Monday, 15 March 2010

Stortvloed klagtes teen Malema

2010-03-10 12:23

ANC-jeugligaleier, mnr. Julius Malema, word deur 'n stortvloed klagtes in die gesig gestaar nadat hy 'n rassistiese uitbarsting voor 'n studentegehoor gehad het.

Malema het studente van die Universiteit van Johannesburg onder meer aangehits om "Kill the boer" te sing.

Die Vryheidsfront+-leier en adjmin. van landbou, dr. Pieter Mulder, beplan om 'n klag van haatspraak teen Malema in te dien.

"Spraakvryheid sluit nie in dat haat op grond van ras, geslag of geloof aangeblaas kan word nie..."

Volgens die Sowetan het Malema onder meer gesê: Skiet die boere, hulle is verkragters".

Oud-pres. Nelson Mandela het vergifnis bepleit, maar swart mense moet nooit vergeet wat met hulle gebeur het nie, het Malema volgens die koerant gesê.

Malema het glo ook die Kaapse premier, me. Helen Zille, daarvan beskuldig dat sy 'n satanis is en kerke in die Wes-Kaap afbreek.

Oor me. Patricia de Lille sou hy glo onder meer gesê het dat geen normale man met haar sou trou nie.

Malema het glo ook gesê dat rykdom van "mnr. Nicky Oppenheimer se familie gevat moet word om aan die mense van Suid-Afrika te gee".

Mnr. Ernst Roets van Afriforum-jeug het gesê sy organisasie gaan 'n klag by die Gelykheidshof indien. Dit is nie die eerste keer wat Malema die Peter Mokaba-lied gesing het nie. Hy het dit verlede week in Polokwane by sy verjaardagvieringe gesing - dis 'n provinsie waarin ses boere die aflgelope maand vermoor is, het Roets gesê.

"Julius Malema is 'n verleentheid vir nie net die jeug nie, maar ook vir die hele land."

Die Afrikanerbond het 'n klag by die Menseregtekommissie ingedien.

ANC-woordvoerder, mnr. Ishmael Mnisi, het vroeër gesê die party sal met Malema praat oor sy uitlatings, maar later gese die ANC het nog nie besluit of hulle met hom daaroor gaan praat nie. - Sapa

Oorsprong:Beeld
http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/f986ac73dcc6451cb07eb291b0336ea9/10-03-2010-12-23/Stortvloed_klagtes_teen_Malema

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.