Tuesday, 23 March 2010

Moord op bejaarde skok

2010-03-22 01:16

Frans Coetzee

JAN KEMPDORP. – Die gemeenskap hier is verbyster oor die wrede moord op ’n bekende en bejaarde eienaar van ’n luukse woonstelkompleks die naweek op dié dorp.

Twee minderjarige seuns van Riebeeckstad in die Vrystaat is binne enkele ure in verband met die moord in hegtenis geneem.

Die geliefde ouma se lyk is Saterdag omstreeks 09:00 deur haar geskokte suster en ’n bejaarde man in die hoofhuis van die kompleks aangetref.

Mev. Joey Lubbe (75) van Andalusiahof 18, op die hoek van D.F. Malanrylaan en Skoolstraat, is na bewering noodlottig met ’n skerp voorwerp gewond.

Konst. Andrea Cloete van die polisie sê ’n 15-jarige seun van Riebeeckstad is Saterdagmiddag in verband met die moord op Jan Kempdorp in hegtenis geneem.

Sy vermeende 17-jarige medepligtige is dieselfde aand omstreeks 00:00 in Riebeeckstad aangekeer.

Die twee seuns het na bewering Vrydag van Riebeeckstad na Jan Kempdorp geryloop waar die misdaad gepleeg is.

Die verdagtes verskyn môre in die landdroshof op die dorp.

Die motief vir die moord is onbekend.

Mnr. Willem Lubbe van Bull Hill buite die dorp, oudste seun van wyle mev. Lubbe, sê sy ma se suster, mev. Ann Roux, het Saterdagoggend bekommerd geraak. Roux woon in ’n woonstel in die kompleks.

Roux en ’n bejaarde nutsman het na mev. Lubbe se huis gegaan. Die nutsman het oor ’n duiwelsvurkheining geklouter. Hulle het die oorledene in die huis aangetref.

Lubbe sê die verskriklike dood van sy ma is onbeskryflik.

Sy was ’n baie geliefde inwoner van Jan Kempdorp.

Haar man, Frans, was jare lank ’n boukontrakteur en boer in die omgewing. Hy is vier jaar gelede oorlede.

Wyle mev. Lubbe word oorleef deur Willem, Tinus van Hermanus, Amadia van Welkom en Francois, ’n boer van Wolmaransstad, kleinkinders en agterkleinkinders.

Begrafnisreëlings moet nog getref word.

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/4040346858ae4e65a5a50a0708e4c289/22-03-2010-01-16/Moord_op_bejaarde_skok

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.