Tuesday, 30 March 2010

Mugabe gaan Julius touwys maak

2010-03-29 21:45

Cobus Coetzee

Mnr. Julius Malema, ANC-jeugliga-leier, is op pad na Zimbabwe om onder meer te gaan kyk hoe nasionalisering daar werk.

Luidens ’n verklaring wat die jeugliga gister uitgereik het, gaan hy en ’n afvaardiging van nog agt jeugliga-lede met pres. Robert Mugabe vergader en jeugdiges van sy Zanu PF-party ontmoet.

Malema en sy gevolg sal op Goeie Vrydag na die buurland vertrek en beoog om Maandag, op Gesinsdag, na Suid-Afrika terug te keer.

Die ANC-jeugliga wil later vanjaar ook na China, Chili, Venezuela, Brasilië en Kuba toer om dié lande se “suksesse en mislukkings” in nasionalisering te ondersoek.

Malema en die jeugliga eis sedert einde verlede jaar Suid-Afrika se myne moet genasionaliseer word.

Die besoek kom te midde van struwelinge tussen Zimbabwe se parlementslede en die land se minister van mynbou, mnr. Obert Mpofu, asook ander ministers van Mugabe se party, oor ’n ondersoek na die diamantmyn buite Chiadzwa in die Marange-
distrik van die Manicaland-provinsie.

Me. Venitia Govender, ’n koördineerder van die Zimbabwe Blood Diamond-veldtog wat uit talle nie-regeringsorganisasies (NRO’s) bestaan, glo daar is bewyse van menseregtevergrype deur die Zimbabwiese weermag en smokkelhandel in ongeslypte diamante.

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/d54bf7288fef4c9ab181f6e61d6b085a/29-03-2010-09-45/Mugabe_gaan_Julius_touwys_maak

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.