-17 22:40

Jeanne-Marié Versluis

Duimafdrukke op ’n koekblik verbind n Mosambiekse man glo met die toneel waarop ’n boer van Brits in 2008 in sy huis doodgeskiet is.

Dié beskuldigde, mnr. Thomas Chauke (32), en ’n medebeskuldigde, mnr. Zondi Nkuna (29), het gister in die hooggeregshof in Pretoria ontken dat hulle mnr. Daniel Johannes Brink Botha van Mamogalieskraal in die Brits-distrik op 3 November 2008 vermoor het.

Botha is volgens die lykskouingverslag aan ’n skietwond in sy bors dood.

Die beskuldigdes, wat albei in Soshanguve gewoon het voor hul arrestasie, het ook skuld ontken op aanklagte van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede; die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie en dieremishandeling.

Hulle het glo ’n boerboel van die Botha-gesin vergiftig en toegang tot die huis gekry deur ’n groot ruit te breek.

Botha se weduwee, mev. Christelle Botha, is ’n boerboelteler en woon steeds op die plaas. Sy is ’n getuie vir die staat in die verhoor.

Die staat het gister foto’s van die toneel by die hof ingedien.

Insp. Happy Mosweu, vingerafdrukdeskundige en fotograaf van die Brits-polisie, het getuig van dié foto’s toon stukkies hoendervleis wat op die werf gekry is wat vermoedelik korrels van die landbougifstof aldikarb (“Two Step”) bevat.

Mosweu het getuig identifiseerbare linkerduimafdrukke is gekry aan die onderkant van die Bakers-koekblik, wat op ’n tafel gestaan het.

Dié linkerduimafdrukke het ooreengekom met Chauke se linkerduimafdruk wat in die polisie se databank van vingerafdrukke geregistreer was.

Regter Peter Mabuse wou gister weet waarom ’n Shona-tolk vir Chauke in die hof verkry moes word.

Adv. J.P. Marais, aanklaer, het geantwoord volgens inligting aan die polisie is Chauke in Mosambiek gebore en woon hy in Soshanguve.

Chauke het gesê hy het sedert Maandag nie antiretrovirale medisyne in die tronk gekry nie. Toe Mabuse hom gister gevra het of hy ’n pleitverduideliking wil aflê, het Chauke deur sy tolk geantwoord hy wil nie toe iets sê nie.

“Ek voel nie goed nie. Ek het ’n hoofpyn en is duiselig.”

Nkuna het in sy pleitverduideliking gesê hy is op 2 November 2008 van sy werk na sy meisie se huis. Hy het die nag daar gebly en haar huis die oggend van 3 November verlaat.

Volgens Nkuna was hy nie op die toneel nie.

Die staat beweer die beskuldigdes het die Bothas beroof van drie selfone, R200 en ’n Corsa-bakkie.

Luidens die akte van beskuldiging het die beskuldigdes in die vroeë oggendure van 3 November die Botha-egpaar se slaapkamervenster gebreek en daar ingekom.

’n Stoeiery het tussen mnr. Botha en die inbrekers ontstaan en Botha is doodgeskiet.

Mev. Botha het na ’n ander kamer gevlug waar sy en haar dogter, Odelia, vasgebind is.

Die mans het glo toe geld en die bakkiesleutels geëis en met die bakkie gevlug.

Die verhoor duur voort.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/10aa0f1cbdda430da52851c79bfed64e/17-03-2010-10-40/Koekblik_verbind_man_glo_met_moord

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.