Thursday, 18 March 2010

Te kwaad om te vergewe, getuig seun

2010-03-17 00:53

Mike van Rooyen

“EK het dit met my Skepper opgeneem. As dit die wil van God is om hom te vergewe, laat dit so wees. Ek is egter nog heeltemal te kwaad en te seer om dit te doen,” het supt. Leon Potgieter gister in die Vrystaatse hooggeregshof getuig oor die man wat sy pa, André (72), op sy Waterbron-hoewe by Bloemfontein vermoor het.

’n Emosionele Potgieter van die polisie in Welkom het ter strafverswaring getuig mnr. Joseph Lechuti (38) het sy pa, wat ook sy vriend en ’n goeie man was, vir geen rede nie, “weggevat”.

Lechuti is deur regter A. Kruger tot altesaam 35 jaar tronkstraf gevonnis omdat hy op 13 Junie verlede jaar by mnr. Potgieter ingebreek, hom beroof en vermoor het.

Hy moet 25 jaar van die vonnis uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kan kom, het regter Kruger gelas.

Potgieter het getuig as hy sy hande op Lechuti kan lê, “dink ek, sal hy baie anders as nou lyk”.

“My pa is soos ’n insek doodgemaak deur iemand wat hy nie geken het nie en vir wie hy niks aangedoen het nie.”

Hy het oor sy skrywer- en joernalis-pa getuig dat hy ’n liewe mens was wat uit sy pad vir sy medemens sou gaan.

Hy was ’n saggeaarde mens wat goeie verhoudings met almal, ook die werkers op die hoewe, gehandhaaf het.

Hy was nog baie aktief en het nog al sy huiswerk self gedoen en sy hoewe bestuur. Alles is pynlik netjies gehou. Hy was ook ’n kranige musikant, fotograaf, het nog vryskutjoernalistiek gedoen en het sy vloot voertuie onderhou.

“Hy het nie ’n oomblik stil gesit nie.”

Potgieter het getuig die wyse waarop sy pa vermoor is, was vir hom ’n groot skok wat hy nou nog nie kan verwerk nie.

Sy gesondheid ly daaronder. Hy kry behandeling en sukkel om woedebeheer toe te pas. “Ek kry woede en aggressie wat dit vir die mense om my moeilik maak.”

Dit was nie nodig om hom dood te maak om sy goed te steel nie. Hulle kon hom net in sy kamer toegesluit het en alles wat hulle wou hê dan uitdra.

Adv. Sophie Giorgi, namens die staat, het betoog die gemeenskap is siek en sat vir hierdie soort misdade, veral teenoor bejaardes. “Dit skreeu ten hemele dat hy op só ’n barbaarse wyse doodgeslaan is.”

- Volksblad

Oorsprong:Volksblad
http://www.volksblad.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/2114/204b48133d114b8ca2f77e82a0760d4f/17-03-2010-12-53/Te_kwaad_om_te_vergewe,_getuig_seun

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.