Thursday, 18 March 2010

Nasionalisering van grond: ‘Ontkenning onder verdenking’

2010-03-16 23:30

Sarel van der Walt

Dit verbaas hom dat nóg pres. Jacob Zuma nóg enige van sy ministers standpunt ingeneem het oor die moontlike nasionalisering van produktiewe landbougrond, het mnr. Ben Marais, president van die landbou-organisasie TLU SA, gister gesê.

Volgens Marais het TLU SA kennis geneem van mnr. Thozi Gwanya, direkteur-generaal van landelike ontwikkeling en grondhervorming, se versekering eergister aan ’n afvaardiging van Agri SA dat geen nasionalisering beplan word nie.

“Maar hy (Gwanya) is slegs ’n amptenaar wat beleid uitvoer, en ons sal graag van die beleidmakers ’n standpunt hieroor wou hoor.

“Bowendien was dit juis die direkteur-generaal wat die nuwe konsep aan die (parlementêre) portefeuljekomitee verduidelik het, en dit bring sy skielike ontkenning van die moontlike nasionalisering onder verdenking.”

Marais het voorts gesê só ’n nasionaliseringsprogram sal neerkom op ’n “meer beskaafde Zimbabwe-model”.

“Waar praatjies van ‘skiet die Boere, want hulle is verkragters’ beslis ’n invloed het op plaasaanvalle, sal die nasionalisering van landbougrond, ongeag of alle landbougrond of net 10% van die landbougrond genasionaliseer word, die persepsie skep by dieselfde ongebreidelde massa dat die grond ‘aan ons behoort’, en dit sal lei tot brute plaasbesettings op die Zimbabwe-wyse,” het Marais gesê.

Dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van landbou en VF+- leier, het gisteraand aan die Malmesbury-landbouvereniging gesê as ’n voorstel vir die nasionalisering van produktiewe landbougrond regeringsbeleid sou word, “sal dit teen die Grondwet wees, sal dit alle beleggers in Suid-Afrika permanent afskrik en sal dit groot onsekerheid op die platteland veroorsaak, wat weer voedselsekerheid sal vernietig”.

“Onsekerheid is die belangrikste rede waarom kommersiële plattelandse boere nie tans hul boerderye uitbrei of meer werkgeleenthede skep nie.”

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/fc8a4caab16842a8bf12e6dd083e8cc9/16-03-2010-11-30/Nasionalisering_van_grond__%E2%80%98Ontkenning_onder_verdenking%E2%80%99

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.